Versoening: ’n Geskenk wat die NG Kerk nie weer mag weier nie

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Versoening: ’n Geskenk wat die NG Kerk nie weer mag weier nie – Kerkbode

Johan van der Merwe

27 November 2023

“Die Here gee aan sy kerk die gawe van versoening om sy koninkryk in hierdie wêreld te bou.” Hierdie woorde van ’n vorige moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk, ds Freek Swanepoel, maak dit duidelik hoe belangrik versoening as deel van die kerk se roeping in hierdie wêreld is. Tog vertel die geskiedens van die NG Kerk die verhaal van ’n kerk wat nie juis ’n onderskeiding in die module sou kry nie.

Terwyl die Algemene Sinode van 1994 ’n groot uitsondering is omdat versoening tydens en na die vergadering rigtinggewend vir die kerk se roete na 1994 was, is die geskiedenis van die NG Kerk deurspek met voorbeelde waar onversoenbaarheid tot groot pyn en skade vir die kerk gelei het. In breë verband dink ’n mens onwillekeurig aan die ontstaan van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in 1853, die ontstaan van die Gereformeerde kerk in 1859, die Loedolffsaak van 1862, die Du Plessis-stryd van 1932 en die ontstaan van die Afrikaanse Protestanste Kerk in 1987. Konflik, onversoenbaarheid en skeuring maak egter ook die hartseer verhaal van baie gemeentes uit.

LEES OOK: Cas Wepener: Kersfees en ’n Ma se Mahala

Nou is die gerugte en tekens na die Algemene Sinode weer daar. Die groot vraag is wat die NG Kerk hierdie keer gaan doen of nie gaan doen nie. Miskien is dit nodig dat elkeen wat ’n rol van watter aard ook speel, op pad na Versoeningsdag en Kersfees eerlik en diep daaroor nadink – oor die gawe van versoening wat die Here ook aan die NG Kerk gegee het. Miskien kan dit gebeur dat die NG Kerk hierdie geskenk in 2024 opnuut aanvaar en daarmee erns maak. Dit mag beteken dat daar vergeet moet word van water wat reeds spreekwoordelik onder die brug deur is en van die koeël wat deur die kerk is.

Dit mag dalk vra dat ons moet ophou met verdagmakery op sosiale media en eerder opnuut na mekaar moet luister en met mekaar moet praat ter wille van die kerk en die koninkryk! Dit mag dalk vra dat daar ook kerkordelik teruggegaan moet word na die tekenbord, dalk na ’n skoon vel papier om ook kerkregtelik ruimte te skep terwyl ons mekaar bly vashou. Wyle aartsbiskop Desmond Tutu het op ’n keer gesê: “Don’t ever underestimate God. He is a God of surprises”.

2024 word dalk net die jaar van buitengewone verrassings vir die NG Kerk as die kerk regtig erns gaan maak met die gawe van versoening. Dit is ’n gawe wat die kerk nie weer mag weier nie.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.

Kommentaar

Daniel Louw

Ek is jammer om te sê, maar dit is naïef om nog op hierdie stadium te hoop dat die NG Kerk nie gaan skeur nie. Die verskille gaan nie oor randsake nie, maar oor kernsake. Die meerderheid in die NG Kerk voel dat daar ruimte geskep moet word vir hierdie teologiese verskille wat op die tafel is – ‘n ruim huis. Die enigste manier om die behoudende minderheid in die NG Kerk te behou is om aan hulle eise gehoor te gee. Dit is egter nie realisties of billik nie. Daarom is skeiding die enigste manier om vrede te verkry.

Theo Danzfuss

28 November 2023

Prof. Johan van der Merwe se rubriek is ’n aangename vars briesie in die huidige verwarrende kerklike atmosfeer. Sy oproep “dat elkeen wat ’n rol van watter aard ook speel, op pad na Versoeningsdag en Kersfees eerlik en diep daaroor nadink – oor die gawe van versoening wat die Here ook aan die NG Kerk gegee het” is baie dringend en tydig. Miskien moet ons eerder sê op pad na Geloftedag, aangesien Geloftedag (al val dit op dieselfde dag as Versoeningsdag), ons juis herinner aan die gawe van versoening vanuit ‘n vertikale perspektief.

Met groot respek teenoor die skrywer is daar tog ‘n belangrike element van egte versoening wat in die rubriek skort, naamlik die verhouding tussen waarheid en versoening. Daarom is dit nie duidelik wat Johan bedoel met: “Dit mag beteken dat daar vergeet moet word van water wat reeds spreekwoordelik onder die brug deur is en van die koeël wat deur die kerk is.” Bedoel hy dat ons nou maar moet vergeet wat die Woord ons leer oor al die on-Skriftuurlike koeëls waarmee die kerk steeds gebombardeer word? Verstaan my asb reg, daar is geen twyfel oor die feit dat die meeste behoudendes soek na ware versoening nie. Dink maar aan die drie skriftelike uitnodigings tot onpartydige mediasie wat Kairos Netwerk en Kononia Sinodale Diensgroep namens ‘n groot getal lidmate en gemeentes aan die vorige ASM gerig het, plus ‘n soortgelyke skriftelike uitnodiging aan die 2023 Algemene Sinode in sitting. Soos u weet was almal geweier met die flou verskoning oor “locus standi” wat geen kerkregtelike of regsgronde het nie, en nog minder vanuit die Woord en die eis van christelike liefde, geregverdig kan word. Ten spyte daarvan is die meeste behoudendes steeds oop vir Bybelse versoening. Juis daarom is Koinonia Sinode se konsep “Skrifgetroue gemeentes- en lidmate se pad vorentoe” ook aan die nuwe ASM gestuur en steeds oopgelaat vir kommentaar voordat dit na raming teen einde Januarie gefinaliseer sal word.

Een ding is dus seker: Meeste behoudendes is oop vir versoening. Egte versoening groei egter slegs vanuit ‘n vertikale perspektief. Dus geen versoening ten koste van die waarheid van die Woord nie. Slegs as ons mekaar op gelyke voet ontmoet in eerlike openlike gesprekke vanuit die Woord, kan ons weer eenheid kry soos Paulus in Ef 4: 15 sê: “Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam”. In vers 3 noem hy hierdie eenheid in waarheid: “…die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het…”. Egte versoening kan nie die on-Skriftuurlike koeëls wat reeds deur die kerk is, en wat die kerk steeds bombardeer, onder die tafel invee terwille van eenheid ten koste van die Bybelse waarheid nie.

Ja, egte versoening is noodsaaklik, maar slegs op die pad van reformasie, terug na Sola Scriptura.

5 thoughts on “Versoening: ’n Geskenk wat die NG Kerk nie weer mag weier nie”

  1. Daniel . In die wereld waarin ons leef, nie net Suid Afrika nie, oral, dink ek dit is baie duidelik dat ons die Kersfees boodskap en dus die verhaal van Jesus nodig het. n verhaal van Liefde, Versoening, sonder oordeel, vrede , geregtigheid ens ens. As dit nie baie duidelik kern sake is nie, dan het ek min hoop vir die Kerk van Jesus Christus om te bly bestaan. Die res is verseker randsake

    1. Ponkie, In Matteus 10 het Jesus gesê: “(34)”Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. (35)Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder; (36)ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.’ (37)”Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. (38)Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.”

      Wat verstaan jy hiervan? Waarop is dit van toepassing? Kyk ook:

      1. Daniel ek verstaan nie wat jy probeer sê nie. Dit klink so asof jy in ‘n geslote , afgesonderde wereld leef, ver van die werklikhied. Voorbeeld: Ek werk in die groter kaap waar NGK Kerk Tafelberg maar 150 lidmate het. Ek werk in een kantoor saam met 30 ander waarvan 2 , ingesluit myself , 2 NGK mense is. Dat meeste wat gelowing is , is Moslems, ‘n paar Katolieke, en ander wie se kerk verband vaag is. Ook 2 Gays. Jou sê hierbo “Ontrek jou van mense wat nie soos jy is nie” Maar daai onverdraagsaamheid kry mens net in die Kerk. Ons 30 in die kantoor leef in versoening en werk elke dag saam sonder konflik vir ‘n gemeenskaplike doel. Nou kom sê jy vir my , ek as bestuur moet Jesus se swaad uitgehaal het ? Ek dink jy lees Mat 10 heeltemal verkeerd. Kom terug aarde toe en word deel van die werlikheid en Gods se koningkryk sonder oordeel.

        1. Ponkie, dit is presies wat Paulus ook sê in 1 Korintiërs 5:9-13. Jy kan nie sondaars in die wêreld vermy nie, maar jy moet jou distansieer van mense wat hulleself Christene noem maar wat nie met die sonde wil breek nie.

  2. Prof. Johan van der Merwe skryf ‘n ooglopende baie mooi brief, en sy woorde dra ‘n warmte en tegemoetkomendheid wat mens vinnig betrek in die lees daarvan, maar dié vorm van ”WOORDE SPEL”, moet mens met groot omsigtigheid benader, veral waar “Desmond Tutu” ook betrek word as kenner van versoening. Tutu was ‘n misleide leier van formaat, en dit is tragies, dat baie Suid-Afrikaanse teoloë en leraars, hom nie ernstig aangespreek het oor heelwat van sy onbybelse stellings nie.

    “Versoening” ten diepste, was Christus aan die kruis, om die méns met God te versoen deur Sy Bloed. Enige vorm van versoening, veral vir ‘n christen, wat nié hierdie grondslag as basis stel nie, en nie die kenmerke dra wát hierdie versoening wérklik veronderstel nie, is besig met die bouwerk van ‘n huis op sand sonder enige fondasie.

    Versoening veronderstel belydenis van sonde voor God, en ten diepste en omvangryk, en tot op die been. Voor God, lieg ‘n mens nie.

    Die NG Kerk het egter ”sonde” herdefinieer, soos baie ander kerke,en selfs unieke gewigte aan verskillende sondes toegeken,

    En meesste leraars en kerkrade, kyk lánkal nie meer in die Bybel se spieël nie, maar verkies eerder mekaar as ”die spieël van myself”. Luister maar na hul preke en hul gesprekke. So dood soos ‘n mossie vir die mens se gees; soos ”popcorn” wat hul opdis as ‘n vyfstergangmaaltyd. Spoeg uit hul woorde, want slange sal uitbroei uit daardie mooipraatjies, waar mens dit glo en eet. Christus lééf nie in baie van hul harte nie.

    Hul aanbid hulself. Bly weg van hul af, want hul stuur baie mense hel toe.

    Baie van hul is besig met heksery, en hul wis dit nie eens, hul groot geleerdheid ten spyt. Ek het dit sélf by hul ervaar menigmaal, en eers na lees en lees en lees van baie boeke in die Bybel, dit besef.

    Die duiwel is in hul midde.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui