Kairos Netwerk se antwoord op die ASM-Dagbestuur se vals verklaring

*******

Kairos Netwerk (KN) se antwoord op die ASM-Dagbestuur (ASMD) se vals verklaring

KN het met verbasing kennis geneem van die onkerkordelike verklaring wat die  ASMD op 12 Augustus as direkte aanval teen Kairos Netwerk uitgereik en landwyd per epos versprei het.

Dit was ook in bykans al die Afrikaanse koerante gepubliseer.  Die hartseer en teleurstelling lê daarin dat die verklaring deurspek is met leuens en geskryf is in ‘n trant van verdagmaking en dreigemente – juis dít waarvan KN in die verklaring beskuldig word.

Landswyd en internasionaal is daar onder Skrifgetroue kerkleiers en -lidmate ‘n groeiende bewuswording van die omvang van die skade wat deur dwaalleringe aan God se Koninkryk en kerk aangerig word. Dit is duidelik dat dié krisis in die kerk onderskat is en daarom die skynbare noodsaak om so ‘n valse verklaring uit te reik. Dit is egter onaanvaarbaar dat kerklik verkose voorgangers wat deurentyd die belange van die kerk en haar lidmate op die hart moet dra, so ‘n openbare valse en beledigende  verklaring teen ander NG-lidmate kon uitreik.  Dit getuig van ‘n gebrek aan nederigheid, onetiese gedrag en selfregverdiging.

Aangesien die ASMD se verklaring getuig van ‘n gesindheid en optrede wat vir die NG Kerk ‘n verleentheid is, ‘n gebrek aan integriteit en leierskap openbaar en haatspraak en laster bevat wat nie tuishoort in die Here se Kerk nie, versoek KN die ASM vriendelik om uit eerbied vir die Here se Woord asook hul eie Kerkorde, sonder versuim aan KN ’n openbare skriftelike verskoning aan te bied.  Dit moet ook gestuur word aan almal wat die omstrede verklaring ontvang het.

  • Kairos Netwerk is oortuig daarvan dat Skrifgesag in die gedrang is en daag daarom die ASM uit om:
  • bewyse te lewer van die beskuldigings wat direk en indirek oor KN gemaak is;
  • bewyse te lewer vir die bewering dat KN “wanvoorstellings maak oor die besluite van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudinge” terwyl die teendeel juis waar is. Die Algemene Sinode het selfdegeslagverhoudinge goedgekeur, opdrag gegee om daarvoor ‘n formulier op te stel en toegesien dat by Departement Binnelandse Sake aansoek gedoen word dat predikante van die NG Kerk dit kerklik kan inseën en bevestig. Om nou te ontken dat die AS sulke verbintenisse Skriftuurlik probeer regverdig, is misleidend;
  • te verduidelik waarom Teologiese fakulteite toegelaat word om bv. konferensies aan te bied wat openlik ‘n on-Skriftuurlike agenda beklemtoon;
  • in die openbaar te erken dat dit KN is wat by herhaling eerste na die ASM uitgereik het, nie andersom nie;
  • te erken dat alle gesprekke tussen ASM en KN nie kon vorder nie weens die ASMD/ASM se onvermoë en onwilligheid om beloftes na te kom (bv. die versuim om skriftelike KN-voorleggings te hanteer soos ooreengekom),  en later die gerieflike verskoning te gebruik dat KN geen locus standi het nie;
  • in die openbaar te erken dat die vroom “oproep om na mekaar te bly luister en te leer, om saam te bid en te werk…” direk in stryd is met hul eie optrede in praktyk (Jak 2:9);
  • te verduidelik waarom KN van skeurmakery beskuldig word, terwyl dolering voortvloei uit ‘n lojaliteit aan die NG Kerk en getreur word oor on-Skriftuurlike besluite wat slegs deur die AS reggestel kan word; en
  • te erken dat KN deurgaans uit liefde vir die Here en sy Kerk gepleit het vir gesprek en ‘n buitengewone sinode met die oog op kerklike reformasie  –  ’n terugkeer na die Bybel as die Woord van God en die leer van die Formuliere van Eenheid tot eer van God.

Kairos Netwerk (Sentrale Werkgroep).
7 September 2022

Kommentaar

‘n Mens raak in ’n mate al moeg vir die bekgevegte tussen Kairos Netwerk en die algemene sinodale moderamen. Dit is baie duidelik dat die twee partye mekaar nooit sal vind nie. Die vraag is dus of dit enigsins nog die moeite werd vir Kairos Netwerk is om hierdie gevegte voort te sit.

Kairos Netwerk wag tans om te kyk wat die Namibiese sinode, Oostelike sinode en Vrystaatse sinode binnekort gaan doen. In die tussentyd sal hulle waarskynlik voel dat hulle hul eer moet verdedig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui