Konteks gee Bybel juis méér gesag

Kyk KOMMENTAAR onderaan.

*******

BRIEF | Konteks gee Bybel juis méér gesag | Netwerk24

4 September 2022

Frits Gaum, Durbanville, skryf:

Prof. Dries du Plooy se artikel (28.08) het betrekking.

Die term “homoseksualiteit”, wat onder meer verwys na ’n aangebore homoseksuele oriëntasie, dateer uit die 19de eeu. Die Bybelskrywers het nie dié term gebruik nie, soos ook nie die 2020- Afrikaanse Bybelvertaling nie.

Skrifverwysings na seks tussen mense van dieselfde geslag praat nie oor seks in vaste verhoudings van liefde en trou nie, maar eerder oor losbandige, promiskue seks – wat altyd verkeerd is.

Diskriminasie teen swart, wit, bruin of gay mense is verkeerd. Die Bybelse liefde laat dit nie toe nie, want die liefde doen die naaste geen kwaad nie.

Die gesag van die Skrif word juis gehandhaaf as ’n mens elke deel daarvan respekteer en in sy konteks probeer verstaan, en die boodskap daarvan na vandag se totaal ander omstandighede dekodeer. Dit is wat die NG Kerk probeer doen. Die GKSA, waarvan prof. Du Plooy ’n lidmaat is, tog ook?

Kommentaar

Etienne Nolte, Clocolan skryf:

Frits Gaum se artikel (04.09) het betrekking.

Die gesag van die Skrif word nie deur die konteks gehandhaaf nie, maar deur die ewige God wat Homself in en deur die Woord aan ons openbaar. Die konteks is irrelevant, wat in genoemde skrywe absoluut relevant is, is:

a) God bly altyd dieselfde, gister vandag tot in ewigheid Heb 13:8, aldus ook God se siening oor sonde.

b) Die mens en wat binne hom is (lees sonde) bly ook dieselfde, aldus Jesus in Joh 2:25

c) Of jy gay in 0060 nC of 2022 nC is, is nie relevant nie, aangesien die vraagstelling nie te doen het met promiskue of monogame “verhoudings” nie, maar volgens die Here self, gaan oor mense wat die natuurlike God gegewe gawe van seks verruil vir dié teen die natuur. Die griekse woord “para phusin” spreek van self. Rom 1:26. Hiermee word die beeld van God in die mens geskend.

Ten laaste kom die kwessie i.v.m monogame selfdegesag verhoudinge in die Bybel nooit ter sprake nie, aangesien God ’n afkeur het in alle verhoudings wat teen Sy skeppingsorde (para phusin) indruis. Die basis van hierdie vergrype kan nooit reggestel word deur ’n sogenaamde monogame huwelik nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui