Kyk ook:
- Skokkende geskiedenis van die NG Kerk sedert 2000
- Opsomming van skokkende NG Kerk-besluite
- Lys van leerdwaling aanklagtes
- Lys van teoloë wat liberale uitsprake gemaak het
- Die Strand in gesprek met Wes-Kaaplandse kerkleiers (11 Jun 2023)
- Dr Henk Gous – Algemene Sinode kommentaar (13 Okt 2025, Ferdie Mulder, Youtube)
Feite oor kerk vrae: 09:45 05 Oktober 2025
Inhoudsopgawe
- Inleiding
- Kommentaar
- Homoseksualiteit
- Skrifbeskouing
- Teologiese opleiding
- Maagdelike verwekking, opstanding en Jesus se godheid
- Bestaan van die duiwel
- Dolerendes tree nie in gesprek nie
- LGBTQIA+
- Homoseksualiteit en die wetenskap
- Homoseksualiteit en die Bybel
- Ten slotte
- Bylaag A: Uitdeelstuk
Op Sondag 5 Oktober 2025 het ds Henk Gous na afloop van ‘n erediens die NG Kerk verdedig en ‘n paar “feite” probeer gee oor die teologiese kwessies in die NG Kerk. In kort was sy boodskap dat die NG Kerk en teologiese fakulteite gesond is en dat dolerende/Koinonia gemeentes se besware ongegrond is. Hy beskuldig Koinonia/dolerende gemeentes daarvan dat as hulle dink dat daar probleme is, hoekom was daar die afgelope 20 jaar geen klagtes gemaak teen teologiese dosente nie?
Die doel van sy boodskap was om ‘n oproep te maak om die verskille wat daar wel is as randsake te sien en eenkant toe te skuif sodat ons almal saam kan werk om die Evangelie by mense uit te kry.
As hy egter geen begrip kan toon daarvoor dat dolerendes besorg is oor die NG Kerk nie, sal ons mekaar nooit vind nie.
Sy siening oor homoseksualiteit is:
- Dit is deel van die gebrokenheid van die wêreld.
- Dit is vir die meerderheid homoseksuele mense nie lekker om homoseksueel te wees nie.
- Homoseksualiteit is nie ‘n wonderlike gawe van die Here nie.
- Homoseksualiteit is egter nie ‘n sonde nie.
Hier is die hele toeligtingsessie op Youtube: Feite oor kerk vrae: 09:45 05 Oktober 2025
Inleiding
Op die oomblik is Henk Gous ‘n brugleraar of tydelike leraar by Secunda Oosgemeente. Oosgemeente en Goedehoopgemeente deel vir baie jare ‘n kerkgebou, maar die twee gemeentes verskil teologies:
- Goedehoop doleer nie net nie, maar het ook opgeskort. Met ander woorde, hulle het hulself onttrek van alle strukture van die NG Kerk – hulle woon nie meer ringsittings of streeksinodes by nie. Die voorsitter van die Koinonia Sinode, ds Anton Knoetze, is die senior leraar by Goedehoop.
- Oosgemeente aan die ander kant, assosieer met die NG Kerk.
Alhoewel daar spanning tussen die twee gemeentes is hieroor, word gesamentlike eredienste steeds gehou tydens vakansietye.
Dit was na afloop van een van hierdie gesamentlike eredienste waar Henk Gous hierdie praatjie gelewer het. Sedert hy brugleraar by Oosgemeente was het hy aanhoudend probeer om lidmate van Goedehoop probeer oortuig van sy siening.
In hierdie praatjie bespreek Henk agt dinge of stellings wat blykbaar uit “Koinonia se skriftelike verklaring” kom (22:12). Ek het hom persoonlik gekontak om te hoor watter verklaring van Koinonia Sinode hy bedoel. Ek het hom ook gevra om vir my sy uitdeelstuk te stuur waarna hy in sy praatjie verwys. Sonder om te veel detail te gee sal ek maar net sê dat hy dit nie vir my gestuur het nie. Ek kon wel die uitdeelstuk by iemand anders kry. Dit word in bylaag A aan die onderkant van hierdie dokument gegee.
My afleiding is dat Henk verwys het na die Koinonia Sinode Geloofsverklaring wat na afloop van die Koinonia Sinode 2023 uitgereik is.
Kommentaar
Die tema van die praatjie was “Feite oor kerkvrae”. Kom ons kyk na die “feite” wat voorgehou is en hoe feitlik dit werklik was.
5:25 Henk sê: “as alles wat die dolerende gemeentes sê oor die NG kerk die waarheid is dan het ek saam getreur. Genadiglik is daar ander feite en dit wil ek graag gee.”
Henk voel dus dat dolerendes onder ‘n wanindruk is.
7:30 Henk sê: “in die sinodesittings is dit die mees gerespekteerde die betroubare mense wat afgevaardig word … daarom moet ons nie ‘n besluit van die algemene sinode van die tafel afvee sonder om baie goed te luister nie. Ek weet die algemene sinode is slimmer as ek en my kerkraad. Daarom moet ek daarna kyk.”
Dit is ‘n baie brawe stelling om te maak. Ek het as jong man ‘n paar sinodes bygewoon en ek het nooit geweet vir wie ek stem nie. Dit is ‘n reuse leemte in die sisteem en hierdie leemte is algemeen bekend. Dit is slegs ‘n klein minderheid van mense by die sinodes wat naastenby ‘n ingeligte stem uitbring.
9:55 Henk sê daar was 56 gemeentes by die eerste Koinonia sinode teenwoordig. Hy skep die indruk dat die beswaardes ‘n baie klein persentasie van die kerk is.
Dit is egter nie waar nie. Hier is die ware feite:
- Daar is ongeveer 1000 NG gemeentes in Suid-Afrika en ongeveer 44 NG gemeentes in Namibië.
- Net in Suid-Afrika is daar ongeveer 90 gemeentes wat doleer het.
- Vier van hierdie 90 gemeentes het die verband met die NG Kerk opgeskort. Hulle het hulleself geheel en al onttrek van alle NG Kerk strukture.
- ‘n Verdere nege gemeentes het vir alle praktiese doeleindes geskeur en sien hulleself nie meer deel van die NG Kerk nie.
- Die hele Namibiese sinode (ongeveer 44 gemeentes) het weggebreek van die NG Kerk.
- Tydens die laaste Oostelike sinode en Vrystaat sinode was daar groot verdeeldheid oor die NG Kerk. Dit is egter so dat die meerderheid besluit om die status quo te handhaaf.
12:33 Henk vergelyk verskillende sieninge oor homoseksualiteit met verskillende sieninge oor die eskatologie (wegraping vs wederkoms).
Dit is egter ‘n vals vergelyking, want ‘n alternatiewe opinie oor eskatologie of selfs die doop is nie sonde nie. Behoudendes glo egter wel dat homoseks sonde is, en wanneer iets sonde is, moet dit ten alle koste vermy word. Dit is daarom nie ‘n randsaak nie en daar kan dus nie ruimte daarvoor geskep word in die kerk nie.
14:00 Henk sê dat die algemene sinode baie duidelik is dat die Bybel die Woord van God is. Volgens hom het die algemene sinode nog nooit gesê die Bybel is mense woorde nie.
Dit is doodeenvoudig nie waar nie. Die 2002-besluit oor Skrifgesag bevat die woorde:
- “menslike karakter van die Skrif”
- “gewone mensewoorde”
- “die Bybel as menslike boek”
- “menslike “foute” in die Bybel”
- “wetenskaplike ‘swakheid’”
- “geen aanspraak op historiese eksaktheid nie”
En dan kan ‘n mens nog verder sê: ongeag die presiese woorde wat in hierdie besluite staan, moet ‘n mens gaan kyk wat die implikasies van hierdie besluite was.
In 2006 het Ferdie Mulder vir prof Jurie le Roux, prof Julian Müller en prof Dirk Human aangekla omdat hulle nie aan Jesus se liggaamlike opstanding geglo het nie. Hulle is onskuldig bevind, nie omdat Ferdie ‘n gebrek aan bewyse gehad het nie, maar die ringsondersoekliggaam het besluit dat professore se siening nie in stryd was met die Algemene Sinode se besluite oor Skrifgesag in 1998, 2000 en 2002 nie. Kyk:
- Ring van Pretoria-Oos bevinding van ondersoekkommissie oor klag teen prof Julian Müller (2006)
- Ring van Pretoria-Oos bevinding van ondersoekkommissie oor klag teen prof Jurie Le Roux (2006)
Ek het vroeër hierdie jaar vir Henk Gous in ‘n persoonlike gesprek hiermee gekonfronteer. Sy antwoord was dat hy die tugproses vertrou en dat hy glo dat hierdie professore werklik onskuldig is. Hy het verder gesê dat Julian Müller gesê het dat hy die Twaalf artikels bely.
Daar is egter nie kwessies daaroor dat Julian Müller nie in Jesus se liggaamlike opstanding geglo het nie. Trouens, in 2008 verdedig hy panenteïsme in ‘n artikel en in 2010 beskryf hy homself as ’n postteïs. Dit is wat Ben du Toit homself ook genoem het nadat hy erken het dat hy nie meer in God glo nie.
Dit is ook belangrik om kennis te neem van die artikel “Ek bely steeds die belydenisskrifte” waar gewys word hoe sekere teoloë ‘n metaforiese benadering tot belydenisskrifte het.
Homoseksualiteit
14:55 Henk sê die sinode bely dat die enigste ding wat die naam huwelik mag dra is ‘n man-vrou verbintenis.
Dit is ‘n irrelevante argument. Dit gaan nie oor die titel of die naam nie, maar oor die teenwoordigheid van seks in die verhouding.
Dit is nou amper dieselfde as om te sê dat jy iets mag gaps of vaslê, solank jy dit nie steel nie.
15:10 Henk sê: “in alle gevalle word daar gesê losbandige seks, of dit heteroseksueel of homoseksueel is, is sonde.”
Waarom is losbandige seks sonde? Op grond waarvan? Die Bybel? Is hy seker dit is wat die Bybel bedoel? Is dit nie ook oop vir interpretasie nie?
En wat van bestialiteit en pedofilie? Kan ons dit veroordeel op grond van die Bybel? Kyk
17:50 Henk verwys na Romeine 14 en 1 Korintiërs 8 as voorbeelde waar ruimte gelaat is oor verskillende sieninge oor die eet van afgodsvleis en wil daarom redeneer dat daar ook vir SGV ruimte gelaat moet word. Volgens hom was die eet van afgodsvleis ‘n wesenlike verskil. Sy woorde: “Dis eintlik ‘n verskil oor die eerste gebod. Dis nie sommer net ‘n kleinigheidjie nie.”
‘n Mens moet toegee dat die eet van afgodsvleis ‘n moeilike kwessie moes gewees het in Nuwe Testamentiese tye, maar om dit ‘n verskil oor die eerste gebod te noem is heeltemal oordrewe. Dit is anders as homoseksualiteit vandag oor die volgende rede:
Jesus het baie dinge kom verander. Die besnydenis en die onderhouding van die Sabbat is twee voorbeelde. Ons weet dit het verander omdat Jesus dit self kom wys het. Die besluit oor die eet van afgodsvleis is geneem in ‘n tyd waarin die dissipels, wat baie tyd saam met Jesus gespandeer het, nog geleef het. Hulle was in ‘n baie beter posisie as ons om te weet hoe Jesus gedink het. Dit is totaal ‘n ander storie om 2000 jaar na Jesus se lewe op aarde te besluit dat daar nou ruimte geskep moet word vir die sonde van homoseks terwyl dit die kerk se siening vir die afgelope 2000 jaar was. Dit is mos baie duidelik dat die standpunt oor homoseksualiteit uitsluitlik beïnvloed word deur die kultuur van die dag – nie die Bybel nie.
22:44 Henk sê dat Koinonia beweer dat die SGV besluit op alle gemeentes afgedwing word.
Ek weet dat sommige behoudendes al gepraat het van besluite wat die AS op gemeentes afdwing. Daarmee stem ek ook nie saam nie. Ek sal egter wil sien waar Koinonia Sinode dit amptelik gesê het. In die enigste verklaring van Koinonia Sinode wat ek kon vind, word gesê:
11.5 … Ons beskou dus die Algemene Sinode se besluite wat ruimte maak vir seksuele intimiteit buite die huwelik
23:10 Henk sê dat Koinonia die algemene sinode beskuldig daarvan dat hulle ontken dat die huwelik slegs tussen ‘n man en vrou is.
Weereens sal ek wil sien waar Koinonia dit amptelik sê.
Verder, soos ek reeds gesê het, is dit totaal irrelevant om ‘n kwessie hiervan te maak. Punt 10 van die 2019-besluit lei soos volg:
10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.
Om te wil probeer onderskei tussen ‘n huwelik en ‘n burgerlike verbintenis is bloot om ‘n punt te maak. Vir alle praktiese doeleindes is dit irrelevant om hierdie onderskeiding te maak. Die punt is dat die algemene sinode amptelik seks tussen mense van dieselfde geslag toelaat. Dit is waarop dit op die ou einde neerkom.
En terloops, in 2011 het die AS ook besluit dat buitehuwelikse seks toelaatbaar is. Kyk 2011 NGK saamwoonbesluit.
Skrifbeskouing
24:28 Henk sê dit is ontstellend dat Koinonia sinode die algemene sinode daarvan beskuldig dat hulle nie Skrifgetrou is nie.
Dit is bloot omdat dit die waarheid is. ’n Algemene stelling wat gemaak word in die NG Kerk is: “Ons neem die Skrif baie ernstig op, maar ons het soms verskillende interpretasies.”
As die Skrif egter so wyd geïnterpreteer word soos wat tans gebeur, wonder ‘n mens of die Bybel nog enigsins nuttig is om sieninge te bepaal. Kyk:
En dan gaan dit verder nie net oor die amptelike besluite wat geneem word nie, maar ook watter sieninge in die NG Kerk toegelaat word sonder dat daar tug toegepas word. Meer hieroor later.
26:00 Volgens Henk is daar geen gronde wat op die tafel gesit kan word waar gesê kan word dat die besluite van die algemene sinode nie Bybels is nie.
Ek kan lesers maar bloot na die volgende verwys:
Besluit maar self…
Teologiese opleiding
26:25 Volgens Henk is daar niks fout by die teologiese fakulteite nie.
Dit is ook ver van die waarheid af. Lesers moet maar self gaan lees by:
Kyk veral na die getuienisse van teologiese studente self.
28:27 Volgens Henk: “As daar ‘n dosent ‘n dwaalleer verkondig dan’s daar ‘n baie helder pad: Maak ‘n klagte teen hierdie dominee …Daar’s nog in die vorige 20 jaar nie een dosent aangekla nie. Dus wat op die oomblik gebeur is, daar word net gesê 30 NG dosente is dwaalleraars, sonder enige feit.”
Twee opmerkings hieroor:
Eerstens: In ons persoonlike gesprek vroeër hierdie jaar het hy dieselfde gesê: jy kan nie net sê dat daar dwaalleer in die teologiese fakulteite is sonder om name te noem nie, want dan sê jy almal in die fakulteit is skuldig. My antwoord aan hom was dat ek nie ‘n probleem met so ‘n beskuldiging het nie, want hoekom kla dosente nie self dwaalleraars in hulle midde aan nie? Met ander woorde: waar is die behoudende dosente en hoekom het hulle nog niks gedoen nie?
Tweedens, hy sê daar was nie een dosent aangekla nie. Dit is weereens blatant onwaar en ons het hierdie presiese gesprek gehad in ons persoonlike gesprek vroeër die jaar. Daar is al etlike klagtes gemaak, maar dit was onsuksesvol, nie omdat die persoon onskuldig was nie, maar omdat die ondersoekliggame hulle maatjies beskerm. Ek het reeds genoem van Ferdie Mulder vs Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human. Kyk ook:
- Lys van leerdwaling aanklagtes
- Kan ek ondersoeke ná dié uitsprake vertrou? (Theodorus Klein, 15 Aug 2025)
29:00 Henk verwys na Peter Nagel en sê dat die kuratorium hom self aangekla het.
Dit is nie waar nie. Dit was Chris van Wyk wat hom aangekla het. As Chris van Wyk hom nie aangekla het nie, sou niks gebeur het nie. Peter Nagel was so duidelik skuldig dat die kuratorium nie anders kon as om hom te skors nie. Nagel was waarskynlik die slagoffer van swak tydsberekening: Hy is aangekla in ‘n tyd toe daar druk op teologiese fakulteite was oor dwaalleer. Na ‘n jaar is hy egter herstel in sy posisie omdat hy kwansuis weer sy legitimasie-eed bevestig het. Tydens my persoonlik gesprek met Henk Gous het hy gesê dat Nagel sy standpunt verander het. Daar is geen manier dat ek dit glo nie. Vir meer inligting, kyk:
29:50 Henk vertel dat iemand gekla het oor die boeke wat aan teologiese studente voorgeskryf word. Dan vertel hy dat hy met een telefoonoproep met die dosent gepraat het en moes hoor dat die boek aan vierdejaarstudente voorskryf word om hulle toe te rus vir die wêreld daar buite.
Ek glo dit nie vir een oomblik nie. Ek het ook al met teologiese studente gesels wat gewys het watter boeke hulle moet lees, nie om hulle voor te berei vir die wêreld daar buite nie, maar om hulle van sekere standpunte te oortuig. En verder, as die teologiese fakulteite werklik begaan was daaroor om apologete van die studente te maak vir die Christelike geloof, hoekom word geen apologetiek by enige van die teologiese fakulteite gedoseer nie?
Maagdelike verwekking, opstanding en Jesus se godheid
32:55 Henk sê behoudendes beskuldig die NG Kerk valslik dat die maagdelike verwekking, opstanding en godheid van Jesus ontken word. Hy sê: “Daar is nog nooit deur enige kerkraad, selfs wat nog gesê sinode, so iets gesê nie.”
Ja, geen kerkraad of sinode het dit amptelik besluit nie, maar Koinonia het ook nie daardie aantyging gemaak nie. Daar word egter niks gedoen aan leiers in die NG Kerk wat hierdie dinge ontken nie. Kyk byvoorbeeld:
- Die NG Kerk en Jesus se maagdelike verwekking
- Die NG Kerk en Jesus se opstanding
- Lys van teoloë wat liberale uitsprake gemaak het
Ek herinner net weer aan Peter Nagel wat hierbo genoem word.
Bestaan van die duiwel
33:09 Henk sê dat behoudendes valslik die NG Kerk daarvan beskuldig dat die Satan ontken word. Die indruk wat hy skep is dat die duiwelbesluit hoofsaaklik oor duiweluitdrywing gaan.
Weereens is dit nie waar nie. Dit is so dat daar aanvanklik ‘n besluit oor duiweluitdrywing sou wees, maar op die ou einde is die beskrywingspunt só verander dat daar op die ou einde ruimte gemaak is om nie aan die duiwel te glo nie. Kyk die volgende vir ‘n goeie oorsig oor die 2011-besluit:
‘n Mens kan in redenasies gaan oor presies wat die bewoording van die besluite beteken, maar die resultaat van hierdie besluite was dat onder andere Ben du Toit deur hierdie besluit beskerm is toe Wynand Louw hom aangekla het omdat hy nie in die duiwel glo nie. Kyk
Dolerendes tree nie in gesprek nie
35:48 Henk kritisieer die metode van dolering en beskuldig dolerendes dat hulle nie in gesprek tree nie en dat hulle bloot beskuldigings in die openbaar maak.
Vir baie jare is die amptelike roetes wel gevolg met gesprekke, debatte in sosiale media, ope briewe, boeke, beswaarskrifte en selfs dwaalleeraanklagtes. Kyk:
Die amptelike roetes het egter uitgeput geraak. Dolering was die volgende stap.
En ‘n ander punt: wanneer iemand iets in die openbaar sê dan moet daar ook ‘n openbare reaksie daarop wees, ter wille van almal wat die eerste openbare stelling gehoor het.
LGBTQIA+
38:18 Henk sê dat die kerk nog nooit oor LGBTQIA+ gepraat of besluit het nie, maar slegs oor LG (lesbies en gay).
Let egter daarop dat die 2019-besluit die volgende insluit:
6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.
Hierdie stelling sluit baie beslis al die ander alfabetletters in.
LGBTQIA+ staan vir Lesbies, Gay, Biseksueel, Transseksueel/transgender, “Queer”(vreemd) of Questioning (soekend), Interseks, Aseksueel, ensovoorts (+).
Dit is daarom dat iemand soos Ashwin Thyssen, wat openlik as “queer” identifiseer, so tuis kan voel in die teologiese fakulteit by Stellenbosch. Kyk ook Charlene van der Walt.
Dit is ook daarom dat die teologiese fakulteit van Stellenbosch die vrymoedigheid gehad het om die konferensie “Queering the prophet” te hou waar die profete van die Bybel deur ’n queer lens beskou is. Kyk
Homoseksualiteit en die wetenskap
39:20 – 41:00 Henk sê, wanneer ‘n gay persoon kom vir hulp, moet beide die Bybel en die wetenskap gebruik word. Hy erken dat die wetenskap nie ‘n gay geen kon vind nie.
Die implikasie daarvan dat daar nie ‘n gay geen is nie, is dat jy nie noodwendig gay gebore word nie en dat hulp moontlik is (kyk Word jy gay gebore?).
Henk sê: “Daar’s nie ‘n gay geen nie. … Dus, ons weet nie waar dit vandaan kom nie maar dis soos kanker. Ons weet nie waar dit vandaan kom nie, maar kanker moet behandel word.”
As jy ‘n kankerpasiënt behandel dan probeer jy die kanker te verwyder. En as jy iemand wat homoseksueel is behandel dan probeer jy dat die persoon kan funksioneer in ‘n normale heteroseksuele verhouding.
Dit sou vir Henk ‘n gulde geleentheid gewees het om te noem van al die getuienisse van voorheen homoseksuele mense wat vrygekom het van die leefstyl, maar daaroor sê hy niks nie. ‘n Mens wonder hoekom nie.
Later (47:24) sê Henk: “Die medies, die algemene openbaring, sê gay wees is nie ‘n afskuwelike sonde nie.”
Die mediese wetenskap kan streng gesproke nie gebruik word om te besluit oor sonde nie, maar die mediese wetenskap is dit eens dat die anus nie gemaak is vir seks nie en dat dit ernstige risiko’s inhou. Hoekom sê hy dit nie? Het die mediese wetenskap dan nie juis bewys dat homoseksualiteit iets onnatuurlik is nie?
Homoseksualiteit en die Bybel
41:00 Henk probeer homoseksualiteit te verdedig deur te probeer wys dat homoseksualiteit net soos ander kwessies in die Bybel is waarvoor ons wel ruimte toelaat (dra van hoede en egbreek).
Die dra van hoede
Ek verstom my net altyd dat mense die dra van hoede enigsins kan vergelyk met homoseksualiteit. Is dit nie net totaal voor die handliggend dat die twee kwessie nie met mekaar vergelyk kan word nie? Hoe dit ookal sy, kyk gerus Vrouens en hoede, waarin ek iets daaroor sê. In 1 Korintiërs 11:13 sê Paulus:
“Oordeel julle nou maar self: is dit betaamlik vir ’n vrou om sonder iets op haar kop in die erediens tot God te bid?”
Is dit nie duidelik dat die dra van hoede nie ‘n opdrag van God is nie?
Egskeiding
Homoseksualiteit is ook op ‘n totaal ander vlak as egskeiding.
In die Ou Testament word homoseksualiteit beskryf as:
- Levitikus 18: (22)…Dit is ’n afstootlike sonde.
- Levitikus 20: (13)… ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.
In die Ou Testament word egskeiding egter toegelaat. Mens is selfs verstom hoe maklik dit was om te skei en dit blyk om nie eers ‘n sonde te wees nie:
Deuteronomium 24: (1)“Wanneer ‘n man met ‘n vrou trou, kan dit gebeur dat hy haar nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het. Dan mag hy ‘n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur. (2)Sy kan dan uit sy huis uit gaan en met ‘n ander man trou. (3)As haar tweede man haar ook later nie meer liefhet nie en ‘n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur, of as haar tweede man sterf, (4)mag haar eerste man wat haar weggestuur het, nie weer met haar trou nie.
Ons weet dat Jesus ‘n baie strenger siening oor egskeiding toon in Matteus 19 en Markus 10, maar dit is baie duidelik dat jy nie homoseksualiteit kan vergelyk met egskeiding nie.
44:33 Volgens Henk verwys Romeine 1 na perverse homoseks en heteroseksuele mense wat homoseks beoefen. Dit verwys nie na liefdevolle homoseksuele verhoudings nie.
Adrio König en Immanuel Van Tonder het dieselfde opinie oor homoseksualiteit gehuldig. Die probleme met die argument vir liefdevolle homoseksuele verhoudings is:
- Wanneer die Bybel van homoseks praat, dan word dit altyd veroordeel as ‘n afskuwelike daad.
- Daar is geen aanduiding in die Bybel dat homoseks binne sekere scenarios toegelaat word nie.
- Paulus het geglo dat dit sonde was.
- Die latere kerkvaders het geglo dat dit sonde was, en
- Die kerk dit vir die afgelope 2000 jaar geglo.
Kyk ‘Bybel sê niks oor gay wees’ (9 Julie 2015) met die kommentaar onderaan.
Ten slotte
Henk Gous se praatjie was uiters teleurstellend.
Hy toon hoegenaamd geen begrip vir die besware van dolerendes nie.
Sy praatjie is vol strooipopargumente, halwe waarhede en soms net blatante leuens oor die standpunte van Koinonia Sinode.
En dan het hy die vermetelheid om te pleit dat ons mekaar se verskille op die agtergrond sal plaas sodat ons saam kan werk aan die belangriker dinge.
Jammer, maar met so ‘n benadering sal daar geen vordering gemaak word nie.
Bylaag A: Uitdeelstuk
Die volgende teks is uitgedeel na afloop van Henk Gous se praatjie op Sondag 5 Oktober 2025.
Hier staan ons.., NG Secunda-Oos
Martin Luther het met integriteit gesê: ‘Hier staan ek, ek kan nie anders nie.’ Soos hy, het ons ons geloofstandpunt deurdink en bely dit nou.
- Ons glo in God Drie-enig, ons bely die Bybel as Woord van God, ons dien slegs God as Hoof van die kerk, en wil sy liefde uitleef in diens. Kortliks WWW: Woord, Waardes, Warmte
- Ons fokus op die grootste nood tans, bv. ongeloof, kerklosheid, versoening, armoede, uitbou van sy koninkryk, eenheid as kerk, en wil nie dat konflik ons aandag aftrek van die ‘olifante’ nie.
- Ons roeping in Secunda vra dat ons voluit saamwerk met ander kerke, veral elke NG gemeente, en in besonder Goedehoop.
- Ons staan by die Belydenisskrifte maar is oop vir Bybelse vernuwing volgens die gereformeerde beginsel ‘gereformeerd maar moet ook steeds reformeer / reformata sed semper reformandum’.
- Ons bly verbonde aan die Kerkorde as beproefde metode waartoe ons deur belofte ons verbind het.
- Ons bly verbonde aan die NG kerkverband in ring, sinode en algemene sinode om ons roeping beter gesamentlik te bereik en omdat geen kerkordelike getoetsde bewyse gegee is dat hierdie verbande afwyk van Woord en belydenis nie en skeuring nodig is nie.
- Ons bly verbonde aan die kerkordelike tugproses wat primêr by Kerkrade en ringe berus, net sekonder by sinodes, en vra dat alle gerugte en bewerings amptelik vir hantering aangemeld word.
- Ons bly verbonde aan respek vir medegelowiges, vir getoetsde waarheid en vir direkte kommunikasie wanneer ons verskil, en vermy verdagmakery.
Rondom dolering…
Dolering beteken ‘huil’. Dit wys ontsteltenis en hartseer oor moontlike dwalings. Hierdie stuk fokus op FEITE versamel oor areas waaroor ontsteld. Die vraag is: wil Here hê ons moet ontsteltenis hanteer deur dolering of deur ander metode? Wat is die feite oor die sake waaroor ontsteld?
FEITE
1 WIE IS ALG.SINODE?
400 Leraars en kerkraad gekies deur 10 sinodes omdat hul die mees wyse en betroubare denkers is; geen magsgroepe moontlik. Kritici van AlgSin was telkens selde al afgevaardigdes. Meerdere vergadering het meerdere wysheid, nie hoër gesag. Veiliger as een dominee en een kerkraad. Dus moet ons AS se standpunte ernstig oorweeg, nie maklik van die tafel afvee: meer inligting, meer wysheid as plaaslik.
2 SITUASIE TANS ivm GAY: 2 pole in NGkerk:
- Pool 1: Gay is sonde, moet bely, verander, beveg word Standpunt van dolerendes (56 gemeentes (6.5% v NG, en Koinonia ‘Sinode’)
- Pool 2: Gay is natuurlik, LGBTIQA+ is godgegewe verskeidenheid. Groep se grootte is onseker, maar 70 individue bring aanklag by MRK teen Chris v Wyk. Kan dalk genoem word: Reënboog groep/’sinode’
- Tussenin: hoofstroom NG: gay is gebrokenheid, ‘n realiteit wat ons moet hanteer sodat ten goede meewerk Rom.8:28.
Gevolg: gevegte waar pole mekaar afkraak en NG as geheel beskadig (ander kerke hoor by mense wat NG kerk verlaat het “gatvol” vir konflik, ring word disfunksioneel).
Pool 1 sê andersdenkendes is Bybellos, hul skryf in koerante, organiseer in Koinonia.
Pool 2 sê andersdenkendes is liefdeloos end gebruik hofsake.
3 AlgSin standpunte FEITE (VS HOORSÊ):
Steeds selfde Skrifbeskouing as 2002 & 2004: Bybel is God se Woord. Erken daar is verskillende Bybeluitleg op SGV gebied, maar aanvaar geen ander Skrifbeskouing oor Skrifgesag as Skrif-is-woord-van-God nie.
- Mens as man en vrou geskape,
- Huwelik slegs 1 man 1 vrou lewenslank.
- Losbandige seks, gay of hetero = sonde.
- Verantwoordelike kerkvergaderings mag selfstandig saak hanteer in diepteondersoek. Maar dis nie besluiteloosheid.
4 AlgSin BESLUITE oor SGV
- Besluite van 2015 (meer gayvriendelik) en 2016 (meer tradisioneel) is albei in 2019 & 2023 herroep (op grond van regsredes: gaynatuurlike pool kry hofbevel dat 2016 besluit ongeldig is, ASin besef dat 2015 besluit ook kerkordelike foute het en weer deur ander pool ongeldig verklaar sou word).
- 2019 & 2023 Alg Sin kies die Rom14 & 1Kor8-pad met ‘n besluit om nie een vd 2 pole te kies nie omdat besef daar is sterk groepe gelowiges (albei se integriteit word nie betwyfel) aan albei kante wat onwrikbaar glo dus vasgelooptheid. Hulle vra dus alle kerkvergaderings vir selfstandige diepte studie en nadenke, hul mag verskil maar vereis dieptestudie, en veral luister na almal, nie slegs eendersdenkendes.
- Mag daar 2 standpunte in 1 kerk wees? Ja, Rom 14 1 Kor 8 laat dit toe selfs oor groot sake soos of afgode bestaan, want meer bind ons saam as verdeel.
5 Wie is KOINONIA? Wat sê Koinonia oor AlgSin/NGK? Wat is die gronde/bewyse daarvoor?
Daar is nie studiestukke beskikbaar waar getoetsde genoegsame gronde vir hierdie 8 aanklagte gegee word nie. Sekere individue in die NG kerk het dalk sulke standpunte maar nie die AlgSin amptelik nie.
KLAGTES VAN KOINONIA OOR ALG.SINODE
“Verskeie ernstige dwalinge wat in die NG Kerk geduld en bevorder word onder die dekmantel van diversiteit (die filosofie van ‘n “ruim huis”)”, nl.
- Selfdegeslagverhoudinge: AS is slegs goedkeurend.
FEIT: ASin kies juis nie een vd 2 pole nie, in die styl van 1 Kor 8 en Rom 14.
- Ontken christelike huwelik as man en vrou alleen.
FEIT: Herhaaldelik sê ASin dat slegs 1man-1vrou lewenslank mag die naam huwelik dra. Burgerlike verbintenisse is in ‘n ander kategorie en tans ook wetgewing. Besluit oor formulier vir selfdegeslag verbintenisse, is herroep.
- Gesag van die Bybel ondermyn, ‘n afwykende Skrifbeskouing dat dit slegs mensewoorde is.
FEIT: die 2002 en 2004 besluite (volledige studiestukke is beskikbaar) geld steeds nl. Bybel God se Woord. Dis geinspireerd en volgens organiese inspirasie deur mense geskryf as God se woord in mensetaal.
- Horisontalisme waar die mens al meer in die middelpunt staan van kerklike dienswerk, eredienste, evangelisasie, barmhartigheid en kerklike besluite.
FEIT: geen lys van sodanige besluite bestaan nie
- Postmodernistiese denke, ideologiese en ook horisontalistiese mode-aksente soos eensydige rasse en gendergeregtigheid.
FEIT: geen lys van sodanige besluite bestaan nie.
- Dwaallering by die teologiese fakulteite en opleiding
FEIT: NG kerk se leraars studeer by UP, UV en US by fakulteite waar die universiteit kontrakte het met verskeie protestantse kerke (bv NHerv, VGK, Presbiteriaans, Anglikaans, ens) en dosente wat lidmate van hierdie kerke is moet aanstel. Hierdie dosente staan onder toesig van hul kerk. NG dosente is onder toesig van 3 Kuratoriums en elke dosent onder toesig van die ring waar hul lidmaat is. Geen NG dosent is in afgelope dekade deur enige beswaarde lidmaat aangekla nie, en sonder ‘n formele skuldigbevinding, is dwaallering tans slegs bewerings. Dosente word as groep beskuldig van dwaalleing. Die klagtes is dikwels gegrond op studente se bewerings wat dan aanvaar word as die volledige waarheid sonder ondersoek of selfs sonder blote navraag by daardie dosent.
- Ontkenning van Jesus se maagdelike geboorte, sy liggaamlike opstanding, godheid van Jesus
FEIT: Geen enkele kerkvergadering het nog ooit so besluit nie. Dosente bely elkeen die 12 Artikels volledig.
- Ontkenning van die bestaan van Satan as persoonlike wese
FEIT: tydens ‘n bespreking van uitdrywing van demone (waarin demone as persone aangespreek word) in 2009 het die ASin gesê: dat daar in die kerk 2 denkwyses oor die Bose bestaan, persoonlik of nie- persoonlik, maar dat albei die realiteit van die bose ten volle erken. Die krag van die bose word erken.
6 DOLERING
Dis ‘n metode met kritieke leemtes (bv. dit versie nie dat ‘sondige’ party kans moet kry om volgens algemene geldige billikheidsbeginsels aangehoor te word voor ‘n kerkaad ‘n doleringsbesluit neem nie). Dit bestaan nêrens in enige kerk se kerkorde. NGKerkorde gee vele veilige metodes om dwalings en ontsteltenis aan te spreek.
7 GAY?
- Reënboog verskeidenheid LGBTI+ is verwarrend. Bv LG (lesbies of gay) is aantrekking/verhouding, BTIQ+ (bisexual, transgender, intersex, queer) verwys na gender/identiteit, wanneer iemand ontuis in hull geslagliggaam en dan mixgender toilette vra.
- AlgSin besluite slegs oor lesbies en gay, die 4% kernhomoseksueles (nie die weird gay parade, drag queens nie, ook nie verfynde mans, butch vrouens nie, want gay mense het uiterlik soms geen andersheid).
- Beskrywing van kerngays: iemand wat vroeg in lewe agterkom ek is anders nl. ek het totale onvermoë tot enige aantrekking tot teenoorgestelde geslag.
- Berading: stoei jarelank met onvermoë, bid, selfverwyt, want gaywees is pynlik. Soms begin uitleef/ klim uit kas, soms steeds geheim. Dan soek berading. Hoe help jy?
- Christenhelper se 1e vraag: wat sê God?
- Nou Bybelse en mediese soektog (LW Ons belydenisskrifte NGB2 erken dat die algemene openbaring ook ‘n bron is waarin ons God se wil kan vind, en die Bybel is beslis geen mediese handboek nie):
- 6 tekse wat verwys na SelfdeGeslag-gedrag almal uiters negatief. Letterlik lees sê eenvoudig: gaywees is sonde, afskuwelik. Maar Bybeluitleg nie letterlees nie maar bedoeling soek. Dus 3 stap metode van eksegese (wat staan daar presies taalkundig, dan bedoeling vir daardie tyd, dan bedoeling vir ons tyd) en geheelboodskap.
- OT tekse is duidelik tydsgefokus (soos bv om ‘n ongehoorsame seun met klippe dood te gooi).
- NT: Voorbeeldteks Rom 1: is dit omvattende oordeel oor alle gay verskynsels? Goeie eksegese sien egter dit beskryf en veroordeel losbandige gedrag van heteroseksuele mans en vrouens wat wilskeuse maak vir gayseks as nog ‘n soort buitehuwelikse seks.
- Dus is daar geen beskrywing in Bybel van die sielkundige verskynsel van hetero-onvermoë nie (nes ook nie kanker of outisme of epilepsie of Alzheimer nie want Bybel nie ‘n mediese of sielkundige handboek nie).
- Gevolgtrekking ogv besondere openbaring (Bybel) en agv algemene openbaring (mediese wetenskap). gaywees is onvermoë agv gebrokenheid in skepping. Nie 1) sondige wilskeuse nie, ook nie 2) wonderlike alternatief nie want man-vrou-ontwerp wys heteroseksueel is die bedoeling.
- Hantering: met ingeligde begrip en Bvbelse deernis.
- Egskeiding: foute en onvermoë om dit reg te stel bestem geskeidene nie vir lewenslange eensaamheid nie, dus: hertrou as noodbeste.
- Vasgelegde gay onvermoë bestem iemand nie tot lewenslange eensaamheid, dus: getroue lewenslange verhouding/burgerlike verbintenis as noodbeste. Maar liggaamsliefde?! So grillerig soos homoaanraking vir heteroman/vrou, net so grillerig is hetero-aanraking vir gay persoon.
Met al hierdie eierdanse moet mens vra wat Christene nog in die NGK doen. Sommige gemeentes doleer tenminste. En hulle oorweeg ook ontrekking van die NG Kerk. Ek is egter verbaas dat dit nie meer gemeentes is nie. Net 90 lyk vir my min. Ek se so, want na my ondervinding is aktiewe lidmate van kerke gemiddeld en gewoonlik meer behoudend as die teologiedosente. Die gewone NG lid glo nog steeds dit wat hulle 50 jaar terug sou geglo het ook word dit dalk afgewater. Daar is natuurlik ‘n faksie wat by hierdie woke christenskap op ‘n manier ingekoop het, maar hulle lyk vir my na ‘n minderheid. Blankes wat ook by die woke agenda ingekoop het is gewoonlik nie aan ‘n kerk verbonde en sal ook redelik openlik se dat hulle nie Christene is nie.
Wat die ander gereformeerdes betref, so is daar wel ook veranderings bespeurbaar. Die Hervormers kort blykbaar nuwe predikante, om maar net ‘n voorbeeld te gee. En ek sien ook by die AGS het deelname afgeneem. Dis dus nie net die ledegetalle wat afneem, bestaande lede se betrokkenheid neem ook af.