Appèlle slaag teen 2015-besluite

Kyk ook:

Dit is duidelik dat hierdie kwessie ’n klomp mense baie lank besig gehou het. Die realiteit is dat dit befonds is uit bydraes van lidmate. Hierdie geld en tyd kon soveel beter aangewend gewees het.

**********

Appèlle slaag teen 2015-besluite

7 November 2016, Neels Jackson

Die Appèlliggaam van die Algemene Sinode het die Algemene Sinode van 2015 se besluite oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag ter syde gestel.

Die Appèlliggaam het hom nie uitgelaat oor die teologiese meriete van die besluite nie, maar bevind dat daar wesenlike onreëlmatighede was in die prosedure wat die Algemene Sinode van 2015 gevolg het om die besluite te neem.

“lndien die prosedure soos die Kerkorde van 2013 dit voorskryf, korrek gevolg is, sou die besluit oor selfdegeslagverhoudings nie geneem kon word nie,” bevind die Appèlliggaam.

Dié inligting is vervat in die agenda wat in die week voor die sinode aan afgevaardigdes gestuur is. Omdat daar ’n embargo op die inhoud van die agenda geplaas is, kon dit egter nie voor die aanvang van die sinode bekend gemaak word nie.

Die Appèlliggaam het bestaan uit sewe lede wat nie teenwoordig was by die Algemene Sinode van 2015 nie.

Van die onreëlmatighede wat die Appèlliggaam aandui, is dat daar nie kennis gegee is van revisie van besluite van vorige algemene sinodes in 2007, 2011 en 2013 soos Reglement 3 punt 8 en Reglement 19 punt 1.1.1 en 1.2 van die Kerkorde bepaal nie.

Al die ander maniere waarop die saak op die tafel van die sinode sou kon kom, is ook deur die Appèlliggaam geweeg en te lig bevind.

Saam met die tersydestelling van die besluite, verwys die Appèlliggaam die saak terug na die Algemene Sinode.

Die besluit van die Appèlliggaam plaas die buitengewone Algemene Sinode in ’n netelige posisie.

Die sinode het altesame 137 dokumente oor die 2015-besluite ontvang. Die meerderheid daarvan is appèlle, besware en gravamina teen die 2015-besluite, maar daar is ook ’n aantal voorleggings ter ondersteuning van die 2015-besluite.

Sowat tien appèlle is deur die Appèlliggaam afgehandel en nog 14 besware of voorleggings is onontvanklik verklaar.

Dit beteken dat daar nog meer as ’n 100 besware en voorleggings oorbly. Die Appèlliggaam se beslissing impliseer egter dat daar geen 2015-besluite meer bestaan waarteen beswaar gemaak of wat ondersteun kan word nie.

‘n Verdere faktor wat die situasie kompliseer, is dat vier afsonderlike regsmenings aangedui het dat die appèlproses self ongeldig is, omdat dit nie deur die Kerkorde ondersteun word nie.

As die regsmenings korrek is, beteken dit dat enige besluit van die Appèlliggaam in ’n hof betwis en daar tersyde gestel kan word.

Die Algemene Sinode moet besluit hoe hy hierdie situasie gaan hanteer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui