1 Korintiërs 5:9-13 (moenie saam met hulle eet nie)

1 Korintiërs 5:9-13

(9)In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. (10)Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee. (11)Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. (12)Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. (13)Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!”

In hierdie gedeelte gee Paulus die opdrag om mense te vermy wat beweer dat hulle gelowiges is, maar steeds aanhou sonde doen. In vers 11b sê hy dat ‘n mens nie saam met sulke mense moet eet nie.

In die Joodse kultuur is dit betekenisvol wanneer mense saam eet. Dit is ‘n gebaar van vrede.

In Dr Randall Smith se “Psalm 23, The Shepherd and His sheep” vertel hy die volgende:

In 1993 het Yitzhak Rabin (eersteminister van Israel) en Yasser Arafat (van die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PLO)) die eerste Oslo-ooreenkoms onderteken in Washington, D.C. Die volgende dag was daar ‘n foto op al die koerante se voorblaaie waar Yitzhak Rabin en Yasser Arafat by die Withuis in Amerika, hande skud met president Bill Clinton in die agtergrond, wat sy hande op beide gesit het as ‘n teken dat daar eenheid tussen die twee nasies was.

In die koerante in Israel het daar egter fotos verskyn waar hulle saam geëet het.

Dit gee mens ‘n idee hoe belangrik die Jode dit sien om saam te eet.

Die Fariseërs het vir Jesus daarvan beskuldig dat hy saam met sondaars en tollenaars eet:

Mat 9:11; Mat 11:19; Mark 2:16; Luk 5:30; Luk 7:34; Luk 15:2.

Hoekom sou Jesus saam met goddelose mense eet, maar Paulus gee die opdrag om dit nie te doen nie? Is dit ‘n teenstrydigheid in die Bybel?

Die verskil is tussen Jesus se dade en Paulus se opdrag is:

Jesus het saam met mense geëet as ‘n geleentheid om hulle te vertel van die Evangelie.

Paulus se opdrag was teenoor mense wat hulle verhard het teen die Evangelie. Jesus het in Matteus 10:14 basies dieselfde opdrag gegee as wat Paulus in 1 Korintiërs gegee het:

(14)As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af.

Wanneer mense hulle harte teen die Evangelie verhard het, dan is daar niks meer wat ‘n mens kan doen om daardie mense te oortuig nie.

Dit is waarskynlik ook wat Jesus in gedagte gehad het toe Hy gesê het dat sonde teen die Heilige Gees nie vergewe kan word nie (Mat 12:31-32; Mark 3:28-30; Luk 11:14-23). Dit gaan nie noodwendig daaroor dat dit ‘n onvergeeflike sonde is nie, maar wanneer ‘n persoon eers die Heilige Gees se duidelike leiding verwerp het, dan is omdraai bykans onmoontlik.

 

 

 

 

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui