Vrede

Inleiding

In die fliek Miss Congeniality (2000) speel Sandra Bullock die rol van Gracie Hart, ’n baie toegewyde FBI-agent, wat onder die dekmantel aan die Mejuffrou Amerika skoonheidskompitisie deelneem. Tydens die kompetisie word die volgende in ’n onderhoud met haar gesê:

Stan Fields: What is the one most important thing our society needs?
Gracie Hart: That would be harsher punishment for parole violators, Stan.
(die gehoor is tjoepstil.)
Gracie Hart: And world peace!
(die gehoor gee ’n harde applous.)

Wanneer mens die woord “vrede” hoor, dan is dit gewoonlik hierdie vrede waaraan ’n mens dink – om in vrede met jou medemens oor die weg te kom.

Bybel

Om in vrede met mense saam te leef is inderdaad belangrik vir Christene. In Romeine 12:18 staan:

As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Let egter op die woorde “…sover dit van julle afhang…”. Waarvan hang dit af?

Jesus bring nie vrede nie

In Matteus 10 sê Jesus dat Hy NIE gekom het om vrede te bring nie:

(34)“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. (35)Ek het gekom om tweedrag te bring
“ ‘tussen ’n man en sy vader
en tussen ’n dogter en haar moeder,
tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder;
(36)ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.’ (37)“Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. (38)Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie. (39)“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

Hier sê Jesus dat gehoorsaamheid aan Hom baie belangriker is as vrede tussen mense. Met ander woorde, God verwag gehoorsaamheid aan Hom selfs al veroorsaak dit vyandskap met mense.

‘n Ander vrede

In Johannes 14:27 sê Jesus wel dat Hy vir ons vrede gee:

“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.

Meermale kan vrede slegs verkry word deur te skei

‘n Paar jaar nadat Jesus hierdie gesê het, het die egste vervolging onder Christene begin in die Romeinse Ryk. Dit het vir amper 300 jaar aangehou. Let egter daarop dat Jesus sê dat hierdie vrede nie die soort vrede is wat die wêreld gee nie. Ons vrede lê daarin dat ons nie van hierdie wêreld is nie, maar dat ons slegs pelgrims in hierdie wêreld is.

Dit sluit aan by:

Johannes 17: (16)Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie.

Vrede is nie die afwesigheid van moeilikheid nie. Dit is die teenwoordigheid van Christus te midde van daardie moeilikheid.

1 Johannes 2: (15)Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie.

Hebreërs 11: (13)…en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.

Filippense 3: (20)Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.

Gevolgtrekking

Die mees betekenisvolle vrede wat Christene kan ervaar is die wete dat God daar is TEN SPYTE van die storm waarin jy jouself bevind. Dat ons slegs tydelik in hierdie wêreld is en dat alle onaangename ervarings slegs tydelik is: of dit reeds in hierdie wêreld tot ’n einde kom of eers nadat jy tot sterwe gekom het.

Hierdie vrede bring ook vryheid om nie onrealistiese hoop te hê dat aardse dinge beter sal word nie.

Verdere leeswerk

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui