Hoe kan ’n almagtige, liefdevolle God toelaat dat boosheid bestaan?

Die vraag word soms gevra:

Hoe kan ’n almagtige en liefdevolle God boosheid toelaat in die wêreld, veral as Hy vooraf geweet het dat die aarde uitmekaar sou val nadat Hy dit geskep het en dat ons gruweldade en siekte en swaarkry sou beleef?

’n Mens kan selfs byvoeg: Hoe kon God mense geskep het met die wete dat meeste van hulle hel toe sou gaan (Mat 7:14)?

Hierdie is waarskynlik een van die moeilikste vrae in die lewe. Hierdie word ’n trilemma genoem:

  1. As God nie in staat is om boosheid te voorkom nie, dan is hy nie almagtig nie.
  2. As God nie gewillig is om boosheid te voorkom nie, dan is hy nie goed nie.
  3. As God beide in staat is en gewillig is om boosheid te voorkom, hoekom is daar dan nog boosheid?

As Christene glo ons dat God wel almagtig is en dat God alle boosheid kan uitwis, soos hy op die oordeelsdag sal doen. Maar hoekom dan nie nou al nie? Ons sal hierdie vraag waarskynlik nooit 100% kan antwoord nie. Daar is egter ’n paar dinge te sê hierop:

Die morele wetgewer

As ateïs kan jy nie hierdie argument gebruik om te argumenteer teen die bestaan van God nie.

CW Lewis het die volgende gesê: “Dit is uiters belangrik om die aannames in ’n vraag te ondersoek.”

As jy sê daar is boosheid, dan sê jy ook dat daar goed is.

As daar goed is, dan is daar ’n morele wet wat onderskei tussen goed en sleg.

As daar ’n morele wet is, dan moet daar ook ’n morele wetgewer wees.

Ateïste probeer egter die morele wetgewer verkeerd bewys, maar as daar nie ’n morele wetgewer is nie, dan is daar nie ’n morele wet nie en dan is daar nie iets soos goed of sleg nie.

Pyn is nuttig

Daar is ’n siekte genaamd CIPA (congenital insensitivity to pain with anhidrosis) (aangebore insensitiwiteit vir pyn met anhidrose). Lyers van hierdie siekte kan nie pyn, hitte of koue voel nie. Dit skep ’n reuse probleem, want pyn beskerm jou van baie dinge – as jy jou hand naby ’n warm voorwerp bring reageer jy op die pyn wat dit veroorsaak om jouself van erger pyn en besering te beskerm.

Pyn laat weet jou dat daar is iets fout is.

Netso kan emosionele pyn en swaarkry vir jou laat besef dat daar sonde in jou lewe is wat jy nog moet hanteer.

Bewyse vir ’n skepper

Die bewyse vir die bestaan van ’n skepper God is oorweldigend. Kyk byvoorbeeld Hoekom glo ons in die bestaan van God? ’n Mens kan nog debateer oor God se karakter, maar dit is totaal sinneloos om Sy bestaan te ontken.

Opstand is futiel

Veronderstel God is werklik ’n wrede, liefdelose God, dan sou dit fataal wees om in opstand teen Hom te kom. Dit sou dan veel beter wees om seker te maak jy doen wat hy sê. As jy in die veld stap en ’n honger leeu storm op jou af, gaan dit veel help om te dink: “Ek hou nie van honger leeus in die veld wat my wil opvreet nie. Hierdie leeu bestaan nie.” Netso gaan dit nie help om God te ontken en te hoop dat Hy nie bestaan nie.

As jy lief is vir iemand, stel hom vry…

Die spreekwoord lui: “As jy iets lief het, stel dit vry. As dit terugkom is dit joune. As dit nie terugkom nie, was dit nooit joune in die eerste plek nie.”

God kon robotte geskep het wat geprogrameer was om Hom lief te hê en te gehoorsaam, maar dan sou dit nie liefde wees nie. Hy wou mense hê wat Hom liefhet uit eie keuse.

Verder sou ’n mens kon redeneer dat die kritiek teen God net soveel erger sou wees indien Hy mense sonder vrye wil geskep het.

Invloed van die sondeval

Alhoewel die vraag hierbo wel die sondeval in ag neem, moet iets gesê word oor die sondeval. Daar is mense wat glo dat God wreed is omdat Hy die wrede proses van evolusie gebruik het om te skep (kyk onder andere wat sê Jacques Monod en Charles Templeton in Aanhalings – Is Evolusie en die Bybel versoenbaar?). Dit is egter nie waar nie. Die dood en swaarkry wat ons vandag ondervind was nie teenwoordig toe God aanvanklik geskep het nie. Alhoewel God geweet het dat Adam en Eva sou sondig was dood en swaarkry nie deel van die aanvanklike skepping nie. God móés die mens egter ook vrye wil gee, anders was hulle robotte wat nie in staat sou wees om vir God lief te wees nie (liefde kom uit vrye wil).

Kyk ook Die Bybel oor skepping vs evolusie: Sondeval en Dood.

Hoekom vernietig God nie die bose nou nie?

Ons weet dat God die duiwel en sy bose geeste gaan vernietig aan die einde. Maar hoekom doen hy dit nie nou nie? As dit ’n geldige vraag is, dan is dit ook geldig om te vra hoekom God ons almal nie nou doodmaak nie, want almal is boos. (Kyk Dink jy dat jy ’n goeie mens is?)

Ons eie skuld

Daar is iets te sê daarvoor dat die mensdom swaarkry oor homself bring. Daar is die storie van ‘n haarkapper wat ‘n ateïs was. Eendag sê een van sy kliente dat hy nie glo dat haarkappers bestaan nie. Toe die haarkapper baie verstom staan oor hierdie stelling, wys die klient iemand op straat met lang, onversorgde hare. Die haarkapper reageer en sê: “Dit beteken mos nie dat haarkappers nie bestaan nie. Ek kan mos sy hare sny.” En so is dit ook met God. As almal in die wêreld na God gekom het, sou daar baie minder swaarkry gewees het.

Hierdie storie spreek egter nie swaarkry aan wat nie jou skuld is nie.

Herinnering aan tydelike aard van ons bestaan

Swaarkry herinner ons aan die tydelike aard van ons bestaan hier op aarde.

Kyk We live in a fallen world – Derek Prince.

Verdere bronne

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui