Kyk ook:
- Nuwe ring wil ‘teenvoeter’ binne NG Kerk skep (26 Jul 2025, Kerkbode)
- Vrystaatse sinode kies eenheid (4 Okt 2024)
- Kerkeenheid
- Dit help nie om algemene sinode te ontbind (Daniel Louw, 18 Mei 2022)
- Die Rivier Staan: ’n Profetiese Ondersoek na die Teologies-Kategoriale Ring (Johannes de Villiers, 2 Aug 2025)
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Teologies-kategoriale ring in die Vrystaat bied ruimte vir behoudendes | Netwerk24
Marita Herselman
31 Julie 2025
Met die stigting van die NG Kerk Vrystaat se eerste teologies-kategoriale ring, het behoudende gemeentes in die streek nou die ruimte om saam met eendersdenkende gemeentes te groepeer.
Die vestiging van dié ring, wat nie soos gebruiklik op grond van geografiese ligging saamgestel is nie, maar gemeentes met dieselfde teologiese oortuigings verbind, kan as ’n welwillende weg in die Vrystaatse sinode beskou word.
Die NG kerk Harrismith, die NG kerk Kroonstad en die NG kerk Parys-Suid het dié ring weens die teologiese verskille onder gemeentes in die Vrystaatse sinode gestig nadat die sinode die opsie daargestel het.
Dit heet die “Teologies-Kategoriale Ring van die Vrystaat” en is op 13 Junie amptelik by die Harrismith Gemeente in die teenwoordigheid van verteenwoordigers van die Vrystaatse moderamen gestig.
Die Harrismith Gemeente was voorheen verbonde aan die ring van Harrismith, terwyl die NG kerk Kroonstad by Valsrivier se ring en die NG kerk Parys-Suid by Vaalrivier se ring ingeskakel het.
Die inskakeling van gemeentes by die nuwe ring is wel onderhewig aan die goedkeuring van die Vrystaatse moderamen nadat ’n aantal prosesse gevolg is.
Die teologies-kategoriale ring sê in ’n skrywe oor sy stigting hy is steeds deel van die NG Kerk, maar stem nie saam met die huidige besluite van die Vrystaatse sinode en die algemene sinode (AS) nie.
Dié ring stem nie saam met die besluite oor onder meer Skrifbeskouing, gereformeerde belydenis, teologiese opleiding, kerkverband, die huwelik en seksualiteit, selfdegeslagverbintenisse, en kategesemateriaal nie.
Ds. Ulrich Ohlhoff, voorsitter van die ring en leraar van die NG kerk Harrismith, het aan Netwerk24 gesê hulle is die Vrystaatse sinode baie dankbaar vir die opsie wat hulle gebied is.
“Ons het gekies om in dié stadium te sê ons bly nog deel van die NG Kerk en ons is dankbaar vir die ruimte wat die Vrystaat vir ons skep om te kan disassosieer met die besluite en beleid van die algemene sinode.”
Die daarstelling van die ring los verskeie kwessies op.
Hy sê dit skep probleme wanneer gemeentes in dieselfde ring met mekaar verskil oor die gesag van die Bybel en hoe dit geïnterpreteer moet word. Dít veroorsaak wrywing,
“Noudat jy saam met gemeentes gegroepeer word wat dieselfde as jy dink, los dit al daai probleme op.
“Ons werk nou saam met gemeentes en leraars wat dieselfde dink oor die Bybel, die Bybel dieselfde lees en die Bybel dieselfde interpreteer.”
Ontevredenheid nie net oor gay-verhoudings
Ohlhoff sê daar word dikwels gefokus op die behoudende gemeentes se standpunt oor gay-verhoudings en dat hul teenkanting daarvan die grootste geskilpunt tussen hulle, die Vrystaatse sinode en die algemene sinode is. Hy sê dit is nie die geval nie.
Behoudendes se ontevredenheid handel oor verskeie sake, met die primêre kwessie die verskil tussen hul standpunt oor hoe die Bybel gelees word teenoor dié van die Vrystaatse sinode en die AS, sê Ohlhoff.
“Ons probleem is die rigting waarin die breë NG Kerk die laaste klomp dekades beweeg het – om weg te beweeg van die gesag van die Skrif, en die Bybel op so ’n wyse te interpreteer dat dit by ons moderne tyd inpas in plaas daarvan dat die Bybel die rigtingaanduider is van hoe ons vandag ons lewe inrig.”
Die werksdokument vir die ring, wat nog nie ’n finale dokument is nie en insette van toekomstige gemeentes sal bykry, sê die ring “moet ’n teenvoeter wees vir die liberale verstaan van die Skrif, waar waarheid subjektief verstaan word eerder as objektief”.
“Die ring word nie geposisioneer om teenoor of in vyandskap met die NG Kerk te staan nie. Dit is nie ons doel om skeuring in die kerkverband te veroorsaak nie, maar om ’n ruimte te skep vir ’n bepaalde teologie om in vryheid uitgeleef te word,” luidens die dokument.
Luidens die werkdokument maak die teologiese kategoriale ring dit moontlik “om steeds ’n behoudende gereformeerde getuienis na die wêreld uit te leef waar ons mekaar kan ondersteun, sonder om uitgelewer te wees aan tug en dissiplines, veral waar ons glo dat hierdie tug en dissiplines nie gegrond is op Bybelse praktyk nie”.
Uitvloeisel van verlede jaar se buitengewone sinodesitting
Die vestiging van dié ring volg nadat die Vrystaatse sinode sy moderamen verlede jaar op ’n buitengewone sinodesitting opdrag gegee het om die moontlikheid van ’n teologies-kategoriale ring te ondersoek.
Die buitengewone sitting is op 3 Oktober buite Bloemfontein gehou om oor dié sinode se verbintenis met die algemene sinode (AS) te besluit.
Netwerk24 het berig 181 afgevaardigdes was ten gunste van die voorstel om nie uit verband met die AS te tree nie en steeds as een streeksinode te groepeer, terwyl 129 stemme daarteen uitgebring het.
Een van die ander voorstelle was dat die Vrystaatse sinode in twee verdeel en een dan uit verband met die AS kan tree – dit is deur 102 stemme gesteun, teenoor 206 stemme wat daarteen uitgebring is.
Die moontlikheid van ’n teologies-kategoriale ring is op die geleentheid voorgestel as opsie vir gemeentes wat nie met die meerderheidsbesluit saamstem nie en die moderamen moes dit ondersoek.
Volgens die ring het die moderamen in Februarie ’n werksessie met verteenwoordigers van 10 belangstellende gemeentes gehou.
Vrystaatse sinode erken daar is verskillende standpunte
Ds. Jan Lubbe, voorsitter van die AS se moderamen sowel as die Vrystaatse moderamen, het by navraag bevestig dit is die eerste ring in die streek wat nie volgens geografiese ligging ingedeel word nie.
Hy sê dit is wel nie ’n eerste vir die NG Kerk nie – die Oostelike sinode het al twee kategoriale ringe gehad, waarvan een intussen weer ontbind is.
Saam met die teologies-kategoriale ring, het die Vrystaat nou 16 ringe, waarvan die res op geografiese naburigheid berus.
“Die sinode het erken dat daar verskillende standpunte in die Vrystaat oor byvoorbeeld selfdegeslagverbintenisse leef, en ons wil aan gemeentes wat hieroor by mekaar aanklank vind, die ruimte gun om in vrede en met verantwoordelikheid hul bediening voort te sit,” sê Lubbe oor die stigting van die ring.
Hy het in sy hoedanigheid as voorsitter van die Vrystaatse moderamen geantwoord.
“Dit is ’n interne, huishoudelike reëling van die NG Kerk Vrystaat, en hoewel dit nie implikasies vir ander sinodes van die NG Kerk het nie, voldoen die prosedure wat ons daarvoor goedgekeur het, aan die Kerkorde van die NG Kerk in die algemeen.”
Lubbe sê die drie betrokke gemeentes het ’n werksessie van die moderamen oor dié ring bygewoon en die prosedures is saam uitgewerk.
Op die vraag of ’n beperkte getal gemeentes by ’n teologies-kategoriale ring kan aansluit, sê hy daar is nie ’n getal gemeentes vir elke ring vasgestel nie.
Die 15 geografiese ringe wissel tussen sewe en 12 gemeentes.
“Praktiese oorwegings, samewerking en effektiewe ondersteuning en leiding gee die deurslag vir die grootte van ringe.
“Ringe werf ook nie gemeentes om by hul aan te sluit nie; ons is nie in ’n onderlinge kompetisie met mekaar nie.
“Dit is vir ons ’n nuwe ontwikkeling en die tyd sal leer of dit in die Vrystaat ’n werkbare en welwillende weg moontlik gemaak het om ons kerkverband te versterk,” sê Lubbe.
Kommentaar
Daniel Louw
Die ring sê hy is steeds deel van die NG Kerk, maar hulle stem nie saam met die besluite oor onder meer Skrifbeskouing, gereformeerde belydenis, teologiese opleiding, kerkverband, die huwelik en seksualiteit, selfdegeslagverbintenisse, en kategesemateriaal nie.
Miskien moet ‘n mens vra waarmee hulle wel nog saamstem. Wat is die doel van ‘n denominasie as die verskille so breed is?
Ds. Ulrich Ohlhoff, voorsitter van die ring en leraar van die NG kerk Harrismith, het gesê hulle is die Vrystaatse sinode baie dankbaar vir die opsie wat hulle gebied is.
Regtig? Hoe is dit ‘n langtermynoplossing?
So ver soos die ooste van die weste is, so ver is hierdie van kerkeenheid.