Kerk swyg oor tugklag teen André Bartlett

 

Kerk swyg oor tugklag teen André Bartlett | Netwerk24

Deur Johan Eybers

20 Desember 2020

Twee weke ná die tugverhoor van een van die NG Kerk se mees senior leiers weet niemand nog wat die uitslag daarvan is of wat presies die klag teen hom was nie.

Talle senior kerkmense het die afgelope week hul frustrasie uitgespreek oor die geheimsinnigheid om die verhoor van dr. André Bartlett, moderator van die Hoëveld-sinode.

Bartlett is twee weke gelede stil-stil deur ’n tugkomitee in Bloemfontein verhoor nadat ’n klag teen hom ingedien is deur dr. Johann (Tokkie) Ernst, ’n afgetrede predikant en voormalige aktuarius van die NG Kerk.

Ernst is gekant teen die NG Kerk se besluit om gay-huwelike toe te laat. Sy klag hou verband met Bartlett se uitsprake oor gay mense.

Bartlett het oor jare aanvoorwerk gedoen om gay-huwelike binne kerkverband moontlik te maak. Volgens bronne is hy aangekla van “leerdwaling” wat kerkskeuring in die hand werk.

Ernst het volgens ingeligtes na aan die saak geëis dat Bartlett van sy amp as leraar onthef word, sou hy skuldig bevind word. Bartlett moes uiteindelik deur ’n tugliggaam in die Vrystaat verhoor word weens sy senior posisie in die Hoëveldse sinode.

Dr. Bertus Celliers, die Vrystaatse sinode se verteenwoordiger in die Sinodale Taakspan Kerkorde (STK) wat in beheer is van die liggaam wat die klag teen Bartlett ondersoek, sê hy kan nie sê wat die klag is nie omdat “die vertroulikheid van al die betrokke partye beskerm moet word”. Ook Bartlett het die afgelope week volstrek geweier om met Rapport te praat. Dié geheimsinnigheid laat sy ondersteuners rooi sien.

“Die kerk behoort te sorg dat die verhoor van die begin af ’n oop en deursigtige proses moet wees,” sê dr. Chris Jones, hoof van die eenheid vir morele leierskap in die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch. “Die kerk behoort tog in te sien dat só ’n vertroulike proses wantroue saai wat die kerk nie kan bekostig nie. Vir my bly die dagbestuur van die ASM aanspreeklik vir verhore in die kerk. Die leiers kan verantwoordelikhede delegeer, maar nie aanspreeklikheid nie.

“Daarom wil ek graag by hulle weet wat die redes is dat hierdie spesifieke verhoor vertroulik moet wees.

“Ek aanvaar dat die verrigtinge tydens die verhoor vertroulik hanteer mag word, maar hoekom mag die inhoud van die klag of klagte, die inhoud van die verweer en die uitkoms van die ondersoek nie bekend gemaak word nie? En wie is die persone wat in die ondersoekliggaam dien?

“Geheime geregtigheid ontspoor maklik en word selde deur lidmate en die publiek vertrou. Daar is ’n ou regsbeginsel wat lui: Justice must not only be done, but seen to be done.”

Adv. Dewyk Ungerer, die algemene sinode se aktuarius, sê die kerk se reglement oor tug en vermaning bepaal dat tugverhore ’n geslote interne kerklike proses is. “Dit is nie ’n regsproses nie. Dit is ’n proses wat geskoei is op Bybelse beginsels. Daar moet gehou word by hierdie reëls en prosesse.”

Netwerk24 het aan die begin van Desember berig die klag teen Bartlett hou onder meer verband met twee verklarings wat hy in 2018 onderteken het. Albei was in reaksie op die debat wat ontstaan het nadat dr. Chris van Wyk, ’n voormalige moderator van die Oos-Kaapse sinode, ’n verband tussen homoseksualiteit en pedofilie probeer tref het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui