BY DIE ASM: Versoeningsvoorstel vir 16 Desember, klarigheid oor formulier, belangrike datums vir 2023 en konteks vir die 33% afname van voltydse predikantsposte

*******

BY DIE ASM: Versoeningsvoorstel vir 16 Desember, klarigheid oor formulier, belangrike datums vir 2023 en konteks vir die 33% afname van voltydse predikantsposte | Kerkbode

Le Roux Schoeman

10 November 2022

Die sowat 60 lede van die NG Kerk se Algemene Sinode Moderamen (ASM) het onlangs vir ’n dag via Zoom vanuit elk van die NG Kerk se tien streeksinodes ingeskakel om deur ’n agenda te werk wat sake ingesluit het soos:

#Tydvirtafels: ’n Inisiatief vir 16 Desember (Versoeningsdag). Ds Rudi Swanepoel, verbonde aan die Taakspan Anti-Rassisme, Geregtigheid en Versoening (Voorheen Taakspan Identiteit en Versoening), het verduidelik alle lidmate en gemeentes kan betrokke raak. “Jy’t geen fieterjasies nodig nie … Dis so eenvoudig soos dit daar is,” het Swanepoel gesê met verwysing na die strooibiljet wat met afgevaardigdes gedeel is.

Kerkspieël: Nuwe data toon hoe NG Kerk se gemeentes verminder en hoe skerp veral die aantal voltydse predikantsposte sedert 2018 afgeneem het. Die jongste peiling spog met ’n responskoers van 75% nadat die vraelys in Mei vanjaar aan alle gemeentes van die NG Kerk gestuur is. Die einste aantal gemeentes het met 4,2% geval in dieselfde tydperk, tot minder as 1 100 in SA en Namibië. (Sien meer inligting hieronder).

2018 2022 verandering %verandering
Gemeentes 1114 1067 -47 -4.21%
Totale predikantsposte 1628 1176 -452 -27.76%
Voltydse poste 1256 837 -419 -33.36%
Deeltydse poste en kontrakposte 238 212 -26 -10.92%
Emeriti 134 127 -7 -5.2%

Bron: Kerkspieël-verslag, Nov 2022

Belangrike kerkdatums: Lede van die ASM (2019-2023) vergader weer in die nuwe jaar, 7-10 Maart, en daar was ’n sterk gevoel dat Zoom ontoereikend is vir ingewikkelde gesprekke (dink maar aan Skrifgebruik, selfdegeslagverbintenisse en streeksinodes se verband met die Algemene Sinode, ens). Die versugting is om in persoon te ontmoet, waar moontlik.

  • Van 15-20 Oktober 2023 sal die Algemene Sinode van die NG Kerk weer in sitting wees. Die vorige sitting was in 2019.
  • Dit was ’n bedrywige jaar en veral die afgelope paar maande wat streeksinodes betref, met slegs die Wes-Kaap wat nog ’n vergadering moet hou in die komende jaar (8-12 Mei 2023).

Geldsake: Die Algemene Taakspan Fondse en Bates (voorsitter: Petrus Botha, KZN,) het ’n voorlopige begroting vir 2023/24 opgestel. Die proses van finalisering volg nou voor goedkeuring by die ASM in Maart 2023.

Nuwe formulier? Nadat die ASM tydens sy vergadering van Mei 2022 besluit het om tog nie ’n formulier vir burgerlike verbintenisse te ontwikkel nie, het die dagbestuur van die ASM in die verslag van 1 November vanjaar se byeenkoms meer besonderhede verskaf. Naamlik dat die besluit geneem is in die lig van, onder meer, Artikel 48.2 van die Kerkorde, wat lees: “Die inrigting van die eredienste word deur die kerkraad vasgestel met gebruikmaking van die liturgiese grondlyne soos deur die Algemene Sinode vasgelê.” Die verslag verwys ook na die interpretasie van die Algemene Taakspan Regte dat die 2019 besluit oor selfdegeslagverhoudings ’n prosesbesluit besluit is.

Die “beleid/beginsels” wat verteenwoordig word deur die besluit wat die Algemene Sinode wel in 2019 geneem het, word ook in die verslag uiteengesit en opgesom: “Daar kan dus aanvaar word dat die Algemene Sinode prinsipieel besluit het om nie teen mense te diskrimineer op onder andere ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en identiteit nie … Verder gee die besluit dan ruimte vir kerkrade/predikante om selfstandig te besluit oor die hantering van selfdegeslag/burgerlike verbintenisse,” lui die Dagbestuurverslag.

Nog stemme: Drie NG dominees het die 73ste Algemene Kerkvergadering van die NHKA bygewoon en drie goed gehoor:

  • Hierdie denominasie – met te min predikante – wil die aftree-ouderdom op 70 vasstel (die saak is na ’n kommissie verwys).
  • ’n Voorstel ten gunste van kindernagmaal is afgekeur.
  • ’n Voorstel om teologiese opleiding na die NWU te skuif, is afgekeur.

’n Aparte dagbestuurafvaardiging het op 27 Junie 2022 gesels met verteenwoordigers van Kairos Netwerk (KN) wat beswaar maak dat die NG Kerk in ’n “sinodekrasie” verval en nie op dokumente reageer nie.

Teologiese opleiding en ‘dosente se oortuigings’: Daar is weer gesels oor hierdie gons-onderwerp en ’n verslag deur dr Frederick Marais van die Algemene Kuratorium (AK) toon vordering met die gebruik van ’n “protokol” wat navrae en kritiek op opleidingsinstellings meer gestruktureerd benader as, byvoorbeeld, lukrake plasings op sosiale media. “Daar is op gronde (van die protokol) verskeie navrae aan die Algemene Kuratorium en kuratoria gerig. Die navrae is gerig aan die kuratoria van Wes-Kaap en Pretoria en word tans deur die kuratoria volgens die ooreengekome protokol hanteer. Die kuratoria sal aan die AK verslag doen oor die hantering en afhandeling van die navrae,” luidens die AK se verslag aan die ASM.

Die Sinode van die Vrystaat het intussen ’n voorstel deurgestuur tov navrae oor die teologie en geloofsoortuigings van dosente. “Die Algemene Kuratorium sal die navrae verwerk en aan die ASM en die voorstellers verslag doen by die volgende vergadering,” luidens Marais se verslag.

Meer inligting oor NG Kerk se jongste “sensus”

Kerkspieël is die NG Kerk se grootste sensusopname en word elke vier jaar gedoen. “Vanjaar se opname is besonder belangrik omdat dit ná die Covid-19-inperkings van 2021-22 plaasvind. ’n Vergelyking van vanjaar se syfers met dié van 2018 sal ’n prentjie gee van die impak van Covid-19 op die kerk,” volgens die samestellers.

’n Paar belangrike syfers kom na vore, luidens ’n bondige Kerkspieël-verslag:

  • Van 2018 tot 2022 het 47 gemeentes ophou bestaan deur saam te smelt met ’n ander gemeente. Dit verteenwoordig 4,2% van die gemeentes wat in 2018 bestaan het.
  • In dieselfde tyd het voltydse predikantsposte met 33,36% afgeneem.
  • Deeltydse en kontrakposte neem af met 10,92% en emeriti in deeltydse of kontrakposte met 5,2%.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui