Moenie val vir Nelus se bangmaakstories oor dominees

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

BRIEF | Moenie val vir Nelus se bangmaakstories oor dominees | Rapport

Sondag, 17 Augustus 2025

Daniel Louw, Secunda, skryf:

Verlede week het Nelus Niemandt te velde getrek teen gemeentes in die NG Kerk wat in opstand is teen die algemene sinode.

Net ’n paar opmerkings daaroor:

Volgens Nelus moet jy ’n gelegitimeerde predikant van die NG Kerk wees om kinders te doop en paartjies te trou. Waar staan dit in die Bybel? Hy sê dat paartjies wat in die huwelik bevestig word deur predikante wat hul legitimasie verloor het, hulself blootstel aan dispute by ’n egskeiding of geskille oor gesamentlike bates wat in die toekoms kan opduik.

Dit is absolute onsin.

Wanneer ’n NG predikant sy legitimasie verloor, mag hy dalk weer aansoek moet doen om huweliksbevestiger van die staat te wees. Baie predikante stel egter nie meer belang om hierdie rol te vervul nie – hulle vra paartjies om die wetlike troue by binnelandse sake te doen en doen dan slegs die trouseremonie in die kerk.

Nelus moet liefs nie praat van legitimasie nie. Dit het ’n grap in die NG Kerk geword.

Gelegitimeerdes in die NG Kerk belowe om die Drie Formuliere van eenheid te onderskryf wat onder meer die volgende insluit: Jesus se maagdelike verwekking, Jesus se liggaamlike opstanding, Jesus se Godheid, die bestaan van die duiwel, en redding slegs deur Jesus.

Tog is daar heelwat predikante in die NG Kerk wat daarvan afwyk.

Dwaalleraars wat aangekla word, word maar net elke keer onskuldig bevind. Hulle verklaar maar net ewe vroom dat hulle steeds by hul legitimasie-eed staan.

Nelus sê: “Wanneer ’n predikant nie meer saamstem met die besluite van die kerk nie, is daar kerkordelike maniere om dit te hanteer.”

Wat moet predikante én gemeentes doen as ál hierdie kerkordelike maniere uitgeput is? Dit is die rede hoekom soveel gemeentes in opstand kom of skeur.

Soos Charl Stander in ’n verklaring, skep Nelus ook die indruk dat die NG Kerk reeds die hofsaak teen Marius Coetzee gewen het. Die werklikheid is egter dat die hof besluit het om die saak eerder later te hanteer omdat dit nie dringend is nie. Stander moes sy verklaring aanpas ná ’n brief van Coetzee se regsverteenwoordigers.

Nou wonder ’n mens hoekom Jana Breytenbach van Netwerk24 die feite reggekry het, maar nie Charl Stander óf Nelus Niemandt nie?

Is Nelus onkundig of is hy besig met bangmaakstories?

briewe@rapport.co.za

Kommentaar

Daniel Louw

Hier is ‘n paar bronne:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui