NGK herstel alle regte vir gays in die kerk

Kyk ook:

Die volgende artikel het Beeld verskyn op Donderdag, 8 September 2016.

Dit is baie duidelik dat die NG Kerk nou baie moeilik gaan omdraai.

************

NGK herstel alle regte vir gays in die kerk

Deur Simon Sonnekus, 7 September 2016 21:23

Gay NG lidmate en predikante se regte is ten volle herstel ná ’n vergadering van die algemene sinodale moderamen vandeesweek.

Die moderamen het besluit om in November ’n buitengewone sinode te hou waar die gay-kwessie deurtrap sal word.

In die tussentyd sal gay verbintenisse ten volle deur die kerk erken word.

Die algemene sinode het in Oktober verlede jaar besluit dat NG predikante wat gewillig is, gay paartjies in die huwelik mag bevestig en dat die kerk gay verbintenisse erken. Die inwerkingstelling van dié besluit is egter opgeskort ná appèlle en groot ontevredenheid daaroor.

Dié opskorting is vandeesweek ná intensiewe gesprekke op ’n vergadering van die moderamen in Kemptonpark opgehef.

Die opheffing beteken ook dat die algemene sinode se besluit dat gay predikante toegelaat word om verhoudings aan te knoop weer van krag word.

’n Groep van 11 lidmate het verlede maand gedreig om die kerk te dagvaar omdat hy die 2015-besluit oor gay lidmate opgeskort het. Dié groep het regsadvies van adv. Wim Trengove ingewin wat daarop gedui het dat die opskorting strydig met die kerkorde is.

Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk en voorsitter van die moderamen, het gesê die kerk wil die omstredenheid so gou moontlik oplos.

“Ons hoop om in ’n versoenende gees bymekaar te kom en met die hulp van sterk leiding klarigheid oor die saak te kry.”

Hoewel predikante nou ná die moderamen se besluit teoreties burgerlike verbintenisse mag voltrek, is die kerk nog nie hiervoor geregistreer by die departement van binnelandse sake nie, het Janse van Rensburg gesê.

“Prosesse is ná die moderamen se besluit dadelik aan die gang gesit om die registrasie te bekom.”

Dit is onduidelik hoe lank dié proses sal duur.

Dr. André Bartlett, lid van die moderamen, het gesê die kwessie is ’n keerpunt vir die kerk.

“Besware in die kerk is algemeen, maar met besprekings kan die saak opgelos word. Ek hoop en vertrou dat die besluite van 2015 gehandhaaf sal word.”

Dr. Chris van Wyk, moderator van die Oos-Kaapse sinode, het die buitengewone sinode verwelkom. “Kerke behoort geloofsverskille ordentlik uit te praat, ons skuld mekaar dit.”

Die buitengewone sinode sal van 7 tot 10 November by die Pierre van Ryneveld-gemeenskapskerk in Pretoria plaasvind.

Rapport het berig die 11 lidmate wat gedreig het om die kerk te dagvaar is: adv. Leon Wessels, direkteur van die Sentrum vir Menseregte aan die Universiteit van die Vrystaat en ereprofessor aan die Noordwes-Universiteit; dr. Murray Coetzee van die Beyers Naudé-sentrum vir publieke teologie in Stellenbosch; prof. Hendrik Bosman, waarnemende dekaan van die teologiefakulteit aan die Universiteit Stellenbosch; dr. Frits Gaum, emerituspredikant en voormalige redakteur van Kerkbode; dr. Chris Jones, hoof van die Universiteit Stellenbosch se kantoor vir morele leierskap; dr. Nadia Marais, sistematiese teoloog aan die Universiteit Stellenbosch; en vyf gay lidmate: Laurie Gaum, Pieter Oberholzer, Hennie Pienaar, Lulani Vermeulen en Judy Kotze.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui