Kommentaar op “Quo Vadis: ’n Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA”

Die volgende artikel deur Jurie van den Heever het op www.kletskerk.co.za verskyn. Daniel Louw en ds Gideon Aggenbag se kommentaar is in vetgedrukte blokhakies ([DL: …] of [GA: …])

*******************

Quo Vadis: ’n Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA (met kommentaar)

http://kletskerk.co.za/tuisblad/archives/445

11 Augustus 2011

Die internasionaal-bekende Nuwe-Testamentikus, Bart Ehrman, noem in sy boek Jesus Interrupted (2009) dat die Bybel nie net die topverkoper en die mees gelese boek in die geskiedenis van die Westerse beskawing is nie, maar dat dit ook dié boek is wat, veral deur die gewone leser, ten diepste misverstaan word.

Ehrman skryf boeiend oor Jesus en alhoewel sy styl populêr is, is die verhaal gegrond op die navorsingsbevindings van Bybelwetenskaplikes. Hy noem spesifiek hoedat argeologiese ontdekkings, die studie van Grieks en Hebreeus waarin die Bybel geskryf is en historiese en tekstuele analises oor die afgelope tweehonderd jaar, Bybelnavorsers in staat gestel het om met toenemende noukeurigheid die ryk ontstaansgeskiedenis en die werklike betekenis van die Bybel te ontrafel. [DL: Altyd belangrik om te onthou dat argeologie historiese wetenskap is, nie operasionele wetenskap nie. Kyk ook Archaeology Questions and Aswers.]

Volgens Ehrman is daar, in die Verenigde State alleen, duisende navorsers wat hieraan meedoen. Hulle navorsingsresultate vorm deel van die onderrigmateriaal van studente en voornemende predikante. [DL: En hoeveel van hierdie predikante verstaan die verskil tussen operasionele en historiese wetenskap. Honderde studente wat mislei word omdat hulle onkundig is en die “wetenskap” slaafs glo, terwyl die wetenskap nie alles kan verklaar nie – kyk wat sê William Lane Craig in Aanhalings – Logika/Filosofie.] Tog is die grootste gedeelte van die Amerikaanse bevolking salig onbewus van, of onkundig oor, hierdie navorsing. Hy vermoed dit is omdat professionele Bybelwetenskaplikes, nie die nuwe bevindings op ’n verantwoordelike manier aan die publiek deurgee nie, en ook omdat predikante, wat wel oor die inligting beskik, om een of ander rede, dit nie met hulle gemeentes deel nie.

As ’n mens luister en lees hoe Suid-Afrikaanse Bybelwetenskaplikes soos Sakkie Spangenberg, wat wel hierdie bevindings oor die Bybel bekendstel, deur onkundiges verguis word en hoe die Bybel deur geleentheidsprekers soos Angus Buchan en die plastiekpredikante van die radiogolwe misbruik word, lyk dit of dieselfde toestand in Suid-Afrika heers.

Dat die Bybel nie ’n wetenskaplike handboek is nie en dat dit deur mense geskryf is, word vandag allerweë erken [DL: En ook deur skeppingsleerders – kyk Die verskillende genres van die Bybel.]. Kerke is egter tradisioneel uitgesproke oor die onfeilbaarheid van die Bybel, wat hulle die Woord van God noem. Die Bybel word gevolglik steeds deur sommige predikante en baie gelowiges voorgehou as ’n goddelikgeïnspireerde teks vol waarhede oor die Skepper en die doen en late van Jesus. Dat dit beslis nie die geval is nie, word gewoonlik verswyg. [DL: Is daar enige rede om dit nie te glo nie?]

Ehrman maak die belangrike punt dat die evangelies dikwels chronologies gelees word. Vandaar die idee dat dit een naatlose geheel vorm. As die evangelies egter parallel gelees word en die verskillende skrywers se weergawes van spesifieke gebeure, veral met betrekking tot die Jesus-verhaal, vergelyk word, staan die teensprake en foute duidelik uit. [DL: Geen probleem nie. Alle geskiedenis bevat ook klein verskille. Kyk Bible ‘contradictions’ and ‘errors’ en Errors in the Bible?.]

Sakkie Spangenberg toon in sy jongste boek, Jesus van Naseret (2010), hoekom hy een van die voorste Bybelwetenskaplikes in Suid-Afrika is [DL: Is hy volgens Jurie een van die voorstes omdat Sakkie hom help om die Bybel af te breek? Dit is baie interessant dat Spangenberg en Hansie Wolmarans hulle moses teëgekom het in ’n debat met William Lane Craig en Mike Licona op Woensdag 12 Mei 2010 by die Universiteit van Pretoria. Kyk onder andere hier, hier en hier. Bestel die DVD of oudio by antwoorde@yahoo.com (www.antwoord.org.za). Kyk ook Dr. William Lane Craig humiliates Dr. Peter Atkins en Richard Dawkins says he won’t debate William Lane Craig op youtube.com.]. In soepel Afrikaans word meer as vier eeue se navorsing oor die Ou en Nuwe Testament onder die vergrootglas geplaas en saam met sy eie insigte, elegant saamgevoeg tot ’n rasionele en ewewigtige basisdokument vir ’n nuwe hervorming. Op grond van al hierdie inligting sal die gereformeerde kerke uiteindelik oop kaarte met ons moet speel en erken dat groot dele van die Bybel verkeerd vertolk is. Die tyd is ook verby dat kritici gemuilband kan word deur te beweer dat hulle die Bybel nie verstaan nie, of dit nie reg lees nie, of dat hulle nie gelowig is nie. [DL: Dit is reg, die Bybel moet eenvoudig gelees en verstaan word en daar is geen rede hoekom ons dit nie kan doen nie.]

Sommiges neem selfs die posisie a lá Adrio König in (Ek Glo die Bybel – Ondanks al die Vrae, 2003) deur te verklaar dat hy die Bybel in elk geval glo, ten spyte van al die ongerymdhede. Om so kop in die sand te steek, los niks op nie. [DL: Dat daar sommige dinge in die Bybel is wat ’n mens nie 100% verstaan nie, is waar, maar met die oorgrote meerderheid van die Bybel is daar niks fout nie. Adrio König is iemand wat evolusie met die Bybel wil versoen. As hy dus baie vrae het, is dit daarom ’n redelike afleiding om te maak dat dit een van die redes is hoekom hy so baie vrae het – kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?.]

Baruch Spinoza (1632-1677) was die eerste geleerde van naam wat die Bybel bestudeer het as ’n historiese geskrif waarvan die identiteit van die outeurs onseker was en waarvan die teks die intellektuele beperkings van die tyd weerspieël het.

David Friedrich Strauss (1808-1874), ’n Duitse teoloog veroorsaak in die eerste helfte van die negentiende eeu ’n opskudding met sy boek Das Leben Jesu Kritisch Bearbeit (= Die lewe van Jesus krities beskou). Aan die hand van die Bybel, die enigste bron oor die doen en late van Jesus, toon hy o. a. aan dat Jesus ’n gewone mens was [DL: Andries van Aarde en Jurie le Roux wil dit ook glo. Kyk Kommentaar op Jurie le Roux se “Andries van Aarde se vaderlose Jesus”]. Die boek was ’n sensasie maar het Strauss se loopbaan vernietig. Volgens een resensent was dit “die Iskariotisme van ons tyd” terwyl ’n ander dit verdoem het as: “…die mees verpestelike boek wat die kake van die hel nog ooit gebraak het..,”. [DL: Dit is ook goed dat dit sy loopbaan vernietig het. Die Bybel is duidelik wat met dwaalleraars moet gebeur – kyk Die NT oor redding onder “Oor dwaling”.]

Sederdien het talle teoloë wat eerliker met die teks wou omgaan, hulle telkemale in die onversetlike houding van kerke vasgeloop. Enkele bekende gevalle sluit Albert Schweitzer (Duitsland), Ds Geelkerken (Holland), Biskop Colenso (Suid-Afrika), J.A.T.Robinson (Engeland), Johannes du Plessis (Suid-Afrika), Ferdinand Deist (Suid-Afrika), Willem Moore (Namibië) en Sakkie Spangenberg (Suid-Afrika) in. [DL: Soos ek gesê het is dit goed so.]

Met Sakkie Spangenberg se Jesus van Nasaret en Willie Esterhuyse se onlangse publikasies, God en die Gode van Egipte (2009) en Die God van Genesis (2010) word die Bybel, en in die geval van Spangenberg, veral die persoon Jesus, histories binne konteks geplaas. Ons kerke kan en mag hierdie inligting nie langer ignoreer of verdoem nie. Dit verteenwoordig ’n waterskeiding in godsdienstige literatuur in Afrikaans en behoort verpligte leestof te wees vir alle katkisante en elkeen wat hom of haarself ’n Christen wil noem. [DL: Soos ek reeds gesê het is hierdie historiese wetenskap wat nog lank nie bewys is nie. Inteendeel, die Bybel is die historiese manuskrip met die meeste integriteit – kyk Hoeveel integriteit het die Nuwe Testament?.]

Ten spyte van waarskuwings deur teoloë soos Frits Gaum (Woordfees, Stellenbosch, 2011) dat lidmate net nie meer tevrede is met die tradisionele dogma, wat Bybelstories, wat deur mense geskryf is, steeds opdis as goddelike uitsprake wat onaantasbaar en vir ewig waar is. Hulle begin twyfel aan die eerlikheid en openheid van kerke en hoe die ampsdraers met die bediening omgaan. Afgesien van die feit dat die Bybel geen sinvolle verklaring vir die problem van lyding bied nie [DL: Nie waar nie. Kyk Death and Suffering Questions and Answers.], begin sommige lidmate besef dat daar al lankal toenemend ernstige vrae rondom die persoon van Jesus gevra word. [DL: Slegs onder die liberale teoloë. Daar is baie teoloë wat glad nie hieraan twyfel nie, bv William Lane Craig (www.reasonablefaith.org) en Ferdie Mulder, skrywer van die boek Opgestaan wat tans sy doktorsgraad in teologie aan die Departement Teologie en Geloof, Radboud Universiteit, Nijmegen, Nederland doen (sy blog).]

Enkeles hiervan is hoe hy van Dawid kan afstam as as hy nie ’n biologiese pa gehad het nie. Hy is glo uit ’n maagd gebore maar beide sy geslagsregisters (wat van mekaar verskil) sluit Josef as sy biologiese pa in. [DL: Kyk Jesus se geslagsregister volgens Matteus en Lukas.] Sy voorspellings (Matteus 16: 27-28, 23:36, 24:34 en 26:64, Markus 9:1, 13:30 en 14:62, Lukas 9:27) was verkeerd [DL: Jy hoop dat dit verkeerd is, maar dit gaan bietjie moeilik wees om hierdie een te bewys.] en boonop het hy nooit slawerny verdoem nie. [DL: Kyk Die Bybel oor slawe.] Spangenberg wys tereg daarop dat hy ten beste ’n Joodse wysheidsleraar was. Die Jode en die Moslems weet dit al lankal. Aan ons word hy egter steeds voorgehou as ’n God, of God se Seun, die Tweede persoon van die Drie-eenheid.

Pieter Botha (Die Nuwe Hervorming, 2002) wys daarop dat Jesus nie ’n Christen was nie, maar ’n Jood en nie Grieks, maar Aramees, gepraat het. Hy is vernoem na Josua en sy volgelinge het hom rabbi Jeshua genoem. Dit plaas die gesprek tussen Jesus en Nikodemus oor die wedergeboorte (Joh 3), onder verdenking. Volgens Ehrman werk die gedagte van ’n wedergeboorte net in Grieks, waar die woord meer as een betekenis het. Jesus en Nikodemus het Aramees gepraat, ’n taal waar die woord slegs die een voor die hand liggende betekenis het.

Dit gaan ’n toenemend ongemaklike situasie tydens eredienste skep wanneer predikante die geloofsbelydenis resiteer en ingeligte lidmate reeds weet dat Jesus nie die Seun van God was nie, nie uit ’n maagd gebore is nie, nie ter helle neergedaal het nie, nie uit die dood opgestaan het nie en beslis nie opgevaar na die hemel nie. Hy sal gevolglik ook nie daarvandaan kan terugkeer nie. [GA: Hierdie is ’n strooipopargument of, soos die skrywer dit ondertoe stel, “’n retoriese foefie”!. Dié sg. “ingeligte lidmate” (deur wie ingelig?) wat weet wat v.d.Heever sê dat hulle weet, sal nie in die erediens wees nie. Hulle sou geen rede hê om daar te wees nie en, indien hulle enige integriteit sou hê, lank nie meer lidmate van die kerk sou wees nie.]

Christo Lombard verwys in die boek van Willie Jonker, Die Relevansie van die Kerk (2008), na Jaap Durand wat voel dat ons in die post-Verligtingsyd die knie gebuig het voor die eendimensionele rede van die logika en daarom die dieper dimensies van ons bestaan verwaarloos. Logika was egter nog nooit eendimensioneel nie en indien die dieper dimensies van ons bestaan bloot na die tradisonele benadering tot godsdiens verwys, is dit miskien tyd om logika ’n kans te gun.

Volgens Lombard het daar sedert die Verligting ’n soort Ortodokse speelruimte ontstaan waarbinne sinvol oor God gepraat kan word. Indien ons daardie speelruimte verlaat, om “…’n suiwer redelike sfeer vir die gesprek oor God te skep, …” loop ons, volgens hom, die gevaar : “om die betekenis van ons hele bekende wêreld te verloor.”

Dit is egter so dat die betekenis van ons bekende wêreld en hoe moreel ons daarin optree, nie noodwendig van godsdiens of die Bybel afhanklik is nie. Daarvoor is die tronke te vol Christene. Sam Harris wys in The Moral Landscape (2010) juis daarop dat lande soos Denemarke, Swede, Noorweë en Nederland, wat die mees ateïstiese samelewings in die wêreld verteenwoordig, moreel en eties by verre beter vaar as sogenaamde godsdienstige nasies. [DL: Indien dit wel waar is, beteken dit moontlik slegs dat dit is agv van hulle voorheen Christelike kultuur. Maar om morele waardes te probeer verklaar sonder ’n God, is ’n probleem. Kyk Morality and Ethics.] [GA: Van den Heever behoort te weet dat sg “Christene” nie dít is net omdat hulle hulleself so noem nie. Christen beteken dat hy/sy in die praktyk ’n volgeling van Jesus Christus is, die liefde najaag, by God se norme hou en nie steel, moor, bedrieg of soortgelyke dinge doen nie. Deur sy bewering plaas hy sy hele argumentasie sowel as sy integriteit onder verdenking.]

Ingeligte lidmate beskik tans oor ’n enorme hoeveelheid inligting oor die Bybel en die destydse sosio-politieke klimaat van die Ou Nabye Ooste en kan nie meer, soos voorheen, met ex cathedra uitsprake gestuit word nie. In die lig van die ernstige daling in die bywoning van eredienste sal dit interessant wees om te weet hoeveel mense vanweë kulturele oorwegings steeds lidmate van byvoorbeeld die NG Kerk is, maar nie meer eredienste bywoon nie, omdat hulle spiritueel reeds ligjare verder as die kerkers van die “ortodokse speelruimte” dink. Gesien die feit dat geloof in een of ander vorm steeds die middelpunt van baie mense se bestaan vorm, wonder ’n mens onwillekeurig of die tradisionele Kerk hoegenaamd nog vertrou kan word binne die geestelike speelruimte. Julian Müller (Om te Mag Twyfel, 2011) stel dit treffend as hy sê dat die kerke hulself in die oë van die moderne mens as gespreksgenoot gediskwalifiseer het. [GA: Met “ingeligte lidmate” bedoel v.d.Heever blykbaar dié wat, in die lig van liberalisme, post-teïsme, en die evolusiehipotese, hulleself laat oortuig het dat die Bybel nie waar kan wees nie. Lidmate wat hulleself laat meevoer het deur die eensydige interpretasies van wetenskaplike gegewens sowel as ’n ongelowige benadering van die Bybel as die Woord van God. Sulke lidmate is “reeds ligjare verder” verwyder van die God van die Bybel en behoort die integriteit te gehad het om uit die “kerk” te bedank. Sy argument bring ook die feit in fokus dat die valse kerk nie meer die evangelie suiwer verkondig nie, nie meer tug toepas nie en dus ook nie meer die sakramente suiwer kan bedien nie.]

Tipies is die reaksie van Amie van Wyk (Die Kerkblad, 2010) wat nie ooghare vir die Jesus van die Nuwe Hervorming het nie. Hy is beswaard dat deurwinterde teoloë Jesus in perspektief plaas en beweer, onder andere, dat die Teologie van die Nuwe Hervorming geen hoop vir die toekoms bied nie. Gesien in die lig van die onjuisthede oor Jesus en die Bybel wat deur die eeue en nog steeds aan ons as die waarheid voorgehou word, is dit ’n vreemde stelling. Net so is die geestelike bevryding en werklike hoop wat die Nuwe Hervorming adem, vir hom klaarblyklik ’n geslote boek. [GA: Insgelyks is dit die “bevryding” en die “hoop” van ’n vis om buite die water te probeer lewe, wat sy dood sal beteken.]

In sy nuwe boek Fluit Fluit die Kerk is Uit? (2011) reken Frits Gaum dat dit vir die NG Kerk teoreties maklik behoort te wees om jammer te sê vir die foute van die verlede. “Wanneer dit om berou gaan, moet die kerk waaragtig berouvol wees, anders beteken die lippetaal niks nie.“ Hy steek egter vas by onderwerpe soos apartheid, die rol van die vrou en homoseksualiteit. [GA: Geen ware kerk kan “waaragtig berouvol wees” omdat hy bly vashou aan die norme van God se Woord nie.]

Of die Christelike kerke in die breë en in die besonder, die gereformeerde kerk, ooit berou gaan toon oor die mite wat rondom die persoon van Jesus in stand gehou word, is ’n ope vraag. Deur eerlik te erken dat Jesus ’n mens was, sal nie die einde van die Christelike geloof beteken nie. Die Jode weet dit al duisende jare en dit doen nie afbreek aan hulle ryk kulturele erfenis nie. Trouens, dit sal waarskynlik die deur open vir die groter medemenslikheid en liefde hier op aarde waarvoor Gaum in sy boek pleit. [GA: Die “Christelike kerke” wéét “dat Jesus ’n mens was”, maar hulle wéét dat Hy óók waaragtig God was wat tussen ons kom woon het. Slegs ’n valse kerk (wat dan geen kerk meer is nie) kan oor hierdie sg. “mite” berou hê – soos dit alreeds begin vertoon. V.d.Heever plaas alweer sy integriteit en geloofwaardigheid op die spel deur te insinueer dat die Jode hulle geloof in Jesus Christus ter syde gestel het en só hulle “ryk kulturele erfenis” behou het. Die feit is dat die Jodedom nog nooit hoegenaamd in Jesus geglo het nie. Hulle het dus niks om oor “berou” te hê nie. Geloof in Jesus Christus het ook geen implikasie vir, of verband met, ’n “ryk” kulturele erfenis nie. Probeer die skrywer miskien hiermee “die wortel voor die donkie” hou?]

Johan Janse van Rensburg (Rapport 20/3/2011) [DL: Fundamentalisme? Nee, vrysinnigheid!] probeer walgooi deur te vra: “Waarom in die openbaar kritiek op die kerk uitspreek?” Godsdiens is juis ’n kultuuraktiwiteit wat elke Sondag en by vele ander geleenthede in die openbare oog afspeel. Dit maak aanspraak op ewige waarhede en skryf aan mense voor hoe hulle in die openbaar behoort op te tree en op watter maniere hulle by openbare kwessies betrokke behoort te wees. Die stelsel word begrond in ’n denkraamwerk wat o.a. Jesus as God defineer. Amie van Wyk (In die Skriflig, 2003) erken byvoorbeeld openlik dat standpunte soortgelyk aan dié van die Nuwe Hervorming al sedert die vroeë Christendom in omloop is. As dit waar is en die kerke swyg steeds daaroor, is dit des te meer rede vir ’n openbare debat. [GA: Godsdiens is in die eerste plek ’n geloofsaktiwiteit. Die kerk weet alreeds uit talle Bybelse gegewens dat dwaalleringe reeds van meet af, “sedert die vroeë Chistendom in omloop is”. Dit is dus geen saak om “openlik” te “erken” of waaroor geswyg hoef te word nie – enigiemand met basiese kennis van die Bybel wéét dit reeds. V.d.Heever is besig om sy eie strooipoppe af te skiet.]

Janse van Rensburg beweer ook dat die fundamentalisme in die NG Kerk nou besweer is. In plek daarvan identifiseer hy vrysinnigheid as die huidige gevaar en vra ewe besorg: “Wie wil nou deel van ’n kerk wees wat van niks meer seker is nie?”

Dit is bloot ’n retoriese foefie. Gesien teen die agtergrond van ’n kwynende kerk, is die korrekte vraag: Wie wil nou deel wees van ’n kerk wat nie die waarheid praat nie? [GA: Hierdie vraag is juis die retoriese foefie! Wie se waarheid? Watter ware kerk kán hoegnaamd (geestelik!) kwyn as hy by die Waarheid hou? Dit is ’n hewige misverstand om “minder lidmate” gelyk te stel “kwynend”. Die kerk wat nog net in naam kerk is, is nie ’n kwynende kerk nie – dit is geen kerk meer nie.]

(Dr Jurie van den Heever is ’n paleontoloog [DL: Kyk Aanhalings – Paleontologie] verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch en mede aanbieder van die program “Hoe verklaar u dit?” wat Sondae oggende op RSG uitgesaai word.)

[DL: Ten slotte is dit baie interessant hoe Jurie van den Heever, wat ’n ateïs is, vir ons in hierdie artikel mooi uitlig wie skynbaar bondgenote met die ateïste is: Ferdinand Deist, Sakkie Spangenberg, Willie Esterhuyse, Pieter Botha, Christo Lombard, Willie Jonker, Frits Gaum en Julian Müller.]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui