Die Bybel oor sonde

Opsomming

Soms word daar só groot klem gelê op God se genade, dat ons nie meer ernstig oor sonde is nie. Die Bybel sê die volgende oor sonde:

  1. Ons almal is sondig.
  2. Die straf vir sonde is die ewige dood (hel).
  3. Jesus het egter vir ons sondes aan die kruis betaal en ons só kom red van die hel.
  4. Indien ons berou het oor ons sondes en vir God vra om ons daarvan te vergewe, sal Hy dit doen.
  5. Sonde het gevolge: God het ons ontwerp en daarom weet Hy baie goed wat die implikasie van jou sonde op jouself én jou naaste is. Hy het daarvolgens bepaal wat sonde is. Dus, moet ons van sonde wegbly omdat dit vir ons sleg is en omdat dit slegte gevolge vir ons naaste kan inhou. God se genade maak dus nie sonde veilig nie.
  6. God haat sonde, selfs die kleinste sondes (kyk Bylaag A). God kyk nie na sonde as bloot ’n stel reëls om mense te beskerm nie. Sy genade beteken nie dat Hy sondermeer sonde duld nie.
  7. Bekering beteken nie net om in Jesus te glo om jou van die hel te red nie. Deel van bekering is om ’n besef van sonde te kry, dit opreg te bely en weg te draai daarvan. Alhoewel Jesus ons kom bevry het van sonde, het elke Christen ’n verantwoordelikheid om groot erns te maak met sonde in hulle lewe.
  8. Sonde staan in ons pad om geestelik te groei (heiligmaking).

Maak vrede daarmee dat jou grootste stryd in die lewe gaan wees om sonde te weerstaan.

Mag hierdie artikel lesers opnuut weer daaraan herinner hoe belangrik dit is om ’n totale rein en onberispelike lewe na te streef.

Inhoudsopgawe

1. Inleiding

2. Almal het sonde

3. As ons ons sondes bely sal God dit vergewe

“Alvorens sonde nie bitter is nie sal Christus nie soet wees nie.”
~ Thomas Watson

4. God wil ons beskerm

5. God haat sonde

6. Ons moet van alle sonde wegdraai

7. Gehoorsaamheid is beter as offers

8. Herlewing begin met skuldbelydenis

9. Gevolgtrekking

10. Bylaag A: Klein jakkalsies

1. Inleiding

In die hedendaagse humanisties kultuur wil mense nie daaraan herinner word hoe sleg hulle is nie. Daarom word daar soms veel eerder gefokus op God se genade wat Hy bewerkstellig het deur Jesus se kruisdood en opstanding. Hierdie ongebalanseerde benadering lei dikwels daartoe dat mense nie erns met sonde in hulle lewe maak nie.

Hierdie artikel kyk wat die Bybel oor sonde sê:

2. Almal het sonde

Die volgende verse in die Bybel wys dat almal sondig is. Selfs die grootste Christen in mense heugenis het sonde. Niemand kan beweer dat hy/sy op ’n punt gekom het dat hy nie meer sonde doen nie.

Romeine 3

(9)Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. (10)Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, (11)daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. (12)“Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. (13)“Hulle keel is ’n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, (14)hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. (15)“Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. (16)Hulle laat ’n spoor van verwoesting en ellende agter. (17)Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, (18)ontsag vir God het hulle nie.” (19)Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. (20)Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ’n mens wat sonde is.

1 Johannes 1

(8)As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.

(10)As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

3. As ons ons sondes bely sal God dit vergewe

Psalm 103

(8)Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. (9)Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. (10)Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, (11)want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. (12)So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Hebreërs 2

(14)Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig

Jakobus 5

(16)Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.

Interessant dat ons selfs ons sondes teenoor mekaar moet bely en nie net teenoor God nie. As ’n mens aan ander verantwoording moet doen, sal dit ons help om nie weer daarna terug te draai nie.

1 Petrus 1

(18)Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. (19)Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.

1 Johannes 1

(7)Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.

(9)Maar as ons ons sondes bely — Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Die Bybel is dus duidelik dat God ons sondes sal vergewe as ons berou toon en om vergifnis vra.

4. God wil ons beskerm

Alhoewel God ons sondes sal vergewe as ons Hom vra, dra ons soms swaar aan die gevolge van sondes. Dit word nie altyd weggeneem nie. Bv, as jy dronk bestuur en ’n motorongeluk maak en jou been verloor, sal God jou vergewe omdat jy roekeloos was en die wet oortree het as jy Hom vra, maar jy gaan vir die res van jou lewe met die gevolge daarvan sit.

Die volgende verse bevestig dat God se reëls vir ons gegee is om ons te beskerm.

Psalm 119

(9)Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord!

Spreuke 2

(7)Hy laat eerlike mense sukses behaal en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe.

Spreuke 4

(19)die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.

Spreuke 6

(20)My seun, hou vas aan wat jou vader jou voorskryf; wat jou moeder jou leer, moet jy nie in die wind slaan nie. (21)Dit moet jou altyd bybly, daarmee moet jy saamleef; (22)dit sal vir jou leiding gee in wat jy doen, dit sal jou beskerm as jy slaap en jou lei sodra jy wakker word. (23)Wat ek jou voorskryf, is ’n lamp, my onderrig is ’n lig; wie hom laat teregwys, is op die pad na die lewe toe.

Spreuke 8

(13)Om die Here te dien, is om te haat wat verkeerd is. Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid, ’n verkeerde lewe en slinkse woorde.

(32)Daarom, kinders, luister na my, dit sal goed gaan met dié wat op my pad bly.

Dus wil God ons beskerm deur Sy gebooie. ’n Mens kan self sê dat God se gebooie Sy liefdesbrief aan ons is.

5. God haat sonde

‘n Mens kan redeneer dat God nie wil hê dat ons sonde moet doen nie bloot ter wille van ons self en dat dit Sy liefdesbrief aan ons is. Dit is egter net ’n gedeelte van die waarheid. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat dit nie net bloot oor onsself gaan nie, maar dat God sonde verafsku. As ’n mens die sinsnede “afsku” in die Bybel gaan soek, dan kry ’n mens onder andere die volgende gedeeltes:

Levitikus 18-20

Lev 18: (23)Jy mag met geen dier geslagsgemeenskap hê en jouself so besoedel nie. ’n Vrou mag dit ook nie doen nie. Dit is iets afskuweliks.

Lev 19: (29)iemand van julle mag sy dogter die skande aandoen om haar ’n tempelprostituut te laat word nie. Dit lei tot hoerery en afskuwelike sondes in die land.

Lev 20: (12)Iemand wat met sy skoondogter gemeenskap het, moet doodgemaak word, en sy ook. Hulle het iets afskuweliks gedoen. Hulle verdien die dood. (13)Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood. (14)Iemand wat met ’n ma en haar dogter trou, begaan ’n afskuwelike sonde. Hulle moet al drie ’n vuurdood sterf. Julle mag sulke afskuwelike sondes nie duld nie.

Lev 20: (23)Julle mag nie die gebruike van die nasies wat Ek voor julle gaan uitdryf, navolg nie. Ek het juis ’n afsku van hulle gekry omdat hulle al hierdie dinge doen.

Deuternomium 7

(25)Jy moet hulle afgodsbeelde verbrand. Moenie die silwer en goud wat aan die beelde is, begeer en vir jou vat nie. Jy kan daardeur in ’n valstrik trap: die afgodsbeelde is afskuwelike goed in die oë van die Here jou God. (26)Moenie so iets afskuweliks in jou huis inbring nie, want dan is jy gedoem om vernietig te word. Jy moet dit verafsku en as afskuwelik beskou; dit moet vernietig word.”

Psalms

Psalm 5: (7)U roei alle leuenaars uit. Die Here verafsku moordenaars en bedrieërs.

Psalm 15: (1)’n Psalm van Dawid.Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef? (2)Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat,

Psalm 119: (163)Ek haat en verafsku leuens, maar u wet het ek lief.

Spreuke

Spr 6: (16)Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ’n afsku het: 17oë wat straal van hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, (18)gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, (19)’n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers.

Spr 8: (7)Ek praat net die waarheid, ek het ’n afsku van wat verkeerd is.

Spr 11: (1)Die Here het ’n afsku van ’n skaal wat nie reg weeg nie; net die regte gewig dra sy goedkeuring weg.

Spr 11: (20)Die Here verafsku mense wat nie opreg is nie; Hy hou van mense wat onberispelik lewe.

Spr 12: (22)Die Here het ’n afsku van leuenaars; Hy hou van betroubare mense.

Spr 15: (8)Die Here het ’n afsku van die offers van goddeloses, maar Hy aanvaar die gebede van opregtes.

Spr 15: (9)Die Here het ’n afsku van die lewenswyse van goddeloses; maar Hy het dié lief wat volgens sy wil lewe.

Spr 15: (26)Die Here het ’n afsku van bose planne; aangename woorde is vir Hom aanneemlik.

Spr 16: (5)Die Here het ’n afsku van ’n verwaande mens; dit staan vas: so ’n mens sal nie ongestraf bly nie.

Spr 16: (12)Konings het ’n afsku van verkeerde dade, want ’n troon word deur regverdigheid bestendig.

Spr 17: (15)Die Here het ’n afsku van wie die skuldige onskuldig verklaar én van wie die onskuldige skuldig verklaar.

Spr 20: (10)Die Here het ’n afsku van mate en gewigte wat nou sus en dan so is.

Spr 20: (23)Die Here het ’n afsku van gewigte wat nou sus en dan so is; ’n skaal wat nie reg weeg nie, is vir Hom nie goed nie.

Spr 21: (27)Die Here het ’n afsku in die offers van goddeloses, te meer as hulle dit bring met slegte bedoelings.

Spr 24: (9)’n Dwaas se geknoei loop op niks uit nie; mense verafsku ’n ligsinnige mens.

Spr 28: (9)As iemand hom doof hou vir die wet van die Here, sal die Here ’n afsku hê van so ’n man se gebed.

Spr 29: (27)Mense wat die wil van die Here doen, het ’n afsku in iemand wat onwys optree; ’n goddelose mens het ’n afsku in dié wat reg lewe.

Openbaring 2

(6)Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku.

DA Carson het gesê:

Die cliché, God haat die sonde maar is lief vir die sondaar, is op die oog af vals en moet verwerp word. Veertien keer in die eerste vyftig psalms alleen, word ons vertel dat God die sondaar haat, Sy toorn is op die leuenaar, ensovoorts. In die Bybel, rus die toorn van God op beide die sonde (Rom 1:18ff) en op die sondaar (Johannes 3:36). [Kyk God Hates Sin but Loves Sinners – D.A. Carson.]

Dit is dus baie duidelik dat God nie net die sonde haat nie, maar ook die sondaar. Die gedeeltes hierbo kom meestal uit die Ou Testament, maar omdat God nooit verander nie, sal Sy sentiment rondom sonde ook nie verander nie.

Openbaring 3

(15)Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! (16)Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.

Mense wat lou is, is mense wat nie van hulle sonde wil wegdraai nie en dink dat hulle steeds Christene kan wees. Sulke mense sal God uit Sy mond uitspoeg.

6. Ons moet van alle sonde wegdraai

Soos reeds gewys, haat God alle sonde en is dit duidelik dat sonde verkeerd is. Alle Christene weet dit, maar ’n mens kry soms die idee dat daar Christene is wat nie ’n probleem sien om hier en daar nog sonde te doen nie (kyk Bylaag A). Met ander woorde, hulle breek nie met alle sonde nie.

Rebecca Brown sê die volgende in haar boek Prepare for War:

Sondaars kan ’n sterk wens of begeerte hê om ontslae te raak van al hulle sondes, en hulle kan selfs daarvoor bid, selfs met pyn. Hulle mag dink dat hulle bereid is om perfek te wees nie, maar hulle mislei hulself. Hulle mag dalk bereid wees om hul sondes as ’n geheel te verwerp, of as ’n abstrakte idee, maar wanneer dit in detail beskou word, een vir een, is daar baie sondes wat hulle nie bereid is om op te gee nie. Hulle stoei teen die sonde in die algemeen, maar klou aan dit in die detail.

(Kyk ook Aanhalings – Geloofskwessies.)

Alhoewel Jesus ons kom bevry het van sonde, het elke Christen ’n verantwoordelikheid om groot erns te maak met sonde in hulle lewe. Die volgende verse is baie duidelik daaroor dat ons moet breek met sonde sodat ons rein kan lewe (hierdie proses is heiligmaking).

Genesis 4:7

(7)Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.”

Esra 10

(1)Terwyl Esra voor die tempel gekniel en gebid en belydenis gedoen het, het ’n groot aantal Israeliete rondom hom kom staan, mans, vrouens en kinders. Hy het gehuil en die mense het ook hard gehuil. (2)Sekanja seun van Jegiël, uit die nageslag van Elam, het toe begin praat. Hy het vir Esra gesê: “Ons het troueloos gehandel teen ons God, ons het met vreemde vroue getrou, vroue uit die heidennasies. Tog is daar nog hoop vir Israel.

Nehemia 1

(6)Hoor my gebed! “Kyk, en U sal sien dat ek dag en nag vir die mense van Israel, u dienaars, intree in gebed. Ek bely dat ons teen U gesondig het. Selfs ook ek en my familie het sonde gedoen!

Matteus 7

(21)“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. (22)Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ (23)Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”

Dus is dit nie genoeg om God/Jesus se naam te bely nie, maar moet ’n mens ook wegdraai van die sonde. Om van die sonde weg te draai is die bewys dat jy God aangeneem het.

Matteus 18

(15)“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. (16)Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. (17)En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel.

Lukas 1

(5)In die tyd van koning Herodes van Judea was daar ’n priester met die naam Sagaria, uit die diensgroep van Abia. Ook sy vrou het van Aäron afgestam, en haar naam was Elisabet. (6)Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou.

Lukas 3

(8)Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. (9)Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

Johannes 5

Later kry Jesus hom in die tempel en sê vir hom: “Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”

Johannes 8
(10)Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” (11)“Niemand nie, Here,” sê sy. Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

(34)Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is ’n slaaf van die sonde. (35)’n Slaaf bly nie vir altyd by ’n huisgesin nie; ’n seun bly vir altyd. (36)Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.

Romeine 6

(1)Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? (2)Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?

(10) Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. (11)Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. (12)Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. (13)Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. (14)Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

Romeine 8

(1)Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (vir dié wat nie volgens die sondige natuur lewe nie, maar volgens die Gees).

(8)Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. (9)Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. (10)Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. (11)Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. (12)Daarom dan, broers, staan ons onder ’n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. (13)As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.

Romeine 12

(9)Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is.

Romeine 13

(14)Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.

1 Korintiërs 5:11-13

(11)Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. (12-13)Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!”

1 Korintiërs 6:9-10

(9)Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen (10)of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Galasiërs 5:19-25

(19)Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, (20)afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, (21)afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie. (22)Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, (23)nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. (24)Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. (25)Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

Efesiërs 1:4

(4)So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.

Efesiërs 4:26

(26)As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie.

Efesiërs 5:27

(27)sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.

Filippense 1:10

(10)sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees,

Filippense 2:15

(15)Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld

Titus 1:6-7

(6)’n Ouderling moet onberispelik van gedrag wees; hy moet aan sy vrou getrou wees, en sy kinders moet gelowig wees en nie die naam hê dat hulle losbandig lewe en teen gesag in opstand kom nie. (7)’n Ouderling is immers ’n bestuurder van die huishouding van God. Daarom moet hy onberispelik van gedrag wees, nie aanmatigend en opvlieënd nie, nie ’n dronkaard of ’n rusiemaker of ’n soeker na oneerlike wins nie.

Hebreërs 10:26-27

(26)Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. (27)Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer.

Hebreërs 12:2-7

(2)die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. (3)Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. (4)Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ’n stryd om lewe of dood geword het nie. (5)Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, (6)want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” (7)Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ’n kind wat nie deur sy vader getug word nie?

Jakobus 1:14-15

(14)Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. (15)Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.

Jakobus 4:4,7

(4)Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ’n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ’n vyand van God is.

(7)Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.

1 Petrus 2:11-23

(11)Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe. (12)Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening. (13)Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is (14)of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys. (15)Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, ’n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat. (16)Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien. (17)Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser. (18)Bediendes, onderwerp julle met die nodige ontsag aan julle werkgewers, of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. (19)Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees. (20)As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. (21)Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. (22)“Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ’n leuen gekom nie.” (23)Toe Hy beledig is,het Hy nie terug beledig nie,toe Hy gely het,het Hy nie gedreig nie,maar alles oorgelaataan Hom wat regverdig oordeel.

2 Petrus 2:4-9

(4)God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel. (5) Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered. (6)Die stede Sodom en Gomorra het Hy tot verwoesting veroordeel en tot as verbrand, en met hierdie voorbeeld het Hy getoon wat oor die goddelose mense gaan kom. (7) En tog het Hy vir Lot gered, ’n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense. (8)Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ’n foltering was vir sy opregte gemoed. (9)Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou.

2 Petrus 3:14

(14)Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe.

1 Johannes 2:1-6

(1)Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig — ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. (2)Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. (3)As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. (4)Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. (5)Wie sy woord egter gehoorsaam — in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. (6)Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.

1 Johannes 3:6-9

(6)Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie. (7)Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is; (8)wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak. (9)Iemand wat ’n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is.

1 Johannes 5:18-19

(18)Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie. (19)Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is.

Judas 1:3-7

(3)Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het. (4)Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus. (5)Al weet julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel die Here een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié wat nie geglo het nie, laat omkom het. (6)Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag. (7)En dink ook aan die mense van Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle. Net soos daardie engele het hulle onsedelike dade gepleeg en omgang gesoek met vreemde wesens. As waarskuwing vir almal word hulle nou gestraf met die vuur wat ewig brand.

(23)Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.

7. Gehoorsaamheid is beter as offers

In 1 Samuel 15:22 sê Samuel vir Saul: Is brandoffers en ander diereoffersnet so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme.

Hierdie gedagte kom ook op ander plekke in die Bybel voor. Kyk Die Bybel oor ware liefde vir God.

Romeine 14:17-18

(17)Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. (18)Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.

8. Herlewing begin met skuldbelydenis

Dit is algemeen bekend dat geestelike herlewing en skuldbelydenis hand aan hand loop (ongeag wat eerste kom).

Daniel 9:3-9

(3)Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere aangetrek en as oor my kop gegooi. (4)Ek het tot die Here my God gebid en bely: “Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. (5)Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie. (6)Ons het nie geluister na u dienaars die profete nie, wat in u Naam ons konings, ons leiers, ons familiehoofde en die hele bevolking aangespreek het. (7)U is regverdig, Here. Dit is onsself wat hierdie ellende oor ons gebring het, oor die mense van Juda, oor die inwoners van Jerusalem, oor die hele Israel, dié wat naby is sowel as dié wat ver is, ver in al die lande waarheen U hulle verstrooi het oor hulle ontrou teenoor U. (8)Here, hierdie ellende het oor ons, oor ons konings, oor ons leiers en oor ons familiehoofde gekom omdat ons teen U gesondig het. (9)Maar U, Here ons God, bewys barmhartigheid en U vergewe, al was ons opstandig teen U.

Handelinge 3:19-20

(19)Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis. (20)En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is.

2 Kronieke 7:14

(14)en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.

2 Timoteus 2:20-26

(20)In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse.(21)As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens. (22)Vermy die begeertes wat ’n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ’n rein hart die Here aanroep.

(25)Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring. (26)Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam.

Psalm 51:8-15

(8)Maar U verwag opregtheid diep in ’n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. (9)Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. (10)Laat my weer blydskap en vreugde belewe. U het my verbrysel; laat my weer jubel. (11)Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit! (12)Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. (13)Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie! (14)Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien. (15)Dan sal ek oortreders leer wat U van ’n mens verwag; dat die sondaars hulle tot U sal bekeer.

Vir nog verse, kyk Repentance and Revival Bible Verses.

9. Gevolgtrekking

Wanneer ons oor sonde praat, is die volgende dinge belangrik:

  1. Ons almal is sondig.
  2. Die straf vir sonde is die ewige dood (hel).
  3. Jesus het egter vir ons sondes betaal aan die kruis en ons só kom red van die hel.
  4. Indien ons berou het vir sondes en vir God vra om ons daarvan te vergewe, sal Hy dit doen.
  5. Sonde het gevolge: God het ons ontwerp en daarom weet Hy baie goed wat die implikasie van jou sonde op jouself én jou naaste is. Hy het daarvolgens bepaal wat sonde is. Dus, moet ons van sonde wegbly omdat dit vir ons sleg is en omdat dit slegte gevolge vir ons naaste kan inhou.God se genade maak dus nie sonde veilig nie.
  6. God haat sonde: God kyk nie na sonde as bloot ’n stel reëls om mense te beskerm nie. Hy haat sonde. Sy genade beteken nie dat Hy sondermeer sonde duld nie.
  7. Bekering beteken nie net om in Jesus te glo om jou van die hel te red nie. Deel van bekering is om ’n besef van sonde te kry, dit opreg te bely en te breek daarmee. Alhoewel Jesus ons kom bevry het van sonde, het elke Christen ’n verantwoordelik om groot erns te maak met sonde in hulle lewe.
  8. Sonde staan in ons pad om geestelik te groei (heiligmaking).

Johannes Facius het die volgende in ’n reeks met the titel “Sitting at the feet of Jesus” in Skotland in September 2011, gesê:

Mense sê: die belangrikste van alles is liefde. Nee, die belangrikste van alles is reinheid. Jakobus 3:17-18 sê die volgende: (17)Maar die wysheid van Bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig en opreg. (18)En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.

Die wysheid van Bo is eerste rein, dis nie eerste liefde nie. Dit is nie eerste vredeliewend nie. Dit is nie eerste sagmoedig nie. By verre die belangrikste karaktereienskap van God is nie liefde nie; dit is heiligheid. Ons moet verstaan dat ons God moet eer en ons moet onderwerp tot die heiligheid van God. Sommige kerke verskil vandag oor die onderhouding van sekere van die tien gebooie – hulle beweer dat dit nie so belangrik is nie, solank ons mekaar net altyd liefhet. Hulle is besig met, wat ek sou noem, ’n dwaalleer, want die liefde van God is nie ’n humanistiese soet stropie nie. Die liefde van God kan baie, baie sterk wees, want as dit nie rein is nie, is dit nie God se liefde nie. As dit alles net oor liefde gaan, kan ’n mens nie indink dat God miljarde mense hel toe sal stuur nie. En daarom begin mense te sê dat daar nie ’n hel is nie. Selfs welbekende predikers soos John Stott skryf in sy boeke dat daar nie ’n hel is nie. Hulle is mislei deur humanisme – God kan mos nie ’n God van liefde wees en mense hel toe stuur nie. Ja o, Hy kan en Hy sal. Dit is in die Boek. So, stop asseblief al hierdie sentimentele nonsens. Daarom, éérste reinheid en dán liefde, vredeliewendheid, sagmoedigheid en die res.

Maak vrede daarmee dat jou grootste stryd in die lewe gaan wees om sonde te weerstaan.

10. Bylaag A: Klein jakkalsies

Die volgende is ’n lys van “klein sondetjies” wat Christene hopeloos te maklik in hulle lewe toelaat:

  1. God se naam ydellik gebruik (3de gebod)
  2. Moord (6de gebod):
  3. Egbreek, wat insluit ligte pornografie en seksuele begeertes of gedagtes (7de gebod):
    • Te lank na ’n mooi vrou kyk
    • Masturbasie
    • Koop van tydskrifte soos Sports Illustrated Swimsuit edition, FHM en GQ.
  4. Steel (8ste gebod):
    • Skryfbehoeftes by die werk steel
    • Tyd by die werk steel
    • Kopieer musiek of flieks (verbreking van kopiereg)
  5. Leuens (9de gebod): Bly weg van enige situasie waar jy sal moet jok om uit die moeilikheid te kom of om jou moeilikheid minder temaak.
    • Oneerlikheid met die invul van belasting
    • Enige vorm van leuens om jouself te beskerm
  6. Begeer (10de gebod):
    • Groter salaris
    • Beter talente
    • Vrouens
  7. Verontagsaming van reëls: Hierdie word nie pertinent in die 10 gebooie bespreek nie, maar Paulus is baie duidelik daaroor dat ons ons moet onderwerp aan die owerheid, want dit kom van God (kyk Handelinge 23:5 en Romeine 13:1-7). Ook, indien jy nie reëls gehoorsaam nie en jy word uitgevang, gaan die versoeking baie groot wees om te jok sodat jou straf ligter is. Dit sluit dinge in soos:
    • Verkeersoortredings
  8. Drankmisbruik (Galasiërs 5:21)
  9. Vloek/vuil taal (Efesiërs 4:29 en Kolossense 3:8)
  10. Woede / kwaad word / kort humeur (Efesiërs 4:31, Jakobus 1:19)

1 thought on “Die Bybel oor sonde”

  1. Goeie naand. Dit is baie interesant. Ek wil graag uitvind oor die “Sonde is die ewige dood (hel), want die Bybel sê as daar gevind is dat jou naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie is jy in die vuurpoel gewerp.
    Is die hel dan nie plek vir hulle wat sonder die Here sterwe en hulle se siel en gees gaan hel toe en dan wag hulle vir die oordeelsdag om in die vuurpoel gewerp word nie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui