Johannes 10:10 (‘n dief kom net steel en slag)

Kyk ook:

Johannes 10:10

(10)’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Die volgende vers word soms deur mense gebruik wat ook lief is daarvoor om te sê dat ons lewe moet spreek – die sogenaamde “Word of Faith”-beweging. Hulle glo dat slegte dinge wat met mense gebeur die gevolg is van Satan wat slag en steel. Byvoorbeeld, as iemand kanker het, sal hulle sê dat dit die Satan se werk is en dan word die Satan bestraf om sodoende die slegte weg te neem. (En hulle spreek lewe 🙂 )

Daar is egter ’n paar dinge hieroor te sê:

1. Resultate hang van jou af

As jy lewe moet spreek, dan glo jy dat resultate van jou aksies en geloof afhang. Dit is nie waar nie. Jy kan niks doen nie.

2. God is in beheer

God is altyd in beheer. Daar is niks wat op aarde gebeur sonder dat God dit toelaat nie. Die duiwel kan nie steel en slag sonder God se goedkeuring nie. Dit is wat ons onder andere in Job leer. Die duiwel kon niks aan Job doen voordat God nie die duiwel toegelaat het om Job te ruineer nie. Lukas 12:6-7 sê dat indien God vir die mossies sorg hoeveel temeer sal Hy nie na ons omsien nie. Hy het selfs die hare op ons koppe getel.

3. Sondeval

Ons moet rekening hou met die sondeval. God het bepaal dat slegte dinge sal gebeur ná die sondeval. Slegte dinge gebeur soms met goeie mense. Dink maar aan:

Was dit die duiwel wat van hierdie mense se lewens geroof het? Ek dink nie so nie. God het dit alles toegelaat.

4. Wat is die beste vir jou?

Mense wat voorspoedteologie aanhang neem aan hulle weet wat die beste is vir hulle. Dit is egter glad nie waar nie. Soms sê jy dankie dat jy nooit gekry het waarvoor jy gevra het nie.

Otto Koning vertel in “7. Divine appointments” dat daar ’n sendeling was wat elke Saterdagoggend dorp toe geloop het om sy voorrade te koop. Dit het altyd die hele dag in beslag geneem. Daar was egter altyd baie van die plaaslike bevolking wat ook saam gestap het om besigheid in die dorp te doen. Terwyl hy so saam met hulle geloop het, het hy hulle geleer. Sy kerk in Amerika het egter vir hom ’n Jeep gekoop. Nou kon hy baie tyd spaar op ’n Saterdag. Hy het wel tyd gespaar, maar nou was die mense kwaad wanneer hulle nie ’n geleentheid saam met hom kon kry nie, en hy het glad nie meer saam met die mense gestap en hulle geleer nie.

Otto Koning self het op ’n stadium ’n vierwielmotorfiets gekry om vinniger by ander nedersettings uit te kom. Die ding het egter meer probleme veroorsaak as wat dit voordele ingehou het. (Luister gerus wat daar gebeur het – kyk Otto Koning se pynappelstories.)

Wat beteken Johannes 10:10 dan vir ons?

Dit is inderdaad so dat die duiwel uitgaan om te steel en te slag. Hy is soos ’n brullende leeu (1 Petrus 5:8-9) wat verwoesting wil saai waar hy gaan. En soms is hy baie suksesvol. Dit kan egter slegs gebeur indien mens nie sy aanslae weerstaan nie. Ek wil ’n voorbeeld gebruik: Indien die duiwel jou verlei om ontrou te wees aan jou huweliksmaat en jy weerstaan nie die versoeking nie en raak by ’n ander persoon betrokke, sal dit veroorsaak dat jou huwelik verbrokkel en jou kinders daaronder lei. Die duiwel het dan inderdaad kom slag en steel, maar jy kon dit verhoed het as jy jou wapenrusting aangehad het en sy aanslag weerstaan het.

Kommentaar

Jan Louw

Dankie Daniel vir ’n goeie artikel. Jy vat die saak mooi saam in die woorde:

As jy lewe moet spreek, dan glo jy dat resultate van jou aksies en geloof afhang. Dit is nie waar nie.

As die voorstanders van Word of Faith Joh 10:10 gebruik om hulle saak te verdedig, is dit ’n bevestiging van hoe hulle die Skrif misbruik vir hulle standpunt.

As Jesus praat van die dief wat kom om te slag en te steel, is dit in die konteks dat Hy die goeie en regte Herder van die skape is. Daar is diewe (valse leraars) wat probeer om die skape van die Here te steel. Hulle is gewetenloos en soek net hulle eie voordeel.

Die teks het niks te doen met Christene se beproewinge nie.

1 thought on “Johannes 10:10 (‘n dief kom net steel en slag)”

  1. Dankie Daniel vir ’n goeie artikel. Jy vat die saak mooi saam in die woorde:
    As jy lewe moet spreek, dan glo jy dat resultate van jou aksies en geloof afhang. Dit is nie waar nie.
    As die voorstanders van Word of Faith Joh 10:10 gebruik om hulle saak te verdedig, is dit ’n bevestiging van hoe hulle die Skrif misbruik vir hulle standpunt.
    As Jesus praat van die dief wat kom om te slag en te steel, is dit in die konteks dat Hy die goeie en regte Herder van die skape is. Daar is diewe (valse leraars) wat probeer om die skape van die Here te steel. Hulle is gewetenloos en soek net hulle eie voordeel.
    Die teks het niks te doen met Christene se beproewinge nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui