Hoeveel integriteit het die Nuwe Testament?

Lee Strobel is ’n joernalis wat ’n ateïs was en wat tot bekering gekom het. Sy vrou het ’n Christen geword en omdat hy ’n wesenlike verskil in haar lewe waargeneem het, het hy besluit om op ’n tipiese joernalistieke manier die saak vir Christus te ondersoek. Hy het deeglike navorsing gedoen deur boeke te lees en ’n hele paar Bybelkundiges te gaan besoek en die boek “’n Saak vir Christus” geskryf. ’n Vraag wat hy vir baie van hierdie Bybelkundiges gevra het is hoe hierdie kennis hulle geloof in God beïnvloed het. Almal wat gevra is het getuig dat dit hulle geloof baie versterk het. En dit is hoekom apologetiek (term wat gebruik word om op die verdediging van ons geloof te dui – 1 Petrus 3:15) so belangrik is, veral vandag waar die Bybel baie bevraagteken/aangeval word. Hier volg ’n paar punte uit sy boek en ook uit ander bronne:

“’n Ooggetuie lewer sterk getuienis. Een van die mees dramatiese oomblikke tydens ’n verhoor is wanneer ’n getuie die misdaad wat hy of sy gesien het, in besonderhede beskryf, en die beskuldigde dan vol vertroue as die dader uitwys. As ons seker kan sê dat die evangelies deur die dissipels Matteus en Johannes geskryf is, asook deur Markus – die metgesel van die dissipel Petrus – en deur Lukas – die geskiedskrywer, metgesel van Paulus en ’n soort eerste-eeuse joernals – kan ons taamlik seker wees alles wat hulle aangeteken het, was op eerstehandse of onregstreekse ooggetuie-verslae gegrond”[1].

Skeptici sê dikwels dat die evangelies die toets van konsekwentheid druip omdat daar soveel weersprekings is tussen die vier evangelies. Die waarheid is egter dat indien die evangelies woord vir woord identies aan mekaar was, sou mense júís beweer dat die skrywers onder mekaar gekonkel het om presies dieselfde storie te vertel. Verder, as dit werklik ’n probleem was, sou die Bybelskrywers net een (die mees waarskynlike) weergawe gepubliseer het.[2]

Argeoloë het die afgelope 100 jaar baie ontdekkings gemaak wat die Bybel bevestig. Voorbeelde is: die bad van Betesda (Joh 5:1-15), Siloambad (Joh 7:9), Jakob se put (Joh 4:12) en die Klipterras naby die Jaffapoort (Joh 19:13). Verder het die argeologie nog niks voortgebring wat in stryd is met die Bybel nie[3], anders as in die geval van die Mormone.[1][3]

Alhoewel daar geen oorspronklike geskrifte van die Nuwe Testament bestaan nie, is dit die antieke literatuur wat die meeste geskrifte ter wêreld bevat. Daar is meer as 5000 manuskripte vir die Nuwe Testament wat geskryf is minder as 100 jaar na die werklike gebeure (sommige is tot so ver as 30-60 jaar na Jesus se dood geskryf). Vergelyk dit met ander antieke manuskripte wat deur moderne geleerdes sonder aarseling as eg en betroubaar beskou word:

  • Homerus se Ilias: 650 manuskripte. Die meeste hiervan dateer 1000 jaar ná die werklike gebeure.
  • Annale van Keiserlike Rome: Deel 1 tot 6 is daar een manuskrip, deel 11 tot 16 een en deel 7 tot 10 het verlore gegaan.
  • Die Joodse oorlog (Josephus): 9 manuskripte
  • Julius Caesar: Eers 110 jaar na die werklike gebeure geskryf.
  • Alexander die Grote: Opgeskryf eers 400 jaar na sy dood.
  • Koran: Geskryf 150-300 jaar na die gebeure.[4]

Die feit dat die evangelies so naby aan die werklike gebeure geskryf is, is baie belangrik want indien dit vals was, kon baie mense dit nagaan vir akkuraatheid en die “leuen” in sy spore stuit[5]. Dus, as jy nie die Nuwe Testament wil glo nie, maak dit nie sin om enige ander antieke geskrif te glo nie.

Jesus het werklik wonderwerke gedoen. Hy het onder andere mense genees van lewenslange blindheid en melaatsheid. Dit was definitief nie net ’n tydelike genesing of verbeelding nie. Jesus was ook nie ’n hipnotiseur nie, anders sou hy 5000 mense moes hipnotiseer met die vermeerdering van die brood.

Jesus vervul die profesieë in die Ou Testament 100%. Die kans dat Jesus slegs 8 van die 48 profesieë sou vervul is een uit honderd miljard miljard (1×10-20). Die kans dat Jesus al 48 profesieë sou vervul is (10-12)13 = 10-156.[1][6] (Om dit in perspektief te stel: die kans dat jy die Lotto met een kaartjie sal wen, is 7.2×10-8)

Daar is mense wat wil glo dat Jesus nooit uit die dood opgestaan het nie, omdat hy nooit dood was nie. Dit is egter baie onrealisties: Die geweldige pyn en bloedverlies van die geseling tesame met die kruisiging sou genoeg gewees het om enige mens te laat sterf. Die mense wat Jesus gekruisig het, was ook opgelei om dood te maak en sou nie so ’n fout gemaak het nie – inteendeel, hulle eie lewens sou in gevaar gewees het indien hulle ’n veroordeelde sou laat ontsnap. En as Jesus vir een of ander rede hierdie hierbo oorleef het, sou Hy gesterf het agv die balseming in die graf. Een van die beste argumente vir ’n leë graf is dat ’n beweging wat op die geloof in die opstanding gegrond is, nooit in dieselfde stad sou kon ontstaan waar Jesus begrawe is nie, mits hy werklik opgestaan het.[7]

Daar is ’n hele paar dinge wat teen die Christelike geloof sou tel wat dit baie moeilik sou maak om die Christelike geloof te vestig in daardie tyd. Een van hierdie dinge is dat Jesus gekruisig is: Hoe verklaar ’n mens die verspreiding van ’n godsdiens wat gegrond is op die aanbidding van iemand wat ná die afstootlikste moontlike straf dood is? En indien die dissipels Jesus se lyk gesteel het of indien Jesus op een of ander onverklaarbare rede nie dood was nie, maar net erg verrinneweer, is dit baie onrealisties dat die dissipels bereid sou wees om te sterf vir Christus.[8] Dit is waar dat baie mense al gesterf het vir ’n leuen (bv Moslems wat ter wille van Allah sterf), maar hulle het geglo dat dit die waarheid was.

Die Jesusseminaar is ’n groep mense wat bymekaar gekom het om te besluit wat in die Nuwe Testament waar is en wat nie. Hulle gevolgtrekking was dat 82% van Jesus se woorde in die Nuwe Testamet, nie deur Hom gesê is nie. Die Jesusseminaar is egter ’n baie klein groepie geleerdes wat ver in die minderheid is en wat die radikale rand verteenwoordig. Hulle doel sê ook baie oor hulle objektiwiteit: dit is om Amerikaners van hulle “naïewe” geloof te bevry en te soek na ’n Jesus wat vir vandag relevant is. Een rede hoekom hulle prominent is, is toe te skryf aan die media wat altyd opsoek is na ’n nuwe storie en joernaliste wat nie noodwendig die kennis het oor hierdie onderwerp nie.

Ek sluit af met die volgende aanhaling van C.S. Lewis:

Ek probeer hier verhoed dat iemand die waarlike dom ding sê wat mense dikwels oor Jesus sê: Ek is bereid om Jesus as ’n groot morele leraar te aanvaar, maar ek kan sy aanspraak dat Hy God is, nie aanvaar nie. Dis een ding wat ons nie moet sê nie. Iemand wat bloot ’n man was en die soort dinge sê wat Jesus gesê het, sou geen morele leermeester wees nie. Hy sou ’n waansinnige wees… of anders sou hy die Duiwel uit die Hel wees. Jy moet kies. Hierdie man was, en is, die Seun van God, of anders ’n malmens of iets ergers. Jy kan Hom as ’n dwaas opsluit, of op Hom spoeg en Hom as ’n duiwel doodmaak; of anders kan jy aan sy voete val en Hom Heer en God noem. Laat ons egter nie met bedrieglike onsin vorendag kom dat Hy ’n groot menslike leermeester was nie. Dít het Hy nie vir ons oop gelaat nie. Dit was nooit sy bedoeling nie.

Plek ontbreek in hierdie baie kort artikeltjie om werklik reg te laat geskied aan hierdie onderwerp. Ek sal dit baie sterk aanbeveel om verdere bronne te raadpleeg vir meer inligting hieroor (sien hieronder).

Voetnotas

[1] Aangehaal uit ’n Saak vir Christus (A case for Christ), deur Lee Strobel.

[2] Kyk ook Errors in the Bible?

[3] Vir meer oor argeologie, kyk Archaeology Questions and Answers en http://www.christiananswers.net/archaeology/home.html

[4] Kyk The Bible and the Qur’an

[5] Kyk ook Gospel Dates and Reliability.

[6] Kyk ook Prophecies Jesus Fulfilled, waar 44 van hierdie profesieë gelys word.

[7] Kyk ook die debat Is There Historical Evidence for the Resurrection of Jesus?

[8] Vir meer hieroor, kyk The Impossible Faith: Or, How Not to Start an Ancient Religion

Vir nog meer oor apologetiek van die Nuwe Testament, kyk

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui