Opstand broei oor gay-besluit

Kyk ook:

Opstand broei oor gay-besluit | Netwerk24

Deur Johan Eybers

13 Oktober 2019 00:01

Rapport

Verskeie gemeentes in die NG Kerk (NGK) wil beswaar aanteken teen die algemene sinode (AS) se besluit dat hulle self kan besluit of hulle selfdegeslagverhoudings wil erken.

“Ons as gemeente wil beswaar aanteken en ons losmaak van dié besluit, want daar is nie ’n manier wat ons daarmee kan saamgaan nie. Die Bybel sê vir ons iets anders as wat die (algemene) sinode die afgelope week besluit het,” sê Christoff Brits, hoofouderling van die Bergville-gemeente in KwaZulu-Natal.

Die AS het Dinsdagaand ’n beskrywingspunt aanvaar wat inhoudelik baie ooreenstem met ’n 2015-besluit deurdat dit aan kerkrade die ruimte bied om self te besluit of hulle selfdegeslagverhoudings wil erken, gay paartjies wil trou en gay predikante wil beroep.

Dié besluit lui onder meer dat die AS “erken dat daar kerkrade en predikante is wat nie hul weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie”.

Die AS moedig kerkrade daarvolgens aan “om by die aanwysing van persone in die ampte lidmate se geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit”.

“Op grondvlak verstaan ons nie hoekom daar nie by die Bybel gehou word nie. Gewone lidmate verstaan dit soos wat hulle dit lees, want die Bybel sê reguit die beoefening van homoseksualiteit in al sy vorme is verkeerd. Ons as gemeente kan nie so aangaan nie. Mense verlaat die kerk hieroor,” sê Brits.

Ds. Johan Koen van die Burgersfort-gemeente in Limpopo sê hulle beplan om by hul plaaslike ring beswaar aan te teken dat die besluit van die AS nie eers deur streeksinodes deurgetrap is nie.

“Die werklikheid is dat die oorgrote meerderheid in 2016 teen die 2015-besluit gestem het toe kerkrade en lidmate in hul massas opgedaag het vir ’n spesiale sinodesitting. Die probleem is nou dat die AS se jongste besluit die amptelike standpunt is van die kerk. Ons kerkraad sal nou moet besluit wat die implikasies hiervan is vir die gemeente,” sê hy.

Dr. André Olivier, moderator van die Namibië-sinode, sê dit is belangrik dat daar respek moet wees vir elke sinode, ring en gemeente se hantering van die aangeleentheid. “Die kwessie kan nie op ons afgedwing word nie. Daar is groot kulturele verskille tussen ons en ander sinodes. Ons het sterk Afrika-tradisies onder van ons gemeentelede met baie van ons lidmate wat nie eens op ’n Westerse manier aantrek nie. Dit is ’n geweldige groot uitdaging om te verduidelik wat die AS nou aanvaar het,” sê hy.

’n Predikant wat anoniem wil bly en ook teen die AS se jongste besluit gekant is, sê hy twyfel of gemeentes sal wegbreek wat nie hulself daarmee wil assosieer nie. “Die gemeentes het bloot te klein geword om af te stig en hul eie ding te doen. Die kwessie gaan nou op ’n persoonlike vlak gedryf word waar individue bloot die kerk gaan verlaat wat nie daarmee kan saamleef nie,” sê hy.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui