Sulke mense leef in ’n gekkeparadys

*******

Sulke mense leef in ’n gekkeparadys | Netwerk24

Louis Smith, Strand

Die Burger, 27 November 2023

Anton van Niekerk se brief “Die waarheid het ’n manier om seer te maak” (23.11) het betrekking.

Sy kommentaar na aanleiding van prof. Johan Janse van Rensburg­ se artikel (18.11) bevat ’n paar aanvegbare stellings.

Onder meer ontken hy dat hy ’n postmodernis is, hoewel baie van sy menings die teendeel bewys. Postmoderne denkers veronderstel dat die Bybel nie die onfeilbare en ewige woorde van God bevat nie, maar wel net menings van mense oor God en dat dit daarom aangepas moet word volgens die lewensbeskouing van “moderne” mense.

Sulke mense is gemaklik daarmee dat die NG Kerk ’n ruim huis is wat verskillende interpretasies van die Bybeltekste aanvaarbaar vind en daarom bepleit hulle dat ortopraksie verkies moet word bo ortodoksie.

Kortom beteken dit dat wat in die samelewing (praktyk) aanvaarbaar is binne die breë raamwerk van liefde, voorkeur moet kry bo die lering van die Bybel (ortodoksie), wat reeds duisende jare anders daaroor praat.

Vir getroue volgelinge van Christus is die Bybel die onfeilbare woord van God vir tyd en ewigheid. Die waarheid vind ons in die Bybel, daaroor hoef ons nie in onsekerheid te leef nie.

Die Bybel leer ons dat ons God bo alles moet liefhê en daarnaas ons medemens soos onsself. Die liefde is belangrik, maar gehoorsaamheid aan God veel meer.

Enigeen wat soos Van Niekerk glo dat om te arbei in die uitvoering van die liefde sonder om getrou te wees aan die volledige Woord van God (ortodoksie) die wêreld ’n beter plek sal maak, leef in ’n gekkeparadys.

God regeer, nie mense nie.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui