Krimpende kerk nie net sleg

Kyk ook:

Van Kerkbode gekopieer.

*********************

Krimpende kerk nie net sleg

16/01/2013

As ’n kerk krimp, is dit nie net slegte nuus nie. Só het prof Nelus Niemandt, voorsitter van die dagbestuur van die Algemene Sinodale Kommissie van die NG Kerk, aan Kerkbode gesê in reaksie op die daling in dié kerk se doop- en belydende lidmate die afgelope jaar.

“’n Kleiner kerk skep nuwe moontlikhede om nuut te dink oor kerkwees. Ons sal moet leer dat ’n kleiner kerk ook ’n gawe van God is. Die belangrikste van kerkwees is nie hoe groot die kerk is nie maar of die kerk ’n verskil maak in mense se lewe,” het prof Niemandt gesê.

Die NG Kerk se doop- en belydende lidmate het die afgelope jaar met meer as 29 000 gedaal. Volgens die Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerke was daar oor ’n tydperk van twee jaar ’n verlies van net minder as 50 000 doop- en belydende lidmate.

Die afgelope jaar se daling in lidmaatgetalle was die skerpste die afgelope aantal jare.

Volgens die 2000-Jaarboekgegewens is daar met die draai van die eeu meer as 16 000 nuwe lidmate in die NG Kerk gedoop. Verlede jaar was daar net meer as
10 000 nuwe dooplidmate. Meer as 20 000 lidmate het toe belydenis van geloof afgelê vergeleke met 11 582 verlede jaar.

Volgens 2013 se Jaarboek is daar nou tien NG Kerkgemeentes minder as die vorige jaar. Die kerk het nou 803 877 belydende lidmate (22 962 minder as die vorige jaar) en 221 102 dooplidmate (6 106 minder as die vorige jaar).
Prof Niemandt meen dalende lidmaatgetalle is nie ’n verrassing nie. “Hoofstroomkerke in Westerse lande ervaar dit wêreldwyd. Dit gebeur ook in charismatiese kerke. Dit wat lankal in die meeste Westerse lande plaasvind, gebeur nou ook in ’n gekompakteerde vorm in Suid-Afrika. Die NG Kerkleiers besef dit maar alte goed en daarom is dié kerk al geruime tyd besig om nuwe modelle vir kleiner gemeentes te ontwikkel om hulle te help om nuwe uitdagings die hoof te bied.”
Prof Niemandt sê sekularisasie eis ook sy tol, maar dit beteken nie mense kies vanselfsprekend téén God nie. “Baie mense wat kerklos raak, verkies om hulle spiritualiteit op ’n ander manier uit te leef.”

Prof Kobus Schoeman van Bloemfontein, medeleier van die Kerkspieël-projek, stem saam met prof Niemandt. “’n Enkelvoudige antwoord sou wees om te sê dat die kerk oor die afgelope twee jaar 50 000 lidmate verloor het en dat die kerk dus op grond van ’n bepaalde liniêre beraming oor 20 jaar die helfte van sy lidmate kan verloor en dat die kerk oor ’n paar dekades geen lidmate meer sal hê nie.”

Só ’n afleiding kan volgens prof Schoeman nie sonder meer gemaak word nie. “Uit ’n statistiese hoek is die beraming meer kompleks as dit. Tweedens is lidmaatskap en die verbintenis aan ’n geloofsgemeenskap, uit ’n teologiese hoek, meer en anders as net ’n lidmaatregister-inskrywing. “Die verbintenis aan ’n gemeente lê op ’n dieper vlak. Gelowiges dink anders oor hulle verbintenis aan ’n gemeente as 20 of 30 jaar gelede.”

Volgens prof Schoeman hou dit nie in dat die dalende getalle niks beteken nie. “Dit stel ’n besliste uitdaging aan die kerk. Nuwe tye stel nuwe uitdagings aan gelowiges se verbintenis aan ’n gemeente. Dit is ook ’n uitdaging om binne ’n nuwe tydsgewrig nuut oor die beskrywing en definiëring van lidmaatskap te dink.”

jean@tydskrifte.co.za

Lees ook die hoofartikel.

Kommentaar

Edwin Müller
16/01/2013 at 13:20

Wat ek net graag van die slim geleerde teoloë en Kerkraadslede en gemeentelede wil weet wat gaan hulle omtrent Sending en Evangelisasiewerk binne hulle gemeente grense begin doen? Ons sal een ding moet begin besef en dit is dat die tyd vir ’n Blanke Kerk vir eens en vir altyd verby is. Ons sal ons mede broeders en susters in die geloof al is hulle Bruin, Swart, Indiër moet begin aanvaar as lidmate van die NG KERK.

Edwin Müller
Sasolburg

Chris Potgieter
16/01/2013 at 20:51

Ek sukkel om daai een te verstaan dat ’n krimpende kerk ’n gawe van God kan wees. Is dit nie maar net weer vroompraat nie? Kerke moet tog groei! Natuurlik weet ons dat baie kerke wereldwyd krimp, maar dit mag ons nooit troos nie. Dit moet ons aanspreek.

Dr.T.C.Breitenbach
17/01/2013 at 07:38

Ek het al by sovele geleenthede gelees hoedat sommige van die huidige teoloë en kerkleiers diegene wat van hulle verskil uitnooi om hul verskille oor ’n koppie koffie te bespreek en uit te praat. My indruk van dié geestelikes is gevolglik dat ek hulle as ’n klomp koffiedrinkers beskou wat hul toevlug tot koffie neem en nie meer na oplossings op die knieë soek nie. Ten einde huidige probleme op te los, moet hulle dit oorweeg om óf meer koffie te drink, óf na ’n ander “brand” koffie oor te slaan, of dalk beide.

Albie Steenkamp
17/01/2013 at 08:14

Die soort van uitsprake is nie vreemd nie….Die kerk as organisatoriese sisteem(Regoor die spektrum) kan nie staan nie.Statistieke skreeu dit lankal uit ten Hemele, met baie Teologiese verkonings!!!!
….Goeie Nuus!!!Organies groei ons tereg buite die strukture op verskeie informele maniere- in baie huise in ons land staan die AMP van die GELOWIGE weer in plek,God se WOORD sentraal, Jesus as Hoof en ons onder SY Hoofskap en Sy Heerskappy….Die Heilige Gees as Immanuel,Voorspraak,Helper en Leidsman.Gelukkig Bou Jesus SY KERK….

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui