Koinonia Sinode hou saamtrek by Kaapse gemeente

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Koinonia Sinode hou saamtrek by Kaapse gemeente – Kerkbode

28 November 2023

Die leierskap van ’n groepering “behoudende” gemeentes sê hulle bly deel van die NG Kerk al sou hulle besluit om alle bande op te skort met die Algemene Sinode.

“Ons bly NG Kerk en ons wil die slegte naam wat deur vrysinnigheid ingesluip het van binne af herstel. Ons uiteindelike mikpunt is bekering,” het ds Helgard Janse van Rensburg Vrydag op 24 November tydens ’n halfdag-“terugvoersessie” in die Strand oor die Algemene Sinode 2023 gesê.

Lees ook: Elders gesien: Herderlike brief van die Algemene Sinode 2023: ‘Gaan voor ons uit, Here’ 

Dié Vrystaatse gemeenteleraar en oud-moderator is een van die leiers van Koinonia Sinode (KS), ’n groepering van 56 gemeentes wat in Mei vanjaar gevorm is. Hy is ook deel van die Kairos Netwerk wat hierdie saamtrek gereël het en sê hulle wil die kerk van binne reformeer.

Die Koinonia Sinode Diensgroep (KSD), die naam van KS se verkose leierskap, het op 1 November vergader om na afloop van die afgelope Algemene Sinode te “besin oor die pad vorentoe vir Skrifgetroue NG gemeentes en lidmate”, luidens ’n inligtingstuk wat by die oggendsessie versprei is. Daarin staan ook dat KSD alle bande opskort met die Algemene Sinode (AS) maar verband behou met ringe en gemeentes “wat getrou is aan ons lidmaat-, legitimasie- en ampsbeloftes en hulle openlik distansieer van die dwalinge van die Algemene Sinode en die teologiese fakulteite”.

Lees ook: Elders gelees | Die Koinonia-Sinode van die Kairosbeweging: Algemene Taakspan Regte adviseer

Die byeenkoms is deur sowat 100 mense van gemeentes in Kaapse voorstede asook die Overberg, selfs Fraserburg in die Karoo en Jeffreysbaai in die Oos-Kaap bygewoon en is deel van ’n reeks sulke ontmoetings wat ook in ander provinsies plaasvind.

Kommentaar

Daniel Louw

Vir die afgelope 15 jaar was daar al dosyne pogings om die NG Kerk terug te bring na die waarheid (kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap) en nogsteeds word gesê: “Ons uiteindelike mikpunt is bekering”.

Dit klink baie edel, maar dit is onrealisties en nie eers Bybels nie. In Matteus 10:14 stuur Jesus “die twaalf” (sy dissipels) uit en sê vir hulle: “As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af.

Dit is tyd dat behoudendes besef dat dit tyd is om ‘n vals kerk (volgens Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 29) te verlaat.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui