Kerk se versoeningsboodskap in die gedrang?

*******

Kerk se versoeningsboodskap in die gedrang? | Kerkbode

Kerkbode

7 September 2022

“Verdagmaking en dreigemente” het die NG Kerk se versoeningsboodskap in die gedrang gebring, sê leiers in ’n onlangse verklaring.

“Op talle terreine maak die kerk ’n lewegewende verskil en word miljoene se lewe daardeur geraak,” sê die dagbestuur van die moderamen van die Algemene Sinode (AS) in ’n skrywe wat in Augustus gepubliseer is. “Die kerk het egter ook oor die afgelope jare interne verdeeldheid beleef,” lui die skrywe wat wyd gelees en gedeel is op Kerkbode en ander media. Die verklaring brei dan uit oor “wanvoorstellings” oor die besluite van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings.

Sinodegangers het drie jaar gelede vir ’n “proses” eerder as “beginsel” gekies toe hulle gestem het ten gunste van ruimte vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag, verduidelik die skrywers van die verklaring: “Die waarheid is dat die Algemene Sinode (AS) nie in 2019 ’n beginselbesluit geneem het ten gunste van of teen selfdegeslagverhoudings nie,” luidens die verklaring. “Die prosesbesluit wat geneem is, het die gereformeerde beginsel gehandhaaf dat gemeentes selfstandig besluite kan neem oor etiese sake, in hierdie geval oor selfdegeslagverhoudings. Gemeentes het trouens nog altyd besluit oor wie in hulle ampte dien en hoe lidmate pastoraal versorg, begelei en bedien word.”

Dr Chris van Wyk, Oos-Kaapland se moderator, sê by navraag die inhoud van die jongste verklaring los nie die verdeeldheid in die kerk op nie. “Hulle (die AS) het gekies om diverse besluite oor selfdegeslagverhoudings in die kerk toe te laat. Die teenstrydige aard van die 2019-besluit laat die kerk egter met die dilemma dat dit onuitvoerbaar is.”

Ds Laurie Gaum, wat hom beywer vir gayregte, sou graag wou sien dat die kerkleiers moeite doen om meer na LGBTQIA+ gelowiges uit te reik. Dit is iets wat ge-eggo word deur die Wes-Kaapse leraar dr Louis van der Riet. Hoewel Van der Riet die verklaring as “nugter en nodig beskou”, wonder hy hoekom ontbreek “’n teologiese aanvoeling en begrip vir bondgenootskap”. “Bondgenote het mag wat mense aan die rand van die kerk en samelewing nie het nie,” sê Van der Riet aan Kerkbode. Vir hom “faal (kerkleiers en predikante wat kies om nie hulleself ten gunste van selfdegeslagverhoudings of daarteen uit te spreek nie) die toets van bondgenootskap”.

Ds Annelet Slazus van NG Gemeente Boesmanland op Springbok in die Noord-Kaap waarsku weer teen ’n “toutrek-situasie” in die NG Kerk, waar verskillende gemeentes hulleself in verskillende “teologiese kampe” plaas. “Die gemeente se identiteit word gevind in hulle teologiese standpunte, en so begin die toutrekkompetisie …” As hierdie strategie voortgaan, “gaan ons een of ander tyd mekaar plat trek”, sê Slazus.

Ds Dirkie van der Spuy, tot onlangs moderator van Oostelike Sinode, sê daar is ’n geleentheid vir die Algemene Sinode om nou leiding te gee oor “alternatiewe kerkverbande” wat ruimte maak vir diegene wat gewetensbesware het oor die besluit rondom selfdegeslagverbintenisse.

Die dagbestuur benadruk in die verklaring dat die NG Kerk verbind is daartoe om “in ’n uitdagende tyd en ontwikkelende wêreld gehoorsaam te wees aan Christus, die Here, en nie weg te skram van moeilike vraagstukke en omstandighede wat onreg en lyding veroorsaak nie,” en voeg dan by: “Vir skeurmakery is daar egter nie in die Kerk van Christus plek nie.”

Kairos Netwerk (KN) se Sentrale Werkgroep het intussen in ’n verklaring gesê dat “dolering voortvloei uit ’n lojaliteit aan die NG Kerk en (dat daar) getreur word oor on-Skriftuurlike besluite wat slegs deur die AS reggestel kan word”. Hulle “daag die ASM uit” om te erken dat KN “deurgaans uit liefde vir die Here en sy Kerk gepleit het vir gesprek en ’n buitengewone sinode met die oog op kerklike reformasie …”

Konsepformulier? 

Oor die onderskeid tussen ’n “beginselbesluit” teenoor ’n “prosesbesluit”, het ds Theo Danzfuss in ’n skrywe aan Kerkbode gevra: “Wat beteken die AS se opdrag dan dat ’n formulier opgestel moet word om … die seksuele verhouding tussen twee persone van dieselfde geslag kerklik te sanksioneer, bevestig en in te seën?” [Kyk Opsomming: NGK oor formulier vir selfdegeslagverbintenisse.]

Luidens ’n verslag wat by ’n onlangse Wes-Kaaplandse streeksamekoms (Sinode van Wes-Kaapland Moderamen) voorgehou is, het die Algemene Sinode Moderamen (ASM) afgesien van die opstel van so ’n formulier: “Tydens die Algemene Sinode se vergadering van die Moderamen van 17-19 Mei in Johannesburg het die ASM besluit dat dit nie die besluit van die Algemene Sinode om ’n formulier te skryf vir die bevestiging van selfdegeslagverhoudings kan uitvoer nie, aangesien die Algemene Sinode nie ’n prinsipiële besluit ten gunste van selfdegeslagverhoudings geneem het waarop so ’n formulier geskoei kan word nie.”

“Die argument is as die kerk nie ’n prinsipiële besluit (oor SGV) geneem het nie, kan die ASM nie voortgaan en … ’n formulier skryf nie,” het ds Nelis Janse van Rensburg die ASM se Mei-besluit tydens die streeksamekoms aan die afgevaardigdes verduidelik.

[Kommentaar: Dit is ook tydens hierdie ASM vergadering waarby die Namibiese Sinode hulle saak gaan stel het oor die dwalinge in die NG Kerk. Hulle is egter onverrigter sake daar weg: Kyk Namibië-span vlieg na SA: Maratongesprek om eenheid te behou.]

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, verduidelik as volg: Hoe die erediens ingerig word in gemeentes wat besluit het om wel mense van dieselfde geslag in burgerlike verbintenisse te bevestig, is die reg van kerkrade. “Daar gaan dus nie ’n konsepformulier opgestel word nie en dit sal die prerogatief van ’n kerkaad wees, afhangend natuurlik van sy hantering van die 2019-besluit, hoe die formulier ingerig sal word,” volgens Claassen.

Die kerkhistorikus prof Johan van der Merwe sê die “amptelike stem van die kerk was vir te lank stil terwyl ongekende verdagmakery aan die gang was.” ’n Eenmalige verklaring sonder opvolgaksies gaan egter van min waarde wees. Kommunikasie vind vandag anders plaas, sê Van der Merwe. Hy sal wil sien dat die kerkleierskap kyk na maniere soos byvoorbeeld SMS’e en WhatsApp-boodskappe om deurlopend vir lidmate te vertel waarmee die kerk besig is in breë verband. Selfs die hou van “roadshows” waar lidmate die kans kry om eerlik te kan sê wat op hulle hart is.

  • Die berig is na publikasie aangepas. Red.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui