Namibië-span vlieg na SA : Maratongesprek om eenheid te behou

Kyk ASM reageer op Namibië se besoek (18 Mei 2022) vir meer agtergrond.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Namibië-span vlieg na SA : Maratongesprek om eenheid te behou | Kerkbode

Le Roux Schoeman

21 Mei 2022

Voor hy en twee van sy mede-afgevaardigdes die Woensdagoggend om 4 vm gery het om ’n rooi-oog-vlug vanaf OR Tambo huiswaarts te vang, het dr De Wet Strauss gesê “die Namibiese ouens” keer baie dankbaar terug na hulle tuisland omdat die Algemene Sinode Moderamen (ASM) hulle “deeglik uitgeluister” het.

Ná altesaam sowat 15 uur se gesprek met ’n klein groep kerkleiers het Strauss op 17 Mei ook aan die moderamen in geheel (sowat 50 stemgeregtigdes) die Namibiese belewenis gedeel en terugvoer ontvang.

Die Namibiese Sinode sê onder meer dat die 2019-besluit (selfdegeslagverhoudings) “en die manier waarop dit binne die NG Kerk ontvang en toegepas, verstaan en teengestaan word … polarisasie en antagonisme laat toeneem in die kerklike verhoudinge onderling.”

As assessor van die Namibiese Sinode en voorsitter van die taakspan wat na hulle buurland gestuur is, was dit Strauss wat die ASM namens Namibië versoek het om ’n “onderneming te gee om die mees toepaslike en kerkordelike wyse te vind om ’n moratorium op die AS 2019-besluit te plaas”.

Die versoek op ’n moratorium op die NG Kerk se besluit oor selfdegeslagverhoudings is met min geesdrif ontvang. “Het Namibië, toe hulle hierdie besluit geformuleer het, na die lang proses van bykans 25 jaar in die NG Kerk gekyk?” wou een van die afgevaardigdes in reaksie op die voorstel weet. “Waar daar by verskillende sinodes teologies geworstel is oor hierdie saak, Skriftuurlik geworstel is oor hierdie saak …”

In ’n geskrewe reaksie op die gesprek met Namibie het die Algemene Sinode Moderamen gesê hulle “het nie ’n kerkordelike mandaat om besluite van die Algemene Sinode op te skort nie. Op weg na die Algemene Sinode van 2023 is daar egter geen prinsipiële besluit wat sinodes, ringe en gemeentes die geleentheid ontneem om verder te onderskei en besluite in hulle eie konteks te neem nie,” luidens die ASM-reaksie (Lees die volledige dokument hieronder. – Red).

Strauss is deur ds Nelis Janse van Rensburg, die voorsitter van die moderamen, kans gegee om op die terugvoer te reageer. Hy het verduidelik dat hy meen die 2019-besluit ’n breër “kultuuroorlog” in die hand werk (“dit is regs opgesit teen links,” verduidelik Strauss).

Die leraar van Windhoek was later dieselfde aand positief oor die besoek in geheel. Hy het die aanvanklike gesprek wat die ses-lid Namibiese afvaardiging met onder meer Janse van Rensburg oor die loop van twee dae gehad het, uitgesonder. “Die ouens het vir ons baie tyd begroot en hulle het baie moeite gedoen om ons goed uit te luister,” het Strauss aan Kerkbode gesê.

’n Tweede onderwerp op die tafel (wat teologiestudente aan universiteite mag leer) het ook heelwat praatwerk geverg, maar stappe waarmee die Algemene Kuratorium, die bestaande oorsigliggaam, besig is, word goed ontvang, volgens twee ingeligdes met wie Kerkbode gesels het.

Terwyl beide die 2019-besluit en teologiese opleidings stellig onder lidmate en kerkrade in al die kerk se ander nege streeksinodes bespreek word en ook by die onlangse streeksinodale sittings in die Vrystaat en Noord-Kaapland, groot aandag gekry het, het Namibië se taakspan verder gegaan in die sin dat hulle in Maart hulleself ’n spertyd gestel het: Om teen November te besluit of hulle die NG Kerk sal verlaat.

Oor die intense gesprek met die Namibiese taakspan wat die ASM-ontmoeting voorafgegaan het, het Janse van Rensburg aan die vergadering gesê: “Ons het met soveel erns na die (Namibiese) sinode geluister omdat dit een van die tien samestellende sinodes is waarvoor ons baie respek en waardering het. Ons het ’n baie diep verbondenheid aan die land … dis nie die buiteland nie. Dit is nie iemand ver nie, dis ons. En dit is ons kerk. So ons het met daai verantwoordelikheid geluister.”

Oor wegbreek van die NG Kerk sê Strauss kort voor sy tuisvlug dat daar nog ’n paar maande oor is voor die besluit geneem moet word. “Die eenheid in Christus is vir ons die heel belangrikste,” aldus Strauss.

Hieronder volg die amptelike besluit van die Algemene Sinode Moderamen van die NG Kerk in antwoord op die besluite van die Sinode van Namibië, soos uitgereik op 18 Mei 2022.

’n Afvaardiging van die NG Kerk in Namibië het op 16 en 17 Mei 2022 in gesprek getree met ’n afvaardiging van die Algemene Sinode van die NG Kerk.

Die Sinode van Namibië het die behoefte gehad om hulle standpunte en hulle interpretasie van die besluite van die Algemene Sinode van 2019 oor selfdegeslagverhoudings te verduidelik en toe te lig. Die ASM het kennis geneem van die Sinode van Namibië se besluite tydens sy vergadering van 19-23 Maart 2022 oor sy standpunte oor selfdegeslagverbintenisse en die implikasies daarvan vir hulle verband met die Algemene Sinode. Die Namibiese afvaardiging het met verduidelikende dokumente hulle sinodale besluite toegelig.

Die Algemene Sinode Moderamen is bewus gemaak van die intense reis van die Sinode van Namibië oor selfdegeslagverhoudings. Ons is dankbaar dat die sinode besluit het om met die Algemene Sinode in gesprek te tree en ons te nooi om deel te neem aan ’n Matteus 18-reis.

Ons aanvaar die uitnodiging tot deelname aan hierdie Matteus 18-reis waarop ons saam onderskeidend op weg sal wees.

Ons aanvaar dat die Algemene Sinode en sinodes saam ’n verantwoordelikheid het om deel te neem aan die begeleiding van gemeentes met betrekking tot teologiese en etiese sake. Daarom is ons voortdurend in gesprek met sinodes.

Die Algemene Sinode Moderamen is daartoe verbind om in hierdie proses ons nie skuldig te maak aan verdagmaking of wanvoorstellings nie, maar sinodes (lees in hierdie geval Namibië) se integriteit te beskerm, en eerder in direkte gesprekke posisies uit te klaar. Die Algemene Sinode Moderamen doen ook terselfdertyd ’n beroep op die Sinode van Namibië en alle ander kerkvergaderings en ook lidmate om hulle te weerhou van verdagmakery en wanvoorstellings.

Die dagbestuur van die Algemene Sinode Moderamen, wat vir die doel van die gesprek uitgebrei is met die voorsitters van die Algemene Kuratorium en die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake, het met baie erns na Namibië se afvaardiging geluister. Die dagbestuur het gerapporteer dat hulle die volgende gehoor het:

  1. dat die gebruik van die woord “vasgelooptheid” in die 2019-besluit dit laat klink het of die Algemene Sinode in ’n doodloopstraat beland het en dat “die Algemene Sinode sy verantwoordelikheid geabdikeer het”. Vasgelooptheid word deur die Sinode van Namibië as ’n sekulêre begrip beskou omdat daar met die gebruik van die woord afgesien word van die verantwoordelikheid om leiding te neem op grond van ’n Skrifgefundeerde besluit;
  2. dat daar agterdog bestaan by die Sinode van Namibië dat die Skrif as belangrikste bron van gesag deur die Algemene Sinode ondergeskik gestel word aan menslike beskouings en oorwegings;
  3. dat daar uitbreidings in die uiteensetting van die besluit van 2019 was wat die voorgestelde onderskeidingsproses van die gemeentes en sinodes vooruitloop (bv punte 5 en 9 van die 2019-besluit);
  4. dat die besluit om ’n formulier te skryf (punt 10 van die 2019-besluit) die oortuiging dat die 2019-besluit inderdaad ’n prinsipiële besluit ten gunste van selfdegeslag verhoudings is, bevorder;
  5. dat verkeerde opvattings oor die 2019-besluit tot gevolg gehad het dat persepsies ontstaan het dat die Algemene Sinode wel ’n prinsipiële “pro-selfdegeslagverbintenisse” standpunt ingeneem het, en dit die sinode van Namibië in die lig van hulle sinodale besluit oor selfdegeslagverhoudings in ’n onhoudbare posisie geplaas het;
  6. dat die besluit van 2019 bygedra het tot die polarisasie en antagonisme in die kerk;
  7. dat daar kommer heers oor teologiese opleiding aan die fakulteite waar die kerk se studente opgelei word;
  8. dat die Sinode van Namibië die voorsitter van die Algemene Kuratorium genooi het om te reageer op die kommer van die sinode oor teologiese opleiding. (Die Algemene Kuratorium het reeds prosedures bepaal vir gesprek oor kwessies wat kommer wek). Die gesprek met die Algemene Kuratorium vind eersdaags plaas.

Vir die reis vorentoe besluit die ASM:

  1. Die verheldering van die ongemak van die Sinode van Namibië help ons om met begrip en sensitiwiteit om te gaan met hulle en ander wat soortgelyke kommer het.
  2. Dit is vir ons hoopgewend dat die Sinode van Namibië se 2016-besluit oor die gesag van die Skrif ooreenstem met die Algemene Sinode se besluit hieroor en bevestig dat die Algemene Sinode sedert 1986 op ’n konsekwente wyse die Skrif hanteer het deur die tyd en kultuurbetrokkenheid van die Bybelse tekste in die interpretasie daarvan te verreken. Die Namibiese standpunt oor Skrifhantering van 2016 stem hiermee ooreen.
  3. Die Algemene Sinode het nie in 2019 ’n prinsipiële besluit vir of teen selfdegeslagverbintenisse geneem nie, maar het wel ’n beleidsbesluit geneem wat ruimte skep vir verskillende standpunte oor selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Die besluit van 2019 kan hoogstens as ’n prosesbesluit verstaan word met die veronderstelling dat daar oral in die kerk verder oor die aangeleentheid gedink en onderskei word.
  4. Die Algemene Sinode Moderamen het nie ’n kerkordelike mandaat om besluite van die Algemene Sinode op te skort nie. Op weg na die Algemene Sinode van 2023 is daar egter geen prinsipiële besluit wat sinodes, ringe en gemeentes die geleentheid ontneem om verder te onderskei en besluite in hulle eie konteks te neem nie.
  5. Die Algemene Sinode Moderamen moedig sinodes, ringe en gemeentes aan om voort te gaan met geloofsonderskeidende gesprekke oor die onderwerp. Die Algemene Sinode is bereid om ondersteuning te verleen indien dit benodig word.
  6. Die Algemene Sinode Moderamen is tot ’n geloofsonderskeidende reis met die Sinode van Namibië verbind.

Kommentaar

Soos ’n mens verwag het, het die ASM die verteenwoordigers van die Namibiese Sinode baie beleefd behandel en na hulle kant van die saak geluister, sonder om enigiets aan die stand van sake te verander. Hierdie einste groep (ASM) het immers ook die Kairos Netwerk se besware aangehoor sonder om iets daaraan te doen (kyk Kairos Netwerk Nuusbrief – 1 Apr 2021).

Dit was egter nie ’n billike versoek om twee en ’n half jaar na die 2019-besluit geneem is nou op hierdie stadium te vra dat ’n moratorium op die besluit geplaas word nie. Dit is hopeloos te laat.

Verder is dit eintlik onredelik om van die ASM te verwag om hulle standpunt te verander. Dit is soos iemand van die ASM tereg opgemerk het: “Het Namibië, toe hulle hierdie besluit geformuleer het, na die lang proses van bykans 25 jaar in die NG Kerk gekyk?”

Die dwaling in die NG Kerk kom al ’n baie lang pad (kyk Skokkende geskiedenis van die NG Kerk sedert 2000). Dit is nie realisties om dit nou skielik te probeer omdraai nie.

De Wet Strauss se opmerking aan die einde is kommerwekkend: “Die eenheid in Christus is vir ons die heel belangrikste”

Jesus self sê in Matteus 10:34-39 dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar verdeeldheid. God se saak is altyd belangriker as goeie verhoudings met mense (kyk Kerkeenheid waar ek hierdie kwessie in meer besonderhede bespreek). ’n Mens hoop net dat die Namibiese Sinode nie ook voel dat eenheid die heel belangrikste is nie, want dan sal hulle nooit oorgaan om weg te breek van die algemene sinode nie, soos hulle gesê het hulle sal.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui