Kairos Netwerk Nuusbrief – 1 Apr 2022

Inhoud

  1. Artikel 37 by Vrystaat en Namibië
  2. Familiebyeenkoms
  3. Teologiese opleiding

1. ‘ARTIKEL 37’ BESLUITE BY VRYSTAAT EN NAMIBIË SINODES – ‘Kat in die duiwehok?’

Hierdie skrywe is ds Pieter Prinsloo (Kroonstad-Wes), wat self ‘n afgevaardigde by die Vrystaat Sinode was asook voorsitter van die STALS verslag, se persoonlike opinie. Die doel daarvan is om gedagtes te stimuleer waaroor daar verder gesels kan word binne ons NG Kerk Reformerende familie.

Die Namibiese en Vrystaatse Sinodes het onlangs besluite geneem wat ingrypende implikasies het vir die toekoms van die NGK. Dit kan as volg saamgevat word:

NAMIBIESE SINODE:

Die Namibiese Sinode het met ‘n groot meerderheid besluit dat die afgelope twee dekades se groeiende skaakspel (vasgelopendheid) in die NGK tot ‘n einde moet kom. Indien die Algemene Sinode (AS) nie bereid is om terug te keer tot ‘n Skrifverstaan wat uitdrukking gee aan die Skrifgetroue Belydenis en Kerkorde van die NGK nie, sal die Namibiese Sinode voor die einde van die jaar gedwing word om uit die verband met die AS te tree, in terme van Kerkorde artikel 37. Die Namibiese Sinode het dus ‘n streep in die sand getrek, maar gee tog ‘n laaste kans vir die AS om te erken dat on-Skriftuurlike, Belydenis-versakende en onkerkordelike besluite nie langer sal geld nie (bv die besluit oor selfdegeslagverbintenisse asook die besluit oor die bestaan van die bose). Kortom: Die onwettige “ruimte” (ruim huis) werkswyse wat die AS volg en daardeur ruimte skep vir ‘n valse evangelie, moet tot ‘n einde kom.

Die Namibiese Sinode het dit ook duidelik gemaak dat die krisis van verdeeldheid binne die NGK direk terug-herlei kan word na die liberale lering aan die teologiese fakulteite waarvan die AS tans gebruik maak (meeste van hierdie dosente is, onder andere, uitgesproke ten gunste van selfdegeslaghuwelike om maar een saak te noem). As dit so voortgaan sal die NGK net meer en meer deursuur word met die valse evangelies vanuit hierdie fakulteite. Die Namibiese Sinode het dus die streep getrek: Ons kan nie meer vereenselwig word met hierdie teologiese opleidingsentra nie. Hiermee weerspieël die Namibiese Sinode die oortuigings van al die Skrifgetroue gelowiges binne die NGK.

VRYSTAATSE SINODE:

Die Vrystaatse Sinode het besluit om ‘n proses te inisieer wat daarop kan uitloop dat hierdie Sinode, na ‘n kerkordelike herindeling van gemeentes, uit die verband met die AS kan tree. Die proses sluit kommunikasie met gemeentes in waarin gemeentes dan kan aandui of hulle gemaklik is om binne die verband met die AS te bly, indien die Vrystaatse Sinode uit die verband met die AS sou tree. Die Vrystaatse Sinode is erg verdeeld en – anders as by die Namibiese Sinode – onseker hoe hierdie proses gaan ontvou.

Die besluite van hierdie twee Sinodes het dus die spreekwoordelike kat in die duiwehok losgelaat en groot bewusmaking binne die NGK geskep vir die saak van Skrifgetroue leraars en gelowiges.

WAT MOET NOU GEBEUR?

Hierdie is my voorlopige en persoonlike opinie wat ek graag deel vir oorweging:
Die een moontlike oplossing binne die vasgeloopte NGK sal wees dat alle Skrifgetroue gemeentes in alle streeksinodes so gou as moontlik aansoek doen om op kerkordelike wyse (volgens Kerkorde artikel 32) heringedeel te word, by die Namibiese Sinode.

Die uitkoms kan dan as volg wees: Indien die AS en die ASM (Moderamen) nie teen November 2022 daadwerklik te kenne gee dat die ondermyning van Skrif, Belydenis en Kerkorde tot ‘n einde sal kom nie, dat Namibiese Sinode (met die behoudende gemeentes vanuit ander sinodes wat by hulle heringedeel is) uittree uit die AS-verband, terwyl die res van die gemeentes wat gelukkig is met die AS se werkswyses, rustig voortgaan en bly in die verband met die AS. Sodoende is dit ‘n wen-wen vir almal.

Prakties: Kairos Netwerk sal in gesprek moet tree met verteenwoordigers van besorgdes in die verskillende streeksinodes om die volgende inligting deurgee:

  • ‘n Voorbeeld van ‘n aansoekbrief wat gemeentes kan gebruik om deel te word van die Namibiese Sinode.
  • Riglyne van die kerkordelike roete wat hierdie aansoeke moet volg.

Kommunikasie tussen KN en verteenwoordigers van besorgdes in streeksinodes met die ASM, asook die Moderature van streeksinodes, waarin die volgende duidelik gemaak moet word:

  • Indien die AS nie wil toegee aan die Namibiese Sinode se oproep tot inkeer nie, sal hierdie “Namibiese weg” ‘n wen-wen situasie behels vir diegene wat ontevrede is met die AS, asook vir diegene wat tevrede is met die AS.
  • Die heringedeelde Namibiese Sinode kan dan, indien gesprekke met die ASM misluk, bloot aan die einde van 2022 uit die verband met die AS tree, terwyl die res van die gemeentes van die NGK ongestoord hulle gang gaan.

Is dit ‘n eenvoudige pad? Dit kan eintlik wees maar dit sal waarskynlik teenkanting kry vanaf diegene wat die NGK op sleeptou geneem het vir hulle eie doelstellings. Hulle sal waarskynlik hul bes probeer om te verhinder dat hierdie herindeling realiseer.

IS DAAR NOG ‘N ALTERNATIEF?

Daar is beslis nog ‘n alternatief wat selfs nog eenvoudiger kan verloop …
Indien die Namibiese Sinode aan die einde van die jaar vanuit die verband met die AS uittree met behoud van eiendom, NAAM ens. (sien kerkorde artikel 37 se bewoording oor “behoud van naam”), kan die Namibiese Sinode, nadat hulle uit die verband met die AS getree het, bloot gemeentes van die res van die NGK nooi om deel te word van die uitgetrede Namibiese Sinode.

Hierdie kan beslis ‘n eenvoudiger pad wees maar moedswilliges kan die kerkordelikheid van so ‘n stap in die hof gaan toets. Buiten dat dit ‘n duur en uitgerekte proses sal wees, kan gemeentes van ander streeksinodes “gestrand” wees binne die AS verband indien die Namibiese Sinode uittree en die hof daarna bevind dat gemeentes van ander streeksinodes nie by die uitgetrede Namibiese Sinode mag aansluit nie.

SKEP MOED!

Dit is duidelik dat daar goeie opsies bestaan vir die volgende paar maande. Ons moet biddend gaan kyk na hierdie opsies en die Here vertrou om ons te lei op die beste weg.

MOENIE NET OP EEN OPLOSSING FOKUS NIE.

Dit is belangrik dat ander streeksinodes wat in 2022 vergader, die saak van artikel 37 in die agendas van hulle sinodes laat opneem. Die beginsel van “doen een ding (beplan om deel van die Namibiese Sinode te word) en laat die ander nie na nie (prosesse rakende artikel 37 in elke streeksinode)”, moet dus gevolg word.

Mag die Here ons wysheid gee.

Ds. Pieter Prinsloo
Kroonstad-Wes.

Lees gerus ook die volgende verslae wat hiermee verband hou, deur op die skakels hieronder te klik:

2. FAMILIEBYEENKOMS JULIE 2022 – Hoe, wat, waar?

Soos julle reeds weet is voorbereidings om ‘n “Familie van Reformerende NG Kerke” byeen te roep reeds sedert Februarie al in beplanning.

Die eerste Familiebyeenkoms:

21 Julie 2022 (14h00 tot 22h00) en 22 Julie 2022 (08h00 tot 14h00)

Plek: AfriForum Teater (Menlopark, Pretoria)

Bywoning?

Alle dolerende, behoudende, Skrifgetroue gemeentes, kerkraadslede en lidmate word genooi. Ander kerkverbande (denominasies) en vriende uit ander geledere wat ons geloofsoortuigings deel, en wat deel wil wees van die stigting van ‘n Skrifgetroue NG Kerk Reformerende Familie, word ook hartlik uitgenooi. Daar sal ‘n registrasievorm beskikbaar gemaak word vir alle individue wat die byeenkoms wil bywoon asook ‘n formele afvaardigingsbrief vir gemeentes wat afgevaardigdes wil stuur.

Ander byeenkomste?

Die moontlikheid word voorsien dat daar later ook in ander streke soos Oos- en Wes-Kaap, Namibië en Vrystaat soortgelyke byeenkomste sal plaasvind. Dit sal in samewerking met elke spesifieke streekleierskap gereël word. Maar NEEM KENNIS ASB … Die eerste byeenkoms van 21-22 Julie is oop vir almal uit alle streke van SA en Namibië.

Besonderhede van die program, kostes en ander verwante inligting sal binne bekend gestel word.

Keuse van die plek:

KN het besluit om ‘n neutrale fasiliteit te gebruik vir die stigting van die Familie van Skrifbehoudendes om sodoende weg te beweeg van die persepsie dat hierdie inisiatief net gedryf word deur sekere gemeentes terwyk Kairos Netwerk tans verteenwoordigend is van byna 100 dolerende gemeentes.

Hierdie Familie van Reformerende NG Kerke sal dan besluit of en wanneer ander behoudende gemeentes uit ander kerkverbande betrek sal word.

3. TEOLOGIESE OPLEIDING – hoe raak dit my?

Soos ook al voorheen genoem is Kairos Netwerk se Teologiese Werkgroep (TWG) besig met verskeie ondersoeke wat betrekking het op die teologiese opleiding vir Skrif- en Belydenisgetroue studente. Behalwe vir informele gesprekke met NWU en APA, word daar ook gesprekke gevoer met verskeie instansies oor die opleiding van Diensleraars asook Voortgesette Gereformeerde Teologiese Opleiding. Dit is ‘n komplekse en dinamiese bedieningsveld met baie potensiële struikelblokke. Die dringendheid van die saak word ook besef. Die TWG is dankbaar dat die gesprekke sovèr belowend lyk en belangstellende en roepingsbewuste jongmense en potensiële diensleraars is welkom om KN hieroor te kontak by info@kairosnetwerk.net

1 thought on “Kairos Netwerk Nuusbrief – 1 Apr 2022”

  1. Sabbatsfees van Christus Huisgemeentes Gereformeerd Protestantse Geloof

    Twaalf Artikels van Protesterende (Dolerende) Belydenis

    1, Ons verwerp die sektariese ontkenning en miskenning van die Drie-Eenheid van God: Vader, Seun, en Heilige Gees

    2, Ons verwerp die sektariese ontkenning en miskenning van die enigheid, Goddelikheid én mensheid van Jesus Christus

    3, Ons verwerp die sektariese ontkenning en miskenning van die historiese Christelike Kerk as Die Een Algemene Heilige Gemeenskap van gelowiges en Liggaam van Christus

    4, Ons verwerp die sektariese ontkenning en miskenning van die wederkoms van Christus, die opstanding van alle dode en een algemene oordeel in daardie dag

    5, Ons verwerp die sektariese ontkenning en miskenning van die geopenbaarde wil van God in die kennis van Jesus Christus in die Skrifte en die Skrifte alleen, die Bybel, as die enigste gesag en norm in leer en lewe vir die gelowige en vir die gelowiges as die Kerk van Christus

    6, Ons verwerp die sektariese ontkenning en miskenning van die soewereine uitverkiesende genade van God na sy vrye en ewige Raad, Voorneme en Keuse om te red wie Hy Wil; of om te Verdoem alle sondaars buite hierdie sy enige Genade in en deur Jesus Christus

    7, Ons verwerp die sektariese ontkenning van die erfsonde, alle mense se totale erfsondigheid, en die onmag en gebondenheid van die wil tot die kwaad – in wie ook al, natuurlik mens of wedergeborene

    8, Ons verwerp die sektariese ontkenning en miskenning deur die lering van verlossing deur en op grond van eie werke, verdienste en geregtigheid, van die regverdiging, verlossing, redding en ewige lewe in Christus Jesus deur die geloof in Hom alleen

    9, Ons verwerp die sektariese ontkenning en miskenning deur die lering van heiligheid, volmaaktheid en sondeloosheid, van die wederbarende en oortuigende werking van die Heilige Gees daarin dat Hy ’n mens bring tot gedurige en dieper besef, berou, belydenis en bekering van sonde, na verlossing in, deur en uit Christus Jesus, tot volharding in die stryd van die geloof tot die einde toe

    10, Ons verwerp die sektariese ontkenning en miskenning deur geesbiddery, geeskryery en geesdrywery, van die gawes en vrugte van die Heilige Gees, volkome in wedergeboorte en geloof in Christus Jesus

    11, Ons verwerp die sektariese ontkenning en miskenning deur lering van die wetteloosheid en soewereiniteit van die mens, van die geopenbaarde Wil en Wet van God in die Skrifte

    12, Ons bely, betreur, bestry, bestraf en verwerp die Kerk se ontkenning, miskenning en misbruik van die Bybel as die Woord en openbaring van God se wil vir die Volk, sy volhardende misbruik van eie profetiese amp en onberouvolle versmading van eie wordingsgeskiedenis, in diens en tot diens van die afgodery van Sondagsheiliging en Sabbatsveragting.

    Sabbatsfees van Christus Huisgemeentes Gereformeerd Protestantse Geloof

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui