Kairos Netwerk Nuusbrief – 3 Des 2021 (Teologiese opleiding)

Die volgende is gekommunikeer as deel van Kairos Netwerk se amptelike nuusbrief op 3 Desember 2021 (Nuusbrief 28).

Frederick Marais, skriba van die NG Kerk se algemene kuratorium, het hierop gereageer in NG Kerk sê nee vir APK, Doppers se tokkelokke (19 Des 2021).

Kort hierna adverteer die teologiese fakulteit van Stellenbosch ’n konferensie getiteld: “Queering the Prophet”. Kyk Opsomming: Queering the prophet conference, Stellenbosch 2022. Dit bevestig net weer dat Kairos Netwerk reg is om die teologiese fakulteite te wantrou.

******

Teologiese Opleiding

26 November 2021

Dit is met groot dankbaarheid dat die Kairos Taakspan vir Teologiese Opleiding kan aankondig dat die eerste fase van sy ondersoek afgehandel is. Die Kairos Netwerk het aanvanklik drie kritiese probleemareas in die NG Kerk geïdentifiseer wat aangespreek moet word. Die situasie rondom Teologiese Opleiding was een van die drie areas. Die inherente probleem wat geïdentifiseer was, is die feit dat die gereformeerde teologie nie meer die basis vorm van teologiese opleiding by ons drie fakulteite nie. Dit beteken kortweg dat voornemende leraars opgelei word om in ʼn gereformeerde kerk te dien, sonder dat hulle ʼn grondige gereformeerde opleiding ondergaan het. Hiermee kan getroue lidmate van die NG Kerk hulle nie vereenselwig nie.

Die probleme rondom Teologiese Opleiding (TO) het veral gedurende die laaste jaar al duideliker gemanifesteer. Die Departement van Hoër Onderwys het voorskriftelik ʼn beleid van stapel gestuur dat onderwys in die geheel getransformeer moet word ten einde te voldoen aan die sosiaal-politieke beleid van die regering. Dit het die doodsklokke finaal laat begin lui vir ons drie tradisionele teologiese fakulteite. Die onderskeie kuratoria en NG Kerk dosente het hierdie transformasie aanvaar en sommige het dit selfs probeer verdedig en aangeprys. In ooreenstemming met die nuwe transformasie-beleid verklaar Prof Jerry Pillay van Tuks onder andere die volgende. “The faculty is consciously seeking to move from a Reformed Confessional Faculty to an ecumenical one embracing a variety of christian denominations and traditions”

Die leermateriaal word direk verbind met die sosiale konteks van Afrika met die bedoeling dat “ … the African way of life should become a dominant discourse …” Hulle gee dan ook bewustelik voorkeur aan Black Theology, African Christian Theology, Liberation Theology, Feminist Theology, Urban Theology ensovoorts, “that will allow for radical and critical theological engagements and developments, so different from the colonial era.” Dit, saam met verskeie dosente se eiesinnige en vrysinnige teologiese oriëntasie, maak die voortgesette opleiding van NG Kerk studente aan die universiteite haas onmoontlik.

In die lig van sodanige gebeure, en in aansluiting by navorsing wat elders gedoen word, het die taakspan die afgelope jaar ʼn meer gefokusde ondersoek geloods ten einde vas te stel of daar alternatiewe instansies in veral Suid Afrika is waar gereformeerde teologie steeds die basis vorm vir teologiese opleiding. Gegrond op sekere minimum vereistes wat gestel is, is verskeie instansies aanvanklik geïdentifiseer, ondersoeke is gedoen en gesprekke is gevoer waar moontlik. Die groslys is verkort tot vyf instansies waarvan uiteindelik twee vir die huidige geïdentifiseer is wat aan al die minimum vereistes vir ʼn gereformeerde teologiese opleiding voldoen. Hierdie twee instansies is die NWU se Teologiese Fakulteit in Potchefstroom en die onafhanklike Afrikaanse Protestantse Akademie in Pretoria.

Beide hierdie instansies is besoek, indringende gesprekke is gevoer, die leerplanne en aanbiedingsmetodiek is geverifieer en verdere nagraadse studie moontlikhede is bevestig.

Beide instansies het dan ook voornemende studente hartlik uitgenooi om voortaan hulle studies daar te kom volg. Dit kan ook genoem word dat daar alreeds sewe NG lidmate is wat tans aan een van die twee instansies hulle teologiese opleiding ondergaan. Dit spreek vanself dat indien ons teologiese opleiding nie die Gereformeerde Skrifverstaan en die Gereformeerde Belydenisse as grondslag het nie, die NG Kerk binne enkele jare homself van binne sal doodbloei, en dit mag nooit gebeur nie. Dit is immers die hart van die evangelie wat op die spel is.

Ds Piet Otto

Prof Hoffie Hofmyer

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui