NG groep ‘kan g’n studente oplei’

Die volgende artikel is in reaksie op NG Kerk ‘gaan skeur’ (13 Desember 2020).

Ek het kommentaar gelewer in blokhakies. Kyk ook die kommentaar onderaan die artikel.

********

NG groep ‘kan g’n studente oplei’ | Netwerk24

Deur Johan Eybers

20 Desember 2020

Dit is hoogs onwaarskynlik dat behoudende gemeentes in die NG Kerk daarin sal slaag om hul eie toesighoudende liggaam te stig om predikante op te lei en te legitimeer wat gekant is teen gay­huwelike.

Só sê akademici oor Rapport se berig verlede week dat ’n groep predikante en lidmate wat teen gay­huwelike gekant is die moontlikheid ondersoek om predikante binne ’n “behoudende stroom” op te lei.

Die groep wat na hulself as die Moreleta Kairos Netwerk (MKN) verwys, sê hulle “het nie meer die vrymoedigheid om ons studente na een van die teologiese fakulteite (Vrystaat, Pretoria en Stellenbosch) te stuur vir opleiding nie”.

Rapport het verlede Sondag berig lede van die MKN het op ’n vergadering voorbrand gemaak vir kerkskeuring. Die koerant is in besit van ’n opname van die vergadering.

Ds. Willem Badenhorst, Pieter Breytenbach en ds. Norma Rossouw, lede van die MKN se werkgroep, het teologiese opleiding op die vergadering bespreek.

Badenhorst het gesê die werkgroep ondersoek die moontlikheid om hul eie kuratorium (’n liggaam wat toesig hou oor teologiese opleiding) daar te stel.

Hy het gesê daar was “reeds gesprekke” met die Noordwes-Universiteit “om met hulle hande te vat en ons ouens soontoe te kanaliseer”.

Breytenbach sê hulle het op hul vergadering in November met ’n afvaardiging van die kerk se algemene sinodale moderamen (ASM) gepraat oor die “liberale teologie” wat by kweekskole gepropageer word.

Hulle het onder meer by die ASM gekla dat studente “wat nie saamstem oor die liberale goed nie” blykbaar swaar kry en “totaal van die pad af is” as hulle daar uitstap en dat die kuratoriums nie hul klagtes ondersoek nie.

Breytenbach het gesê hulle wil “totaal iets nuuts begin in terme van opleiding”.

Van nuwe teologiese studente sê Cas Wepener, teologiese dosent by die Universiteit van Pretoria, ewe ongeërg:
“Vir ’n klompie tref dít wat hulle in die lesinglokale kry soos ’n landmyn. Hulle word uit hul bestaande sekerhede losgeruk. Dié wat ’n paar van die stukke kan optel, registreer ná ’n tyd vir ’n ander kursus, en dié wat nie kan nie, staak hul studies.” (uit Wie moet by wie in SA leer?, 9 Februarie 2019)

Rossouw sê die ASM het “half ooreengekom” dat daar opgetree moet word teen die “dwaalleer wat in klasse verkondig word”.

“Julle gaan ons moet help om die ouens verantwoordelik te hou oor wat hulle vir studente sê en wat hulle verkondig. Daar is baie materiaal wat die dosente uitdeel in die klas wat ’n ou kan gebruik. Ons kan studente beskerm deur bloot te sê die probleem is die uitdeelstuk in pleks daarvan om te sê dit is ’n student wat so sê.

“Ons gaan terugbeweeg na ’n tyd waar die ouens onder sensuur geplaas gaan word.”

Prof. Julian Müller, ’n afgetrede dosent in die teologiese fakulteit aan die Universiteit van Pretoria, sê hy kan nie insien hoe die MKN se planne vir teologiese opleiding “binne die behoudende stroom” deur die kerk en teologiese fakulteite geakkommodeer kan word nie.

[Kommentaar: Dit is lagwekkend dat Julian Müller na die huidige bestel verwys as behoudend. As die huidige stroom behoudend is, wat is sy definisie van liberaal?]

“Ek kan nie dink dat daar ruimte binne ’n gevestigde kerk soos die NG Kerk is vir die tipe teologiese opleiding wat net een teologiese siening aanvaar wat ten alle koste gehandhaaf moet word nie.

“Die NG Kerk sowel as teologiese fakulteite by universiteite se opleiding is gegrond op teologie as wetenskap wat soekend en bevraagtekenend is. Hierdie groep se ideaal is nie teologie wat bevraagteken nie, maar wat beheer.

“Dit is eerder afrigting as opleiding. Dit is ’n verarming waar verskille van menings nie geakkommodeer word nie. Dit is die groot verskil tussen ’n kerk en ’n sekte.”

[Kommentaar: Dit is interessant dat behoudende studente presies dieselfde sê oor die huidige opleiding – die huidige opleiding is afrigting, nie opleiding nie. En dan het die einste Julian Müller vir George Claassen, ’n ateïs, op 2 Februarie 2010 as gasspreker laat optree by die UP Teologiese Fakulteit se openingsdag. Toe daar egter versoek is dat ’n skeppingsleerder ook die studente toespreek, was sy antwoord: “Die Fakulteit Teologie aan UP staan nie op ’n kreasionistiese standpunt nie en kan ongelukkig nie aan u ’n platform gee nie.” – kyk UP Teologiese Fakulteit – Claassen in, Harwood uit.]

Hy sê dit is kommerwekkend dat daar ’n beroep op behoudendes gedoen word om lektore te teiken. “Dit is ’n georganiseerde aksie en ’n soort heksejag waar gevra word dat bewyse versamel word en mense geteiken word sodat hulle skuldig bevind kan word. Dit is nie vir hulle genoeg dat daar ruimte vir mekaar is nie. Is dit nou die pad van kerkwees en Christenskap? Dit moet in die sterkste taal veroordeel word dat hulle met sulke aksies besig is.”

Dr. Chris Jones, hoof van die eenheid vir morele leierskap in die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch, sê huidige teologiese opleiding neem kennis van die ontwikkeling in die natuurwetenskap, die geskiedenis en die literatuur­­weten­skap, en hoe dít die verstaan en uitleg van die Bybel beïnvloed.

[Kommentaar: Daar word altyd so lekker agter die term “wetenskap” weggekruip. Dit is baie duidelik dat die verskil tussen operasionele en historiese wetenskap (kwaadwilliglik?) ontken word.]

“Om ons studente dit te ontsê, kan hul opleiding geweldig verarm.”

[Kommentaar: Soos wat apologetiek tans van studente weerhou word. Daar is baie goeie argumente vir die Christelike geloof en om die betroubaarheid van die Bybel te bevestig, maar niks van daardie dinge word aan teologiese studente in die fakulteite geleer nie. Hoekom nie? Omdat dit teenstrydig is met die “wetenskap”?]

* Lees ook die onderhoud met ds. Theo Danzfuss hier.

Kommentaar

Jong predikant, 20 Desember 2020

As iemand wat onlangs nog op kweekskool was wil ek net die volgende beklemtoon aan die hand van hierdie artikel.

1) Soos ek verstaan is die ideaal nie ’n teologie wat nie bevraagteken nie, maar eerder ’n teologie wat ooreenstem met die getuienis van die Skrif.

Die ideaal is nie om te beheer nie, maar om die betroubaarheid van die Bybel aan mense te verkondig en lidmate daardeur aan te moedig om staande te bly in die geloof ten spyte van die baie stemme wat hulle dalk anders probeer oortuig.

Vir my as student was die belewenis dat ons nie die wetenskap en bepaalde filosofiese denke bevraagteken nie, maar eerder dat ons bepaalde fondamentele Christelike belydenisse bevraagteken en dit is die tragedie.

Ons tree nie in gesprek met ander studievelde vanuit die oortuiging dat die Bybel ’n betroubare bron is nie en daarom moet ons soos hulle sê: “… en hoe dít die verstaan en uitleg van die Bybel beïnvloed…”

Is dit nie eintlik my taak om met die bepaalde wetenskaplike studievelde in gesprek te tree vanuit die Skrif en te kyk hoe dít ons verstaan van die realiteit rondom ons beïnvloed en nie andersom nie?

2) Daar word herhaaldelik gepraat van die behoudendes wat nie ’n verskil van mening wil akkomodeer nie, maar julle kan met enige student gesels wat kritiese vrae opper in klas verband oor watter tipe atmosfeer in die klas heers. Ek self het deurgeloop onder hulle tonge:

  • “Jy is fundamenteel”
  • “Jy is liefdeloos”
  • “Jy verstaan nie die hart van die evangelie nie”
  • “Jy het nie integriteit nie.”
  • “Jy soek verskoning om teen mense te diskrimineer”

En so kan mens aangaan. So, daar moenie vir een oomblik voorgegee word dat die huidige atmosfeer binne bepaalde klaskamers is een wat ’n verskil van mening akkommodeer nie.

Op papier sal die besluit lees dat daar ruimte gemaak word, maar ek dink ons almal kan getuig dat dit nie in die praktyk uitgeleef word nie. Veral nie as jy ’n behoudende standpunt handhaaf nie.

3) Huidige opleiding het vir my gevoel soos afrigting eerder as opleiding.

Die bronne wat vir ons voorgehou was steun net een bepaalde teologiese denkwyse en as jy kritiese vrae opper dan word jy ’n randfiguur soos in my vorige punt verduidelik.

Ek het altyd gewonder waarom dosente nie albei kante van die muntstuk aan studente kan voorhou en hulle dan self kan besluit met watter teologiese denke hulle saamstem op grond van die Skrif nie.

Julle sien self dat daar gepoog word om behoudende gelowiges uit te maak as onnosel en dat hulle toe is om met bepaalde literatuur en wetenskap in gesprek te tree en dit is juis die tipe atmosfeer wat in klaskamers heers.

Die gesprek oor teologiese opleiding lê my baie na aan die hart en ek sal graag meer betrokke wil wees by gesprekke indien daar geleentheid sal wees om dit te kan doen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui