NG Kerk verloor 50 predikante per jaar

Kyk ook:

Dit is so dat baie blankes die land verlaat het en dat mense in die algemeen meer kerk los begin word, maar is dit enigsins ’n verrassing as in ag geneem word hoe ver die NG Kerk heen is in terme van liberale teologie? Kyk Opsomming van skokkende NG Kerk-besluite.

*********

NG Kerk verloor 50 predikante per jaar | Netwerk24

Deur Jana Marx

07 Oktober 2019 13:21

Die NG Kerk (NGK) verloor jaarliks 50 predikante, waarvan net ’n handvol in kontrakposte heraangestel word. Om predikante se aftreeouderdom te verhoog, kan jong mense moontlik verder dwing om liefs ander beroepskeuses te volg.

Die algemene sinode se taakspan vir navorsing het ’n steekproef onder 156 gelegitimeerde persone gedoen. Dié groep sluit ook gelegitimeerdes in wat nog nie georden is nie.

Luidens dié data wat Maandag voor die 17de vergadering van die algemene sinode in Benoni gedien het, het die NG Kerk van Februarie 2015 tot Maart 2019 200 predikante in vaste poste by gemeentes verloor. Dit is ’n afname van 50 predikante per jaar, of nagenoeg een per week.

In dieselfde tyd het die aantal tentmaker- en kontrakposte van 177 tot 231 gestyg. Dis ’n styging van 12% tot 17% in die totale predikantskorps.

Indien predikante voortgaan om teen dié tempo (teen 50 per jaar) om welke rede ook al uit permanente poste te tree, “gaan daar ongeveer 300 predikante uit poste tree, maar 250 van hierdie poste gaan nie weer met predikante (in permanente poste) gevul word nie”, lui die verslag.
“Aan die ander kant, sou hierdie tendens voortduur, gaan daar jaarliks meer predikante in deeltydse kontrakposte nodig wees.”

Die groot aantal predikante wat in die volgende vyf jaar gaan uittree, kan volgens die NGK se data direk verduidelik word aan die hand van die groot inname van teologiese studente tussen 1970 en 1985. Dit het tot ’n beduidende toename in die aantal gelegitimeerdes tussen 1977 en 1992 gelei.
Weens die golf hiervan tussen 1977 en 1992 is 90% van gelegitimeerdes in 1979 binne twee jaar beroep.

Teen 1985 het dié syfer tot 44% gedaal en teen 1992 selfs verder (tot 33%). Slegs 60% van gelegitimeerdes uit die 1992-groep is teen 2019 beroep, lui die data. Tot met 1985 se groep is die meeste gelegitimeerdes tog nog beroep (meer as 80%), maar teen 1989 is dit af na 70%, en teen 1994 af na 60%. In 2016 is sowat 60% binne twee jaar beroep.

“Die korrelasie tussen die drastiese toename in die aantal kandidate en die langer wagtyd en toename in die aantal kandidate wat nooit beroep word nie, is belangrik om van kennis te neem,” lui die navorsingstuk.

Die taakspan se navorsing wys op ’n generasie jong predikante wat aktief besig is om aansoek te doen en beskikbaar is vir bediening in die stad en platteland.

“ ’n Verandering in die aftreeouderdom, wat ’n skielike vergroting in die aanbod van predikante tot gevolg kan hê, kan veroorsaak dat ons weer ’n gedeelte van ons jong proponente verloor. Daar sal dus met groot versigtigheid beweeg moet word om die beswil van gemeentes te soek, terwyl ons tegelykertyd na al die verskillende groepe gelegitimeerdes in die kerk kyk,” lui die taakspan se verslag.

Die risiko wat die taakspan uitwys is dat indien die potensiële predikantskorps in die volgende drie jaar drasties verhoog word deur ’n verhoging in die aftree-ouderdom, nuwe gelegitimeerdes weer langer sal moet wag vir poste.

“Die aantal kandidate wat uiteindelik nooit in die kerk beroep word nie, sal ook styg.”

Die taakspan voel dis uiters belangrik dat die konteks van ’n kleiner wordende predikantskorps in ag geneem word wanneer daar oorweeg word om die aftreeouderdom te verhoog.

“Die moontlikheid dat so ’n besluit jong proponente en predikante wat hoop om in die jare wat kom beroep te word se beroepe drasties sal uitstel, of selfs tot gevolg sal hê dat hulle uiteindelik ’n ander beroepskeuse maak, moet nie sonder meer uit die oog gelaat word nie. Hoewel dit ’n ander gesprek sal oopmaak, is ons ook oortuig dat jong predikante in die jare wat kom ’n uiters belangrike rol moet speel om die NG Kerk te help lei om ’n nuwe en relevante rol te speel in vinnig veranderende kontekste,” lui die verslag.

Die verslag word verder bespreek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui