NG Kerk sê nee vir gayverhoudings

Die volgende artikel berig dat die Buitengewone Algemene Sinode besluit het om die 2015-besluit oor homoseksualiteit om te draai.

Kyk ook ‘Ons is nie welkom nie’ (11 November 2016).

************

NG Kerk sê nee vir gayverhoudings

10 November 2016, Neels Jackson

Die NG Kerk se buitengewone Algemene Sinode het hard en duidelik nee gesê vir enige seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Die sinode het herbevestig “dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap buite so ’n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie.”

Hoewel die sinode die werklikheid erken het dat daar lid mate van dieselfde geslag is wat in burgerlike verbintenisse is, het die kerk nêrens in sy besluite enigsins sy goedkeuring daaraan geheg nie.

Daar is ook geen ruimte meer dat predikante van die NG Kerk toegelaat kan word om gayverbintenisse te bevestig nie.

Voor die sinode was daar ’n voorstel wat daarop gemik is om ruimte in die kerk te bied vir verskillende standpunte.

Die voorstel het gelui dat die saak waaroor dit gaan, nie tot die kern van die geloof behoort nie en dat die kerk daarom met onderlinge verskille kan saamleef.

Dit is nie deur die sinode aanvaar nie.

Die sinode het ook weer sy vroeëre besluite oor die gesag van die Bybel bevestig.

Daarmee is die omstrede besluite van 2015 volledig omgekeer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui