NGK: 45% minder gedoop

Kyk ook:

In kort: Dit gaan beroerd met die NG Kerk.

************

NGK: 45% minder gedoop | Netwerk24

Deur Johan Eybers

13 Oktober 2019 00:02

Regstelling:

Hierdie berig het vroeër gestel dat die NG Kerk (NGK) nou 81% minder dooplidmate het. Dit was die syfer soos gestel in die NGK se agenda vir die 17de vergadering van die Algemene Sinode. Hierdie berekening was egter verkeerd. Die kerk het net 45% minder dooplidmate.

Die getal belydende lidmate het oor dieselfde tyd met 26 % gedaal en nie 35% nie en 11% van gemeentes is gesluit, nie 12% gemeentes nie. Die kerk het ook in 2018 684 723 belydende lidmate gehad en nie net 102 574.

—————–

Die NG Kerk (NGK) het nou 45% minder dooplidmate as 20 jaar gelede, wys syfers wat die afgelope week by die kerk se algemene sinode bekend gemaak is.

Die kerk het in 1998 337 232 dooplidmate gehad, teenoor net 186 521 in 2018. Die afname in die getal belydende lidmate in 20 jaar was 26% en die kerk het in dié tyd 11% van sy gemeentes gesluit.

Jean Oosthuizen, ’n voormalige nuusredakteur van Kerkbode en skrywer van Die opkoms en ondergang van die NG Kerk, meen die kerk flous homself oor die redes vir die verlies aan lidmate.

[Kommentaar: Jean Oosthuizen het daartoe bygedra dat liberale teologie in die kerk ingedra is. Dit is my insiens een van die redes vir die NG Kerk se vermindering in getalle.]

“Die kerk sê sy lidmate emigreer en daar is minder geboortes. Maar die werklike rede vir die afname is sekularisasie en dat mense eenvoudig nie meer belang stel om kerk toe te gaan nie,” sê hy.

“Die Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerk is in dieselfde situasie. Dit bereik nou ’n punt waar daar nie meer plek is vir drie susterskerke om die Afrikaanse mark afsonderlik te bedien nie.

“Op die platteland is daar plekke waar so min as 30 mense in elkeen van die drie susterskerke sit. Dit maak net nie sin nie,” sê hy.

Ouer as 60

Volgens Oosthuizen wys die skerp daling in nuwe dooplidmate, terwyl die belydende lidmate stadiger verminder het omdat kerklidmate al ouer raak.

“Die realiteit is dat die meeste van die NGK se lidmate nou ouer is as 60. Dit het ’n kerk geword vir gryskopooms en -tannies.

”Oosthuizen sê hoewel die NGK nie meer so ’n groot rol in die land speel soos in die vorige bedeling nie, het dit steeds ’n belangrike funksie op plaaslike vlak. “Die kerk doen steeds reuse-werk op maatskaplike vlak en is by verskeie welsynsprojekte betrokke soos die versorging van bejaardes, vroeë kinderontwikkeling en opheffingsprojekte.”

Chris Jones, hoof van die eenheid vir morele leierskap in die teologiefakulteit aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê die kerk is in ’n oorlewingsituasie.

“Sowat twee derdes van die NGK se lidmate is glad nie meer by die kerk betrokke nie en net 37% van sy lidmate woon eredienste by. Net 10% kan werklik as lojale lidmate beskou word.

“Die probleem vir die Kerk is dat hy nie werklik te veel kan sê oor geregtigheid of versoening nie, want hy moet die heeltyd in gedagte hou hoeveel lidmate hy kan verloor.”

’n ‘Konflik-belade kerk’

Volgens hom verloor die NGK juis lidmate omdat dit ’n “konflik-belade kerk” geword het.

[Kommentaar: Dit is juis liberales soos Jones wat hierdie konflik veroorsaak. Hy sal natuurlik sê dat dit die behoudendes is wat nie ruimte vir ander wil skep nie.]

“Die bontspringery oor selfdegeslagverhoudings het die kerk groot skade berokken.”

Hy sê die kerk verloor mense aan die verligte kant van die spektrum omdat hulle meen die kerk beweeg te stadig én lidmate aan die behoudende kant omdat die kerk weer “te vinnig” beweeg. Hy sê sommige lidmate meen dat kwessies soos die skeppings- en sondeleer, die huwelik, LGBTQ-kwessies “en hoe ernstig ons die sosio-kulturele situasie van die Bybel as klassieke boek opneem wanneer ons dit lees en oorbring na die 21ste eeu” nie genoegsaam getakel word nie.

Hy sê sommige mense meen die institusionele kerk is ontwerp vir ’n tyd wat nie meer bestaan nie. “Die erediens bevredig hulle nie meer spiritueel nie. Dit gaan vir hulle eerder oor hoe ’n mens moet leef as oor wat die korrekte leerstellings of belydenisse is.”

‘Ons het te veel seergemaak’

Hy sê die Kerk sukkel verder om kerkeenheid met die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) – die swart NG Kerk – te bewerkstellig. “Ek dink die NGK gaan nie wegkom met hoe hy oor baie jare mense en prosesse hanteer het, en steeds hanteer nie. Ons het te veel mense te seergemaak en te veel geknoei wat sekere prosesse betref. Die kerk betaal ’n duur prys hiervoor.”

[Kommentaar: Die kerk betaal selfs ’n duurder prys omdat die Belharbelydenis in lidmate se keelgatte afgedruk wil word.]

Volgens die jongste syfers het die NGK sedert 2013 19 gemeentes gesluit en het hy nou 1 097 gemeentes oor.

In 1998 het hy 921 790 belydende lidmate gehad en dit staan nou op 684 723. Die getal predikante het in dié 20 jaar met 29% afgeneem van 1983 tot 1535.

Die kerk se taakspan kategese het bevind dat sy dalende jeuggetalle onder meer toegeskryf kan word aan “ ’n jeug wat slegs vermaak wil word tot groot werkloosheid onder jongmense in Suid-Afrika en verandering in taalmedium”. Dit het bevind dat die kerk meer van ’n “missionale ingesteldheid” moet hê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui