NGK-lidmate 20 000 minder in een jaar

Kyk ook:

*************

NGK-lidmate 20 000 minder in een jaar
2012-02-18 22:36

(Van Rapport gekopieer.)

Johannes de Villiers

Die NG Kerk se lidmate het in een jaar met meer as 20 000 gedaal.

Volgens die NG Kerk se 2012 Jaarboek, waarin dié kerkverband se statistieke vervat word, staan die lidmaatskap nou op 1 054 047.

Dit is ’n volle 20 718 lidmate minder as ’n jaar vantevore, oftewel genoeg mense om 40 gemeentes van 500 lidmate elk te vul.

Rapport het sowat ’n jaar gelede berig oor syfers wat daarop dui dat die NG Kerk se lidmaatsyfers binne ’n jaar met sowat 10 000 gedaal het, maar dié jongste daling is dubbeld so skerp.

Kerkleiers het toegegee dié daling is deels as gevolg van faktore soos emigrasie en veroudering, maar dis bowenal die gevolg van ’n snelle sekularisering onder verstedelike Afrikaanssprekendes.

Mense gaan net nie meer kerk toe nie.

Die daling van meer as 20 000 lidmate in een jaar word nog nie heeltemal in die strukture van die NG Kerk weerspieël nie.
Kerkbode, amptelike lyfblad van die kerkverband, berig in dieselfde tydperk het die getal gemeentes met net vyf gedaal (tot 1 153), terwyl die getal predikante op 1?602 dieselfde gebly het.

Syfers oor die NG Kerk se lidmate wat in Kerkspieël, die kerk se amptelike statistiese peiling van lidmaatskap vervat is, dui daarop dat daar van ongeveer 1980 af ’n volgehoue daling in lidmaatgetalle was.

“Ons is ernstig bewus daarvan dat daar ’n tendens is van lidmaatgetalle wat daal,” het prof. Nelus Niemandt, NG moderator, die afgelope week aan Rapport gesê.

“Daar is ’n gewilde mite dat die mense meestal na charismatiese kerke oorloop, maar diegene wat na charismatiese kerke toe skuif, is eintlik ’n statisties onbeduidende getal.”

Talle faktore speel ’n rol, maar statistieke dui veral op een.

“Die groot ding is sekularisasie. Dit is wêreldwyd ’n tendens in die Westerse Christendom, mense wat gewoon saggies van die kerk wegdryf.

“Sommige probeer eers ander kerkverbande, maar dit is gewoonlik net deel van die proses waardeur hulle heeltemal uit die kerk tree.”

Die kerk sal nie dié tendens kan omswaai deur bloot meer charismaties te word nie, maar sal eerder ingrypend ­nuwe modelle van kerkwees moet ondersoek, sê Niemandt.

“Die NG Kerk werk goed op die platteland en in die voorstede, maar ons kry dit nog nie reg om in ’n stedelike konteks, wat hiperdivers en postmodernisties is, suksesvol kerk te wees nie.

“Ons dink nog aan kerk as 700 mense met ’n dominee, maar ons sal nuwe vorme moet ondersoek. Ons moet nuwe vorme van kerkwees vind.”

Een van dié nuwe vorme is kleiner kerkgroepies, dikwels in die vorm van huiskerke, wat informeel gestig word en waarvan die leiers gaandeweg teologies opgelei gaan word.

Die NG Kerk gaan in die toekoms meer na dié vorm van kerkplanting kyk, sê hy.

Die kerk sal ook sy fokus na ander kwessies moet skuif.

“Sekulêre mense sê dikwels oor dié debatte: So what? (oor kerklike debatte oor die Belhar-belydenis en homoseksualiteit). Hulle het dieper vrae, oor hoe om sin uit die lewe te maak en hul kinders groot te maak.”

Die teoloog dr. Stefan Joubert, wat die afgelope week juis vir een van die streeksinodes se omsendbriewe ’n artikel geskryf het oor hoekom al hoe meer jong mense die kerk verlaat, meen ook alternatiewe vorme van kerkwees is al hoop.

Joubert self bedryf die e-kerk, ’n aanlyn-gemeente.

“Mense beskou lidmaatskap van ’n kerkverband nie meer as belangrik nie.

“Ons probleem is egter dat die kerk net opgelei is om op die tradisionele manier kerk te wees. Ons moet ander maniere van kerkwees vind.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui