‘n Vasgeloopte kerk

Die geleerde predikante uit die Kaap het by die Sinode van 2019 toe met ’n nuwe woord vorendag gekom!

Hulle het gesê:

“Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot VASGELOOPTHEID gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is”[1].

Daar het jy dit! Ons verskil in so ’n mate met mekaar in die kerk oor wat die Bybel eintlik oor selfdegeslagverhoudinge leer, dat ons by ’n punt van vasgelooptheid gekom het.

Dit beteken overgeset synde, dat ons ongelukkig nie die Bybel in hierdie besluitneming kan gebruik nie, want ons het ’n punt van vasgelooptheid bereik. Ons moet nog verder besinning doen oor wat die Bybel eintlik wil sê.

Een van die plekke in die Bybel waar ons dan seker vasgelooptheid bereik het is waarskynlik die woorde van die apostel Paulus in 1 Kor 6:9-10:

“Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie”

Dit is blykbaar te moeilik vir die geleerde leraars om te verstaan wat daar geskrywe staan. Hulle het voortgaande besinning daaroor nodig.

So het dit gekom dat die kerk vir vyf dae lank vergader het en besluite geneem het oor sake, sonder dat die Woord van God ooit daaroor geraadpleeg is. O ja, hulle het baie oor God gepraat. Een van die sprekers van Bloemfontein het verklaar hy is so beïndruk dat hulle begin het met ’n “godspraak”, naamlik wie is God? Hy sê hulle het gepraat oor God in terme van strome van lewende water. ’n Ander spreker het glo gepraat van God as ’n slaaf en nog ’n ander het gesê, God is selfopofferende liefde.

Wie wil hierdie mense ’n rat voor die oë draai met al die lofbetuigings oor God waarvan daar gepraat word? Ek glo die Here sê vir ons ook in hierdie dae, soos Hy by monde van Jesaja vir die volk gesê het:

“Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie” (Jes 29:13).

Die besluit oor selfdegeslagverhoudinge verval verder in ’n opstapeling van stroperige retoriek soos:

“nederige diepe luister na mekaar, …. respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings …. geloofsonderskeidende gesprekke …. inklusief en divers … eerlik en broos …. werklik erns maak met die Woord van God”, ens.

Die vermoede bestaan dat al hierdie mooi woorde maar net deel is van ’n sagmaakproses vir die fynskrif wat kom. Fynskrif wat die opstellers hoop die kerk nie sal raaksien nie.

Hier is die fynskrif: Die aanwysing van persone in die ampte, lidmate en leraars sal geskied:

“ongeag …. seksuele oriëntasie en –identiteit”.

Hierdie paar woorde: “ongeag …. seksuele oriëntasie en –identiteit” is die kruks van die hele besluit. Dit kan maklik misgekyk word, maar dit is waaroor die hele besluit oor selfdegeslag verhoudinge eintlik gaan.

Mense in homoseksuele verhoudinge mag nie geweier word om in die kerklike ampte opgeneem te word nie. Dit is die punt!

Die impak van hierdie besluit is wat my betref enorm:

Eerstens het die NG Kerk afstand gedoen van sy prerogatief om besluite volgens Bybelse voorskrifte te neem. Tot nou toe het ons ’n saak voor die reg gehad om op grond van godsdiensvryheid in die grondwet, ons sake in die kerk te reël volgens ons oortuigings en Bybelse voorskrifte. Nou het die Kerk met sy vasgelooptheid oor die Bybel, afstand gedoen van hierdie prerogatief, want ons weet blykbaar nie hoe om die Bybel as maatstaf te gebruik nie.

Tweedens het dit nou kerklike beleid geword dat mense in homoseksuele verhoudinge in die kerklike ampte kan dien. Die onlangse bevestiging van ’n paar gay leraars in die Kaap was onregmatig. Nou is dit kerklike beleid.

Derdens moet ons rekening hou met die aggressie waarmee gay aktiviste in kerklike sake optree. Kerkrade gaan in die toekoms weerloos wees teen hierdie aktiviste wat kerklike besluite in die hof wil betwis. Lidmate van die NG Kerk moet reeds volgens berigte R3 miljoen opdok vir die afgelope hofsaak teen die kerk. Ons sal in die toekoms almeer met hierdie verskynsel rekening moet hou.

Dit is ’n paar werklikhede wat opgesluit is in die besluit van die Algemene Sinode oor die selfdegeslagverhoudinge.

Wat is die pad vorentoe?

’n Vriend skryf vir my in ’n boodskap hy sien in die koerant dat daar ten gunste van gay lidmate gestem is. Hy vra wat dit sou beteken? Is dit nie meer sonde nie? Glo die kerk nog in die Bybel?

In die gesprek wat volg vra hy my wat om te doen. Ek het hom geadviseer om sy leraar te gaan sien en te hoor of die leraar en die kerkraad die Sinode navolg. As dit wel die geval is, raai ek hom aan om ’n ander gemeente of ’n ander kerk te soek, waar die Woord ernstig opgeneem word.

Ek het verder vir hom genoem dat elke R100 dankoffer wat hy aan sy gemeente gee, daar ’n paar rand aan die Sinodes oorbetaal moet word. Ek was ’n leeftyd lank ’n leraar van die NG Kerk, maar dit het vir my onaanvaarbaar geword om met mý dankoffer die werksaamhede van ’n afvallige topstruktuur op enige manier te ondersteun.

Een ding is duidelik en dit is dat die besluite van die Sinode van 2019 elke lidmaat, elke kerkraadslid en elke leraar voor ’n kerklike kruispad te staan gebring het. Niemand kan die besluit ontwyk nie. Vir baie van ons hou die besluit groot implikasies in.

Voetnotas

[1] Hierdie is die eerste punt van die 2019 NGK homoseksuele besluit. Die woord “vasgelooptheid” kom van die Sinode Wes-Kaapland besluit oor selfdegeslagverhoudings (Mei 2019).

4 thoughts on “‘n Vasgeloopte kerk”

  1. Ds. Jan, baie dankie vir die skerp, snydende verduideliking van die gebeure wat ek met groot belangstelling gevolg het. Ek het seker al die artikel 4 of 5 verskillende kere gelees om dit te verwerk. Ek reken juis omdat u “agter-die-skerms” gewerk het, gee u so waardevolle ontleding van wat nou eintlik gebeur het.

    In ’n vorige artikel (Moet leesstof:https://www.glodiebybel.co.za/die-ng-kerk-by-n-kruispad/), skryf u “Ek glo dit kom van ver af. Ons word oor die jare blootgestel aan uiteenlopende sieninge oor die Bybel en oor God. Ons moet dikwels op ons lewensreis keuses maak. Die keuses wat jy maak lyk aanvanklik nie belangrik nie, maar dit bring jou uiteindelik op ’n pad, wat jy nie beplan het nie. Aan die begin voel jy onseker, maar die pad is breed en jy vorder vinnig. Jy wou Kaap toe gaan, maar Durban is darem nader en die see is daar lekker warm.”

    “So het dit gekom dat die kerk vir vyf dae lank vergader het en besluite geneem het oor sake, sonder dat die Woord van God ooit daaroor geraadpleeg is. O ja, hulle het baie oor God gepraat.”

    Ek voel as ons Here Jesus daar by die vergadering was, sou Hy dalk gesê het: “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.” Joh.8:44 maar uiteindelik dink ek sou hulle Hom ook nie glo nie.

  2. Ds Jan Louw doen wonderlike werk waar hy opstaan vir die Waarheid. Hy is ons moderne Martin Luther wat skrik vir niks en die Waarheid voorop stel! Dankie vir u betrokkenheid en dat u staan en getel word,

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui