Vergifnis

Erkenning aan Arnold Mol wat by 2011 se Daniël konferensie by Moreletapark hieroor gepraat het.

Vergifnis maak jou vry

Om nie te vergewe nie is soos om gif te drink en te hoop die ander persoon gaan dood daarvan.

In die artikel How God healed me after cutting and burning myself getuig die persoon die volgende: “I have forgiven all the people that have hurt and abused me. It took me a long time to discover that forgiving those who abuse you is the only thing that will set a person completely free from the pain and devastation the abuse causes. It takes the help of God to forgive, I realize, but He is right there waiting to help a person forgive, when they are ready — ready to be set completely free and be made whole.”

Dit is die moeite werd om die res van die artikel ook te lees.

Basiese riglyne en waarhede oor vergifnis

Hier volg ’n paar riglyne oor vergifnis:

  • Vergifnis is nie ’n emosie nie, maar ’n besluit. Jy hoef nie eers iemand te vergewe as die ergste gevoelens eers weg is nie (kyk ds Pieter Badenhorst se getuienis later).
  • Moenie telling hou nie: moenie dink dat mense mekaar ewe veel moet vergewe nie.
  • Moenie vir ’n belydenis wag nie. As jy ’n belydenis kry, spreek die persoon vry. As jy nie ’n belydenis kry nie, moenie ’n vergifnis uitspreek nie. Dit sal verhoudinge nog meer skaad. Bv as jy vir iemand ’n boek geleen het en die persoon ontken dat jy dit vir hom geleen het, moenie sê dat jy hom vergewe dat hy jou boek laat wegraak het nie.
  • Behandel die persoon in die toekoms asof dit nie gebeur het nie, tensy die vertroue geskend is. Indien vertroue geskend is, kan die verhouding nooit weer dieselfde wees nie – ’n mens hoef jou nie aan uitbuiting bloot te stel nie. Bv as ’n man herhaaldelik sy vrou slaan, kan die vrou die man vergewe, maar dit beteken nie sy moet hom steeds bly vertrou nie. So ’n verhouding kan genees, mits die skuldige ware berou betoon.

Toets jouself met 4 vrae oor vergifnis. Is die volgende waar of onwaar:

  1. Jy het nog nie ’n persoon vergewe as dit nie uit jou geheue verwyder is nie. Jy moet dus “vergewe en vergeet”.
  2. ’n Oortreder behoort nie vergewe te word voor hy nie omvergifnis gevra het nie.
  3. Vergifnis sal die pyn verlig.
  4. Die vertroue sal herstel word na vergifnis.

Die antwoord op al bogenoemde vrae is “onwaar”:

  1. Jy hoef nie te “vergewe en vergeet” nie, want dan staan jy die kans om aan uitbuiting blootgestel te word. Pasop egter vir “vergewe, maar nooit vergeet”. Met so ’n houding moet jy die vraag vra of jy werklik vergewe het.
  2. Soms gebeur dit dat die oortreder nooit omvergifnis vra nie. Dit beteken egter nie dat jy die persoon nie hoef te vergeef nie. Jy sal ’n onnodige las saamdra as jy dit doen. As die persoon egter nie omvergifnis vra nie, dan kan die vertroue moontlik geskend wees.
  3. Om iemand te vergewe, verlig nie noodwendig die pyn nie: as iemand ’n boek by jou geleen het en hy dit verloor het, sal die boek nogsteeds weg wees, selfs al vergewe jy die persoon. Jou gemoed sal egter baie ligter wees as wat jy die persoon nie vergewe nie.
  4. Die vertroue sal ook nie noodwendig herstel word nie. En dit moet nie noodwendig gebeur nie, want anders stel jy jou moontlik bloot aan uitbuiting.

As jy nie ander vergewe nie, dan gaan God jou nie vergewe nie en dit beteken dat jy nie die ewige lewe sal kan kry nie. Die Bybel is duidelik daaroor (kyk hier onder).

Vergifnis en selfbejammering

Vergifnis en selfbejammering loop hand aan hand. Mense wat seergemaak is vergewe nie omdat hulle hulleself jammer kry. Hulle wil eers op ’n hopie sit en hulle gevoelens liefkoos en om dit effektief te kan doen, kan hulle nie die persoon vergewe nie.

Byvoorbeeld, as iemand ’n gunsteling boek van jou geleen het en dit laat wegraak het is dit ’n groot verlies en daarom is daar die versoeking om jouself jammer te kry oor jou groot verlies wat jy gely het. Daarom wil jy eers die gevoel van verlies liefkoos en word dit baie moeilik om te vergewe.

Nie onvergifnis of selfbejammering was ooit deel van Jesus se karaktereienskappe nie. Die Bybel sê dat ons moet streef om meer soos Jesus te word (2 Kor 3:18), daarom moet Christene ten alle koste wegbly van selfbejammering.

Hoe om omvergifnis te vra

Alhoewel hierdie dokument hoofsaaklik daaroor gaan oor om ander te vergewe, is dit ook van pas om vinnig iets te sê oor hoe om omvergifnis te vra: Dit is altyd beter om te vra of die persoon jou sal vergewe as om slegs jammer te sê. Indien jy jammer sê, sit jy nog met die mag, want slegs jy weet hoe jammer jy regtig is.

Hoe weet jy wanneer jy ’n persoon vergewe het?

As jy aan die persoon dink en jy ervaar die volgende, dan het jy hom/haar nog nie heeltemal vergewe nie:

  • Emosionele warboel.
  • Begeerte vir wraak.
  • Moeilik om God te vra om die persoon te seën.
  • Moeilik om die persoon se goeie kwaliteite raak te sien.
  • Wil hê ander moet weet wat die persoon gedoen het.

As jy die persoon vergewe het, behoort jy die volgende te ervaar wanneer jy aan die persoon dink:

  • Gewaarwording van rus en loslating.
  • Begeerte vir die persoon se geestelike herstel.
  • Begeerte dat God die persoon sal seën.
  • Dankbaarheid teenoor God vir hierdie persoon.
  • Nederig oor hoeveel jy teen God gesondig het en hoeveel Hy jou vergewe.

Die Bybel oor vergifnis

Hier volg ’n paar gedeeltes uit die Bybel oor vergifnis:

Eksodus 23:4-5

(4)”Wanneer jy ’n verdwaalde bees of donkie van jou vyand raakloop, moet jy dit beslis na hom toe terugbring. (5)”Wanneer jy iemand wat jou haat, se donkie sien lê onder sy vrag, moet jy hom nie sonder hulp los nie; gaan help hom met sy vrag.

Levitikus 19:17-18

(17)“Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie. Maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie. (18)Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

Spreuke 20:22

(22)Moenie sê: “Ek wil my wreek oor die kwaad wat my aangedoen is” nie; vertrou op die Here, en Hy sal jou help.

Matteus 5:23-24

(23)“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, (24)laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

Dus, selfs al het jy self vergewe en jy weet iemand anders het jou nie vergewe nie, moet jy steeds poog om versoening te bewerkstellig.

Matteus 18:21-35

(21)Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” (22)Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer. (23)Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met ’n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan. (24)Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het. (25)Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word. (26)Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’ (27)Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf. (28)”Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net ’n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: ‘Betaal wat jy skuld!’ (29)Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: ‘Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.’ (30)Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het. (31)”Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle diep teleurgesteld, en hulle het alles wat gebeur het, vir hulle koning gaan vertel. (32)Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het. (33)Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?’ (34)Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het. (35)”So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

Matteus 6:12-15

(12)en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; (14)”As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. (15)Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Efesiërs 4:31-32

(31)Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. (32)Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

Kolossense 3:13

(13)Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

Filippense 3:14

(14)…ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is…

Wat leer nabydoodondervindinge ons oor vergifnis

Sommige mense wat nabydoodondervindinge gehad het, bevestig die feit dat God jou nie sal vergewe as jy nie ander vergewe nie:

Angelica Zambrano

In Angelica Zambrano was shown the Kingdoms of Heaven and Hell, and the Return of Christ, skryf Angelica:

I asked Him, “Lord, why is my great-grandmother here? I don’t know if she ever knew you. Why is she here in hell, Lord?“ He replied, “Daughter, she is here because she failed to forgive…Daughter, he who does not forgive, neither will I forgive him.“

I asked, “Lord, but You do forgive, and You are merciful.” And He answered, “Yes, Daughter, but it is necessary to forgive, because they have not forgiven many people, and that is why many people are in this place, because they failed to forgive…Go and tell humanity that it is time to forgive, and especially My people, for many of My people have not forgiven. Tell them to rid themselves of grudges, of resentment, of that hatred in their hearts, for it is time to forgive! If death were to surprise that person who has failed to forgive, that person may go to hell, for no one can purchase life.”

Daniel Ekechukwu

In Daniel Ekechukwu – Raised from the Dead “Officially Died for 42 hrs & experienced Heaven & Hell ” Video word die volgende gesê: “His testimony of Heaven and Hell is important because it highlights the importance of forgiveness. Had God not given him mercy, Daniel would have had to stay in hell because he did not forgive his wife before he died.”

(Vir meer oor nabydoodondervindinge, kyk Nabydoodondervindinge: illusie of eg?)

Ds Pieter Badenhorst se getuienis

(kyk ook Pieter Badenhorst se getuienis oor vergifnis)

Hier volg ’n transkripsie van ’n gedeelte van ds Pieter Badenhorst se getuienis wat hy by die NG Kerk Secunda Goedehoop gemeente afgelê het (in ongeveer 2009). Sy ma in Dewetsdorp is vermoor en hy is verbitterd teenoor die Here en die moordenaar. Die transkripsie begin die aand voor hy na Dewetsdorp ry om sy ma te gaan begrawe:

… Ek is so kwaad. Nou lê ek in die bed en sê: “Here, as jy daar is en jy hoor my, dan sê ek nou vir jou, dit is sout in die wonde vryf. Maar weet jy wat, ek sal dit doen [sy ma begrawe]. Ek sal jou wys. Ek sal nog vir oulaas vir daardie klomp mense in Dewetsdorp gaan lieg. Maar dan is dit klaar.”

Nou klim ons daardie Maandag in die kar, maar hierdie geveg [met God] gaan net aan… Die kinders sit met sulke groot oë… Nou weet ek my vrou weet dinge is nie lekker nie, maar ek lieg al die pad. Kort-kort sê sy vir my: “Is jy OK?” Dan sê ek “ja”, maar ek lieg, want ek is nie. En iewers daar in die Karoo is dit of ek vir myself sê: “Jy is heeltemal simpel. Jy moet net ’n bietjie realisties raak. Jy is nou al vir meer as 24 uur besig met hierdie geveg met die Here. En elke keer as jy klaar met Hom gepraat het, dan weet jy nie eers meer of Hy nog daar is nie en dan begin jy voor. Dan doen jy die geveg oor. Hoe lank gaan jy hiermee aangaan? Stop dit nou. Maak nou klaar. Jy is ingedoen, kry die Here van jou lyf af. En jy is simpel oor hierdie moordenaar ook. Jy dink aan al hierdie verskriklike dinge wat jy met hierdie ou gaan doen, maar as jy dit doen gaan jy in die tronk beland. Kry nou die Here en die moordenaar van jou lyf af. Gaan aan met jou lewe.”

En ek besluit: cut. Maar ek dink ek is vreeslik oulik en ek sê: “Kyk nou hoe ek vir oulaas met die Here gaan praat.” En ek sê vir die Here: “Here, as jy my hoor, en jy is daar, dan sê ek nou vir jou dat ek nooit weer so ’n God wil aanbid nie. Ek is klaar met jou en ek sê nou hiermee koebaai vir altyd.”

Maar ek kry hierdie ingewing en ek dink: Weet jy wat? Miskien moet jy hierdie ou vergewe. Dit gaan mos in elk geval nie werk om hom te vergewe nie. Dan het jy ’n bewys om vir mense te sê: julle sien, dit is ’n speletjie hierdie. (Wat in my kop op daardie oomblik was dat ek so kwaad is dat ek nie voel om hierdie ou te vergewe nie.) Dan kan ek mos heel vroom sê dat ek hom vergewe het, maar dat dit nie gewerk het nie – net om die Here ’n punt te bewys. Min het ek daardie tyd besef dat vergifnis niks met emosie te doen nie. En ek sê: “OK Here, ek vergewe hierdie ou. Ek is in elk geval ingedoen – my ma is in elk geval dood. Ek kan in elk geval niks met hom maak nie. So ek vergewe hom. Ek spreek hom vry. Ek knip die tou.”

Ek kan nie vir julle sê wat op daardie oomblik met my gebeur het nie. Ek kon dit eintlik nog nooit vir mense beskryf nie. Toe ek dit sê, het ek ’n fisiese belewenis. Dit voel vir my of iemand ’n vel van my lyf af pluk. So van my kop tot by my tone. En die volgende oomblik is alles weg: elke negatiewe emosie, elke stukkie wrewel, weg. Dit voel vir my asof ek in ’n lugleegte sit. Ek sê vir julle, ek skrik vir my wit! En ek besef dat hier nou iets bonatuurliks gebeur het waarmee ek glad nie rekening gehou het nie, wat ek glad nie verwag het nie. Ek weet glad nie wat om hiermee te maak nie. Ek was yskoud. En in die volgende breukdele van sekondes flits ’n klomp goed deur my kop. En ek besef in daardie oomblik hoe die Here my eintlik voorberei het hiervoor en hoe ek dit eintlik nie gesien het nie en dat die duiwel dit eintlik probeer keer het voor die tyd…

(Hierdie transkripsie is nie 100% identies aan die werklike getuienis nie – sekere woorde is uitgelaat of die volgorde van sekere woorde is verander slegs sodat dit taalkundig meer korrek is. Die betekenis is egter glad nie verander nie.)

Aanhalings – Vergifnis

Daar is twee soorte vergifnis: Die soort waar jy vergewe en die persoon nog ’n kans gee en die soort waar jy vergewe, maar sonder die persoon aanbeweeg. Gebruik beide wys. (There are two kinds of forgiveness. The kind when you forgive and you give them another chance or the kind you forgive but you move on without them. Use them both wisely.)

Ander bronne

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui