- xxx
*******
BRIEF | ANC en NG Kerk is voëls van eenderse vere | Rapport
Sondag, 17 Augustus 2025
Gerhard Mahne, Kaapstad, skryf:
Die ANC-geïnisieerde nasionale konvensie het pas in Pretoria afgeskop.
Verskeie besware vanuit die volk het teen die konvensie en komende nasionale dialoog na vore gekom, soos dat dit ’n enorme klomp geld gaan kos, dat ons die probleme in die land reeds ken, en dat ons nie meer oor uitdagings wil praat nie, omdat die tyd vir meer doen en minder praat lankal reeds aangebreek het.
En dan is daar die beswaar van etlike stigtings oor pres. Cyril Ramaphosa se oorhaastigheid. Dis die rede waarom die Steve Biko-, Albert Luthuli-, Thabo Mbeki-, Oliver en Adelaide Tambo-, FW de Klerk- en Aartsbiskop Desmond en Leah Tutu-stigting hulle aan die eerste sitting onttrek het.
John Steenhuisen van die DA beweer selfs dat die nasionale dialoog ’n onwettige inisiatief sonder enige geloofwaardigheid is.
Een van die belangrikste besware teen die nasionale dialoog is dat die hele proses uit Luthuli-huis gedryf word deur ’n ANC wie se politieke en ekonomiese beleid in beton gegiet is.
Ramaphosa en sy ontwerpspan dryf die proses van bo af, en presies só gebeur dit ook in die NG Kerk se leierskap met hul ontwerpspanne vir sinodale vergaderings.
In NG sinodes is dit al geruime tyd nie meer kerkrade en ringe wat van onder af agendas bepaal nie, maar ontwerpspanne wat dit van bo af doen.
Dis die moderatuur met sy sinodale ontwerpspanne wat bepaal wie almal sprekers van buite gaan wees, wat tafelindelings vir sinodegangers doen, wat bepaal wat tafel-temas asook die vrae gaan wees wat in tafelgesprekke hanteer moet word en wat vooraf tafelleiers aanstel.
Jy kan nie kies waar jy wil sit nie, jy word ooreenkomstig ’n vooraf beplanning geplaas.
Elkeen by ’n tafel kry geleentheid om saam te praat, maar slegs tafel-insette wat by die vooraf bepaalde tema aansluit, word opgevolg. Leraars wat dan nie met hierdie manipulasie van bo af gediend is nie, en uiteindelik ook uitgesproke is teen Skrifvreemde sinodebesluite, word “dwars dominees” genoem.
En lidmate wat sinodebesluite kritiseer, word as onkundig bestempel, omdat hulle die Bybel kwansuis al die jare verkeerd sou verstaan het.
Ondanks kritiek teen die nasionale dialoog, gaan die ANC net eenvoudig voort. Uiteindelik gaan ’n groep of ’n kerk, wat dinge van bo af afdwing, ten gronde.