ASM moet besluit oor appèlle

Kyk ook:

Uit Kerkbode, 2 September 2016

NEELS JACKSON

Die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) moet op sy vergadering van 5 tot 7 September besluit hoe om te reageer op die eis van elf lidmate dat die opskorting van die Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudinge opgehef word sodat dit dadelik van krag is.

Die prokureursbrief van die elf vra dat die kerk teen Vrydag 26 Augustus op hulle eis reageer. So nie, behou hulle die reg voor om hof toe te gaan. In ’n brief aan hulle prokureurs het die kerk egter uitstel gevra omdat net die ASM by magte is om daarop te reageer en hulle eers twee weke later vergader.

Prof Johan van der Merwe, aktuarius van die Algemene Sinode, het gesê die ATR is in tussen besig om met regslui te konsulteer.

Die [Algemene Taakspan Regte] ATR sal die Sondagaand en Maandagoggend voor die ASM se vergadering byeenkom en ’n advies aan die ASM voorberei. Dan moet die ASM besluit hoe om die saak verder te voer.

Die elftal se prokureursbrief sluit ’n regsopinie in van avokaat Wim Trengove. Dié regsopinie voer aan dat die opskorting van die besluite ’n fout was. Dit weerspreek die regsadvies waarop die Algemene Taakspan Regte en die Algemene Sinodale Moderamen besluite oor die opskorting van die besluite gegrond was.

Trengove voer onder meer aan dat ’n appèl teen ’n besluit van die Algemene Sinode nie deur die kerkorde toegelaat word nie. Daar word slegs voorsiening gemaak vir appèlle na ’n meerdere vergadering toe en daar is nie ’n meerdere vergadering vir die Algemene Sinode nie.

Die reglement wat wel voorsiening maak vir ’n appel teen ’n besluit van die Algemene Sinode, is ondergeskik aan die kerkorde en kan nie die kerkorde weerspreek nie. Daarom is die reglement op hierdie punt nie geldig nie.

Trengove meen ook dat dit nie korrek is om te sê dat appelle volgens die gemene reg outomaties die beslissings opskort waarteen geappelleer word nie. Dit is ook nie vanselfsprekend dat die gemene reg net so op interne kwessies binne die NG Kerk van toepassing is nie. Daarom is dit nie korrek om te sê dat die appelle outomaties die besluite van die Algemene Sinode opskort nie.

Voor die ASM gaan daar ook nog ’n versoek wees om revisie van die besluit oor die opskorting van die Algemene Sinode se besluite.

Dr Andre Bartlett, assessor van die Hoëveldsinode, en dr Carin van Schalkwyk, skriba van die Vrystaat, se versoek kom op dieselfde neer as die eis van die elf lidmate. Dit word ook gesteun deur ’n onafhanklike regsadvies wat ooreenkom met die van Trengove.

Die effek daarvan sou wees dat predikante wat wil, sou kon voortgaan om by die staat aansoek te doen om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te bevestig, en dat hulle dit binne die NG Kerk sal kan doen sodra die administratiewe rompslomp afgehandel is. Gays in verhoudings sal dan ook gelegitimeer kon word en predikante van die kerk kon word.

Dit alles laat die NG Kerk nou tussen twee teenoorstaande stelle regsopinies, dié op grond waarvan verklaar is dat die appelle die Algemene Sinode se besluite opskort, en dié wat meen dat die opskorting ongeldig is.

Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die ASM, het gesê hy dink nie dit is ’n slegte idee om nou deur ’n hof sekerheid te kry oor wat die regsposisie is nie.

Die elf namens wie die prokureursbrief geskryf is, is prop Laurie Gaum, prof Hendrik Bosman, dr Murray Coetzee, dr Frits Gaum, dr Chris Jones, prop Judith Kotze, dr Nadia Marais, ds Pieter Oberholzer, prop Hennie Pienaar, me Lulanie Vermeulen en die gewese menseregtekommissaris adv Leon Wessels.

(Foto van Prop Hennie Pienaar met sy swart “Liefde is liefde”-T-hemp aan, verlede jaar nadat die Algemene Sinode die groen lig gegee het vir gay verbintenisse en vir gay dominees op die kerk se kansels. Hy is een van die elf wat vra dat die opskorting van die Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudinge ter syde gestel word.)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui