Jesus se geslagsregister volgens Matteus en Lukas

Dit is opvallend hoe baie mense wat evolusie as feit aanvaar het, se grootste wapen is om die Bybel se integriteit aan te val. Hulle het nie noodwendig voorbeelde van bewyse van evolusie nie, maar hulle het ’n hele string van voorbeelde waar die Bybel kwansuis teenstrydig of verkeerd is. Dit is ongelukkig juis dit wat veroorsaak dat sommige mense sukkel met hulle geloof en ander word selfs verhoed om tot geloof te kom. Een van hierdie voorbeelde is die verskillende geslagsregisters van Jesus volgens Matteus en Lukas:

Daar is twee potensiële probleme met Jesus se geslagsregister volgens Matteus en Lukas:

  1. As Maria ’n maagd was, hoekom is Jesus gebore uit Dawid (en Josef) se geslagsregister as Josef niks met die storie te doen gehad het nie?
  2. Hoekom is die geslagsregisters van Jesus volgens Matteus en Lukas heeltemal verskillend? Kyk hier onder:

Geslagsregister van Jesus volgens Matteus:

Matteus 1

(6) Isai was die vader van koning Dawid. Dawid was die vader van Salomo by die vrou van Urija;
(7) Salomo was die vader van Rehabeam, Rehabeam van Abia en Abia van Asa;
(8) Asa was die vader van Josafat, Josafat van Joram, en Joram van Ussia;
(9) Ussia was die vader van Jotam, Jotam van Agas, en Agas van Hiskia;
(10) Hiskia was die vader van Manasse, Manasse van Amon, en Amon van Josia;
(11) Josia was die vader van Jojagin en sy broers. Toe is die volk weggevoer na Babilonië toe.
(12) En na die Babiloniese ballingskap was dit so: Jojagin was die vader van Sealtiël, en Sealtiël van Serubbabel;
(13) Serubbabel was die vader van Abihud, Abihud van Eljakim, en Eljakim van Asor;
(14) Asor was die vader van Sadok, Sadok van Agim, en Agim van Elihud;
(15) Elihud was die vader van Eleasar, Eleasar van Mattan, en Mattan van Jakob;
(16) Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.

Geslagsregister van Jesus volgens Lukas:

Lukas 3

(23) Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy omtrent dertig jaar oud. Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef. Josef was die seun van Eli,
(24) seun van Mattat, seun van Levi, seun van Melgi, seun van Jannai, seun van Josef,
(25) seun van Mattatias, seun van Amos, seun van Nahum, seun van Hesli, seun van Naggai,
(26) seun van Mahat, seun van Mattatias, seun van Semeïn, seun van Josek, seun van Joda,
(27) seun van Johanan, seun van Resa, seun van Serubbabel, seun van Sealtiël, seun van Neri,
(28) seun van Melgi, seun van Addi, seun van Kosam, seun van Elmadam, seun van Er,
(29) seun van Josua, seun van Eliëser, seun van Jorim, seun van Mattat, seun van Levi,
(30) seun van Simeon, seun van Juda, seun van Josef, seun van Jonam, seun van Eljakim,
(31) seun van Melea, seun van Menna, seun van Mattata, seun van Natan, seun van Dawid,
(32) seun van Isai, seun van Obed, seun van Boas, seun van Sala, seun van Nagson,

Volgens Matteus is Josef se pa Jakob en is dit die geslagsregister deur Dawid se seun, Salomo.

Volgens Lukas is Josef se pa Eli en is dit die geslagsregister deur Dawid se seun, Natan.

Is die Bybel verkeerd of teenstrydig?

Daar is EEN verklaring vir beide van hierdie twee “probleme”:

jesus se_geslagsregister_matt1_luk3

Die geslagsregister volgens Matteus is van Josef, Maria se man – hy is familie van Dawid deur Salomo (Batseba se seun).

Die geslagsregister volgens Lukas is van Maria – sy is ook familie van Dawid, maar deur Natan (nie die profeet nie). Dus was Eli Josef se skoonpa (Maria se pa).

Hierdie is verder ’n baie sterk bewys/aanduiding dat Maria ’n maagd was toe sy Jesus verwag het. As Josef die biologiese pa was, sou Lukas glad nie moeite gedoen het om Maria se geslagsregister op te skryf nie. Matteus het egter seker Josef se register opgeskryf, juis oor die feit dat die vroue se lyne baie min betekenis gehad het.

Verder is dit ongelooflik dat beide Josef en Maria se geslagsregister juis by Dawid verdeel. Dawid was ’n baie prominente figuur in die Bybel en iemand wat baie lief vir God was, tot die dag van sy dood.

En natuurlik wys dit net weer dat daar geen of bitter min teenstrydighede in die Bybel is nie.

Kyk ook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui