Om vertroosting te vind in die dood van ’n geliefde

Inhoudsopgawe

  1. God is in beheer
  2. Jy is nie alleen nie
  3. Vergifnis
  4. Mag ’n mens treur?
  5. Dood, waar is jou angel?
  6. Ons is slegs pelgrims
  7. Is daar ’n doel?
  8. Besluit vandag

Eenkeer kyk ek ’n getuienis van ’n vrou wie se man voor haar oë in ’n plaasaanval doodgeskiet is. Van die voorval sê sy:

“Mense sê dat dit God se wil was. Nee, dit was nie. Dit was mense. Vrye wil. Hulle het die keuse gemaak, nie God nie. Hy kon nie die situasie hanteer of beheer of stop nie. Dit was mense. Ons het vrye wil. Maar Hy was daar en Hy sê dat Hy alles ten goede sal laat meewerk. Dit is wat ek glo.”

Dus het sy haar vertroosting daarin gevind dat God hierdie slegte gebeure ten goede sal laat meewerk in die toekoms.

Romeine 8:28 : Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

’n Mens kan net probeer dink deur watter trauma hierdie vrou moes gaan om dit eerstens te aanskou en tweedens om dit te verwerk en ’n mens is werklik baie dankbaar dat sy haar vertroosting in God vind, want dit is die beste plek om vertroosting te vind.

Dit is waar dat God slegte dinge ten goede laat meewerk, maar sy maak ’n fout as sy sê dat God nie die situasie kon stop of keer nie. Hier is hoekom ek so sê:

1. God is in beheer

Niks gebeur sonder dat God dit toelaat nie. Dit sê Hy in Matteus 10:28-30:

(28)Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan. (29)Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. (30)Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.

God kan enige tyd in enige omstandighede ingryp indien Hy sou wou. Hier is nog ’n paar voorbeelde:

2 Konings 6:15-17

(15)Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy ’n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. “Ag, Meneer!” sê die slaaf vir Elisa, “wat gaan ons nou maak?” (16)Hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” (17)Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.” Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur.

Job 1

(9)Toe antwoord die Satan die Here: “Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie! (10)U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. (11)Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.” (12)Toe sê die Here vir die Satan: “Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie.” Die Satan het daarna van die Here af weggegaan.

Die Satan kon niks aan Job doen nie voor God hom toegelaat het nie.

Matteus 25 (Jesus word gevange geneem)

Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”

Yolande Korkie

Yolande Korkie vertel toe sy en haar man, Pierre, gevange geneem is, het die ondervraers hulle gevra wie die groot Arabiese vrou met die masjiengeweer was wat altyd saam met hulle was. Pierre en Yolande het nie geweet waarvan hulle praat nie, maar het besef dat dit ’n engel van God was. Die dag toe Pierre en Yolande gevange geneem is, was die engel nie daar nie. God het die engel verwyder. God het toegelaat dat hulle gevange geneem word. En dat Pierre later doodgeskiet word.

Kyk Kwêla: Yolande Korkie vir ’n onderhoud met haar.

Hannelie Groenewald

Hannelie se man het in 2002 ’n roeping na Afghanistan gekry en sy en haar seun en dogter is saam. Op 29 November 2014 is hulle in hulle huis aangeval en Hannelie se man en kinders is gedood. Hannelie was, buite die normale, nie in die huis nie. Sy moes dus ook dood gewees het. Sy sê daar was geen vooraf tekens van ’n aanval nie. Dit het uiters onverwags gebeur. Hulle het hoegenaamd nie enige onraad gemerk nie. Sy getuig dat as God hulle wou beskerm kon Hy vir hulle ’n onrustigheid gegee het sodat hulle betyds sou kon wegkom. Sy moes self haar man en twee kinders se lyke balsem voor dit na Suid-Afrika gebring is. Sy vind haar vertroosting daarin dat dit God se wil was, watookal die presiese redes hiervoor was.

Kyk Hannelie Groenewald vir haar getuienis op Youtube.

2. Jy is nie alleen nie

In ’n mate help dit om te weet dat jy nie die enigste is wat ’n geliefde verloor het nie. Yolande Korkie en Hannelie Groenewald word reeds hierbo genoem en wys hoe waardig hulle dit hanteer het. Hier is nog voorbeelde:

Job

Dit is nie nodig om Job se verliese te noem nie. Tog sê hy:

1:21-22 : (21)“Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” (22)Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.

2:10 : As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.

13:15 : Kyk, al wil Hy my ombring—ek hoop op Hom

Dit sluit aan by wat Salomo in in Prediker 7:14 sê: Wees bly op die dag van voorspoed, en as daar ’n dag van teëspoed kom, sien dit so: soos die een het God ook die ander gegee, sodat die mens nie sal weet wat vir hom voorlê nie.

Esegiël 24

(15)Die woord van die Here het tot my gekom: (16)“Mens, Ek gaan jou vrou wat jou soveel vreugde gee, van jou af wegvat deur ’n skielike dood. Jy mag nie treur en huil nie, nie ’n traan stort nie. (17)Jy moet in stilte sug, jy mag nie rou nie. Hou jou tulband op en jou skoene aan. Moenie jou baard bedek nie en moenie eet wat mense gewoonlik by so ’n geleentheid eet nie.”

Horatio Spafford

In 1871 het die Chicago brand Horatio Spafford finansieel geruineer. In 1873 het hy sy vier dogters verloor toe die skip waarop hulle was gesink het. Na dié gebeure het hy die lied It is well with my soul geskryf. Kyk ook It Is Well with My Soul: Historical Origins of the Hymn & the Tune op YouTube.

Joseph Scriven

Joseph het twee verloofdes aan die dood afgestaan en daarna die lied Wat ’n vriend het ons in Jesus, geskryf. Kyk ook The story behind the hymn, What a Friend We Have in Jesus (Youtube).

Arthur Ashe

Arthur Ashe was die eerste swart man wat die Amerikaanse Ope, Australiese Ope en Wimbledon gewen het. Tydens ’n hartoperasie in 1983 het hy vigs opgedoen deur die bloed wat hy gekry het. Van reg oor die wêreld het hy briewe van sy aanhangers ontvang. In een van die briewe het die skrywer gevra: “Waarom moet God jou kies vir so ’n slegte siekte?”

Hierop het hy soos volg geantwoord:

The world over — 50 million children start playing tennis, 5 million learn to play tennis, 500 000 learn professional tennis, 50 000 come to the circuit, 5000 reach the grand slam, 50 reach Wimbledon, 4 to semi final, 2 to the finals. When I was holding a cup I never asked God: “Why me?”. And today in pain I should not be asking God: “Why me?”

Carl Wieland van CMI het soortgelyk gereageer nadat hy in ’n baie ernstige motorongeluk was.

3. Vergifnis

Filippense 3:14
…ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is…

Met die dood van iemand is daar altyd iemand wat geblameer kan word:

  • As iemand vermoor is, is dit vanselfsprekend dat die moordenaar geblameer word.
  • Met ’n selfmoord, kan geliefdes hulleself blameer.
  • Dood as gevolg van siekte kan die dokter blameer word.

Dus, soms staan onvergewingsgesindheid in ons pad om die dood van ’n geliefde te verwerk. As mens egter glo dat dit God se wil was, behoort dit makliker te wees om mense wat moontlik die dood kon veroorsaak het, te vergewe en die dood van die geliefde te verwerk. Vir meer hieroor, kyk Vergifnis, veral Pieter Badenhorst se getuienis.

4. Mag ’n mens treur?

As die dood van ’n geliefde God se wil was, mag ’n mens dan daaroor treur? Ja verseker. Hoe lank mag ek treur? Ek weet nie, maar die laaste ding wat ’n mens moet doen is om weke en maande in selfbejammering te verval en te treur, want dan is jy in effek in opstand teen God se wil.

In 2 Samuel 12:15-23 lees ons dat Natan vir Dawid die nuus gegee het dat sy eerste kind by Batseba sou sterf. Dawid het by God gepleit vir sy lewe, maar toe God die kind se lewe neem het Dawid dit so aanvaar en, tot groot verbasing van die paleispersoneel, aangegaan met sy lewe. Sy woorde aan hulle was: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe. Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.

As Christene moet ons onsself verheug in God se wil:

Matteus 6:9-10

(9)So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; (10)laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Een eienskap van ’n Christen se lewe is vreugde. Die dood van ’n geliefde is nie ’n verskoning om ons vreugde te verloor nie.

1 Tessalonisense 5:16-18

(16)Wees altyd bly. (17)Bid gedurig. (18)Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

Galasiërs 5:22-23

(22)Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, (23)nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

5. Dood, waar is jou angel?

Vir Christene is die angel van die dood uitgehaal. Die dood van ’n geliefde bly ’n baie hartseer gebeurtenis, maar Jesus het die angel vir ons kom uithaal.

1 Korintiërs 15:54-55

(54)En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.” (55)“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Filippense 1:20-24

(20)Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, (21)want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. (22)As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. (23)Ek is in ’n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; (24)maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe.

Filippense 3:7-11

(7)Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, (8)ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry (9)en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. (10)Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, (11)in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Markus 8:35-36

(35)Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red. (36)Want wat sal dit ’n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?

Heidelbergse kategismus, vraag 1

Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (i) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).

****

‘n Christen wat te sterwe kom, is heen na ’n beter plek. En dit is nie ’n cliché nie – dit is die ware werklikheid. Iemand in die hemel gaan nie terug verlang na enigiets op die aarde nie, ongeag watter goeie vooruitsigte hy/sy gehad het op aarde. Vir meer hieroor, kyk Die Bybel oor die hemel.

6. Ons is slegs pelgrims

As Christene weet ons dat hierdie wêreld ’n baie kort en tydelike woning is.

Hebreërs 11:13

(13)…en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.

Filippense 3:20

(20)Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.

Daarom aanvaar ons die dood as bloot ’n oorgang van die tydelike na die ewige.

7. Is daar ’n doel?

Is daar ’n doel met die afsterwe van ’n geliefde? Ek dink nie mens moet noodwendig altyd ’n doel gaan soek nie, maar God het toegelaat dat die meerderheid van die dissipels op wreedaardige manier tot hulle einde gekom het (kyk Hoe is die 12 dissipels dood?) met die doel, glo ek, om vandag vir ons as getuienis te dien dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het.

Die vroeë Christene is vervolg en selfs op wreedaardige manier doodgemaak juis sodat die Evangelie versprei kon word oor die hele aarde.

Netso kan God vandag nog ’n doel hê met die afsterwe van ’n geliefde. Kyk ook Waarom gebeur dit?

Kyk ook die getuienis van die sendeling Helen Roseveare. Sy vertel hoe God haar swaarkry gebruik het om ander tot bekering te bring.

8. Besluit vandag

‘n Vriend van my sê eenkeer vir my dat hy nie weet hoe hy sal reageer as sy vrou of dogtertjie wreed vermoor of verkrag word nie, met woede wat duidelik op sy gesig wys. Ek antwoord hom toe dat hy dalk vandag moet besluit hoe hy sal optree in so ’n situasie.

Dit sal help om jouself voor te berei vir die dood van ’n geliefde. Besluit vandag hoe jy gaan of wil optree wanneer jy daarmee gekonfronteer word. Jou optrede is dalk ’n geleentheid om God se naam te verheerlik.

Byvoeging

Dietrich Bonhoeffer gee ’n interessante perspektief:

Daar is niks wat die afwesigheid van ’n dierbare, kan vervang nie, en ’n mens moet dit nie eens probeer nie. ’n Mens moet dit eenvoudig uithou en verduur. Aanvanklik klink dit baie moeilik, maar terselfdertyd is dit ook ’n groot troos, want vir sover die leegheid ongevul bly, bly ’n mens daardeur verbonde aan die ander persoon. Dit is verkeerd om te sê dat God die leegheid vul. God vul dit geensins nie, maar veel meer laat dit presies ongevul en help ons – selfs in pyn – om die outentieke verhouding te bewaar. Verder, hoe mooier en voller die herinneringe, hoe moeiliker is die skeiding. Maar dankbaarheid verander die kwelling van die geheue in stille vreugde. ’n Mens dra die lieflike in die verlede nie as ’n doring nie, maar as ’n kosbare geskenk diep binne, ’n verborge skat waarvan jy altyd seker kan wees.

Lys van mense wat swaarkry uitmuntend hanteer het

Ons kan gerus by hierdie mense leer hoe om swaarkry te hanteer:

13 thoughts on “Om vertroosting te vind in die dood van ’n geliefde”

  1. Hi, ek groet almal in ons Koning se mooi en ontfeilbare Naam. Hoe troos ek my vrou wat ons oudste Seun afgestaan het aan die dood? Hy is dood geskiet en sy neem dit baie swaar op dus nou 2dae terug gebeur – Vrydagaand van 3 Julie 2020.

    1. Godfrey, ek het nou “toevallig” op die bladsy gekom.
      Eerstens is ek so bitter jammer om te hoor van julle seun, mag ons Vader jou omvou in Sy liefde, vrede en teenwoordigheid deur hierdie lewens storm.
      Ek voel op my hart om jou net te herhinder, dat jy nie alleen jou vrou kan troos nie. Jy kan daar wees vir haar en haar versorg, lief he en ondersteun. Mar die beste wat jy vir haar kan doen is om aan te hou bid. Slegs die Heilige Gees kan ware vertroosting bring vir haar ongelooflikke hartseer. Mag Hy vir jou en jou vrou alle ondersteuning en vrede bring wat julle nodig het, en mag julle beide aan Hom vashou en Sy leiding vind en volg. Baie sterkte en liefde, Hester

  2. My enigste kind is 5 jr gelede oorlede weens oordosis. Ek het nogsteeds nie vrede in my hart oor sy dood nie. Ek is ’n verbitterde mens en blameer myself ook vir sy dood. Hoe weet ek verseker sy hart het aan God behoort.

  3. Ek hou die kissie met my geliefde vrou se as steeds by my. Ek neem dit selfs saam met my bed toe.
    Is dit verkeerd?

  4. My man is 31 Desember aan covid oorlede. Hy was 3 dae in hospitaal. Na n maand van sy afsterwe voel ek nog netso verpletterd hartseer. Inteendeel ek voel of my verlange na hom erger word. Die gemis na hom dat hy weg is. Als voel so onwerklik. Ons was meer as 34jr getroud. Ons was baie lief vir mekaar. Ek bid en praat baie met die Here. Is dit verkeerd om so te treur. My man het baie vir my gehelp. Ons het omtrent orals saamgegaan. Ek voel ek wil net huil en huil. Ek weet hy is by Jesus. Wat my dit so erg maak as dat ek hom nie eers kon gegroet het in hospitaal nie. Hy was November 60 en ek nou 57. Voel of my lewe onder my uitgeruk is.

    1. Liewe Rika
      Ek is jammer oor jou verlies.
      My situasie is dieselfde as joune.
      My man is 19 Jan 21 ook oorlede van covid. Ons was 47 jaar saam. 3 kinders en baie hegte gesin.
      Ek huil heeldag en my hart is stukkend en leeg. Ek weet nie hoe ek sonder hom kan voort gaan nie.
      Ek soek antwoord in die Bybel en by ons Vader.
      Sterkte Louise

  5. Hoekom moet die dood so seer maak. Hoekom moet dit alhoewel ons voorbereid was, nogsteeds die bitter smaak het. En hoekom moet dit so swaar is, ekt my ma se broer wat die vaderfiguur in my lewe was verloor, en dis so seer die bitter verlange en die soveel seer. Ek wil net huil sonder ophou

  6. Ek het my pa aan die dood af gestaan op 10.03.2021. My pa was my held. Hy het my altyd aangespoor en gesê: beur vorentoe – pa weet jy kan. En as ek dit gedoen het dan sê hy. Alle eer aan die Here. Hy was 74 wat ’n goeie ouderdom was maar dit maak seer. Ek het my vertroosting gevind in die Here wat my so genadig was en my so baie nuwe hoop en geloof geleer het. Ons vergeet dat ons net geleen is op die aarde en dat as jy geseend is om ’n kind van die aller hoogste te kan raak deur sy genade en liefde en luister na sy stem en nie op die ou eie ek vertrou nie dan wys Koning Jesus jou die volgende. Johannes 11:21-26. Ons sterf nooit nie maar gaan oor van vleeslike na verheerlikte liggaam deur die genade en liefde van Koning Jesus wat vir ons sonde gesterf het sodat ons kan lewe. Nou sê ek. Alle lof en eer aan die Here my rots en my lewe. Dankie liewe Jesus dat U my geseën het met ’n pa wat my so mooi geleer het van U. Ek en my huis sal die Here dien.

  7. Hi ek wil net Dankie se aan Hester mag God u toe vou met Sy liefde en u altyd die krag sal gee om daar te wees vir u medemens,Dankie aan al die ander ook dat julle n oor het om te luister ons moenie, moeg raak om goed te doen en te bid vir mekaar nie.Die Here seen bid ek op Almal.

  8. Dis duidelik dat die skrywer die kennis van die Woord het, maar die pyn het hy nog nooit ervaar nie. Gaan begrawe jou kind dan leef jy dit soos jy die teks verse hier aanhaal. Gaan haal ook die teks verse aan hoe God die pyn van die dood van ’n kind beskryf. Ek het altwee my kinders aan die dood afgestaan.
    Mense mag rou, gaan lees jou Bybel. Daar is ’n tyd om te rou en elke mens se rouproses is anders.
    Gaan begrawe eers een van jou kinders dan praat ons weer.
    Gaan haal die teksverse uit hoe seer dit is om ’n kind te begrawe.
    Jy weet niks hoe dit is nie. Trek ons skoene aan dan verander jy jou hele storie.
    Mense rou saam met Jesus oor jou kind.

  9. Wernher de la Guerre (B.th, MDiv (Stell.)
    Daniel! Puik artikel. Wel gedaan.
    Ek hou van die voorbeelde van mense se getuienisse, en hoe hulle dit hanteer het. Die Skrif is áltyd ons troos, want dit is waar God self aan woord is. Dit is die enigste Boek, soos een skrywer gesê het, waar die Outeur Self teenwoordig is elke keer wanneer ons die Bybel lees. Dit ís waar ons ons troos vind in tye van krisis.
    Dankie vir jou harde werk!

  10. Hoekom, hoekom is my dogter so vroeg voor my weggeneem. Ek sukkel en het so baie vrae, maar God hoor my nie. Dis of God my straf vir my verlede. Ek vra elke aand vergifnis maar hoe weet ek God hoor dit. Huil elke aand my aan die slaap. Lees my Bybel maar dis of ek niks verstaan of sien. My
    God, my God waarom hy U my verlaat. Ek weet ek moet uitreik na iemamd, maar niemand is betroubaar. Daar word uitgepraat

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui