Langsdienende rubriekskrywer van ‘Die Burger’ oorlede (Wilhelm Jordaan)

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Langsdienende rubriekskrywer van ‘Die Burger’ oorlede | Netwerk24

24 Augustus 2025

Die Burger se langsdienende rubriekskrywer van “Van alle kante”, prof. Wilhelm Jordaan, is Saterdagnag in die ouderdom van 82 oorlede ná ’n ernstige beroerte op Maandag 23 Junie. Hy is sedertdien in Mediclinic Capegate en Spescare in die Paarl versorg.

Jordaan was ’n geliefde en gerespekteerde figuur in die akademiese, literêre en joernalistieke gemeenskappe.

Gebore in 1943 in Kimberley, het Jordaan sy skoolopleiding aan Oranjeville en daarna aan Grey Kollege in Bloemfontein voltooi. Hy het met ’n beurs van Nasionale Pers ’n BA-graad aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat behaal.

Hy begin sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad, waar hy later die Klerksdorpse redaksiekantoor vir hierdie koerant stig en word ’n akademikus nadat hy ’n BA Honneurs-graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en in 1971 ’n MA-graad in Sielkunde by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) voltooi. Hy beklee posisies as lektor, professor en departementshoof van sielkunde aan Unisa.

In die 1977 word hy besoekende professor in sielkunde aan die Johannes-Wilhelms Universität te Münster in Duitsland. Vanaf 1995 dien hy as visedekaan by die fakulteit lettere en wysbegeerte aan Unisa, ’n posisie waarin hy aan die einde van 1999 aftree.

Vanaf 2000 is hy betrokke by die meesters- en doktorale programme in leierskap, prestasie en verandering en ander nagraadse programme in die departement van bedryfsielkunde aan die Universiteit van Johannesburg. Die Universiteit van Pretoria stel hom in 2003 aan as buitengewone professor in sielkunde.

Hy was outeur of mede-outeur van 15 vakwetenskaplike boeke en 30 artikels in die veld van die sielkunde en was redakteur van twee nasionale sielkundejoernale. Saam met sy wyle eggenote, prof. Jackie Jordaan (in 2020 oorlede), skryf hy die sielkundehandboek Mens in konteks en die handboek Algemene Sielkunde (laasgenoemde ook saam met J.M. Nieuwoudt), wat beide ook in Engelstalige uitgawes verskyn.

Hy het gedien in die Vaktaalburo se redakteurskomitee, asook die Raad van die Sielkunde-instituut van Suid-Afrika en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

In 2021 is hy vereer met die Stalsprys vir sielkunde vir ’n buitengewone bydrae tot wetenskapsbeoefening.

Digter en skrywer

Buite die akademiese wêreld was Jordaan ’n gerekende digter en skrywer.

As rubriekskrywer vanaf Junie 1987 onder die titels “Van alle kante”, “Van mens tot mens” en “Kopstukke” in onder andere Beeld, Die Burger en Volksblad word hy wyd gelees. Sy rubrieke word gebundel in Van mense gepraat en later verskyn Spitstyd , ’n verdere keur uit sy rubrieke.

Hy publiseer gedigte in Tydskrif vir Letterkunde en maak sy digdebuut met die bundel Digterby . Sy gedig “T-hempies maak my week” word opgeneem in Gerrit Komrij se bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte , terwyl “Huisaltaar” opgeneem word in Digters en digkuns .

In Digterby lui die gedig “Hei Mister!”: As ek eendag in die hemel kom / sal God die Vader / nie omgee nie / as ek my pa eerste groet / soos altyd / met ’n Hei Mister! / want God weet / ek het ook na hom verlang: / Pa se boet.

Hy laat sy lewensmaat, die skrywer Betsie van Niekerk, en vier kinders, Francois Oosthuizen, Corinne Oosthuizen (gebore uit ’n vorige huwelik van Jackie Jordaan), Willem Jordaan, Margarethé Booysen en agt kleinkinders agter.

’n Huldigingsdiens word Donderdag om 10:00 in die Strooidakkerk in die Paarl gehou.

Lees hier van Jordaan se rubrieke.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui