‘Bybel sê niks oor gay wees’

Kyk ook:

Prof Adrio König redeneer in die artikel “Bybel sê niks oor gay wees” hieronder dat Romeine 1:26-28 praat van heteroseksuele mans wat hulle natuurlike omgang verlaat het en homoseksueel verkeer het. Hy glo dat Romeine 1 die definisie gee van sondige homoseks. Daarom moet ’n mens volgens hom tot die gevolgtrekking kom dat dit slegs sonde is wanneer ’n heteroseksuele persoon afwyk van sy natuur en homoseks beoefen. Volgens hom is dit nie sonde as twee homoseksuele persone homoseks beoefen nie.

Daar is ’n paar probleme met hierdie benadering:

1. Kerk glo nog altyd homoseks is verkeerd volgens die Bybel

Die kerk het nog altyd geglo dat alle homoseks sonde is. Dit is eers onlangs wat hierdie bevraagteken is. Indien Prof König se opinie reg is, hoe het dit gebeur dat mense vir soveel jare onder die “wan”-indruk was dat alle homoseksuele verhoudinge verkeerd is en nie net homoseksuele verhoudinge tussen heteroseksueles nie?

2. Definisie van homoseksualiteit

Die Bybel praat vyf keer van homoseksualiteit – twee keer in Levitikus en Paulus verwys drie keer daarna:

  1. Levitikus 18:22 : Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde.
  2. Levitikus 20:13 : Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.
  3. Romeine 1:27
  4. 1 Korintiërs 6:9-10
  5. 1 Timoteus 1:9-10

God het die wette in Levitikus 1491 vC aan Moses bekend gemaak (Kyk Belangrike Bybelse datums). Daar is geen manier dat ’n mens uit hierdie twee verse in Levitikus kan aflei dat homoseks slegs verkeerd is wanneer heteroseksuele mense homoseks beoefen nie. Prof König beweer dat die definisie van homoseks vir die eerste keer in Romeine 1:27, wat Paulus 60 nC geskryf het, gegee word. As mense sedert 1491 vC geglo het dat alle homoseks sonde is, is die implikasie dat mense vir 1491+60=1551 jaar onder ’n wanindruk was oor homoseksualiteit. En dit lyk ook nie of mense se opinie oor homoseks verander het na Paulus se uitspraak in Romeine 1 nie. Nog ’n vraag is, waar Paulus aan hierdie beweerde definisie vir homoseksualteit gekom het? Onthou dat God die wette in Levitikus aan Moses gegee het in baie detail (en God het direk met Moses gepraat – Numeri 12:6-8). Waarom sou God hierdie belangrike voorskrif so vaag weergegee het?

Dit is duidelik dat Romeine 1:27 nie ’n definisie van homoseksualiteit gee nie – dit gee bloot een scenario.

3. Bybel praat slegs negatief

Die Bybel praat net negatief van homoseksualiteit. Nêrens praat die Bybel van homoseksuele huwelike/verhoudings wat tot eer van God is nie.

4. Word nie so gebore nie

Prof König aanvaar dat homoseksuele mense so gebore word. Dit is net eenvoudig nie waar nie. Kyk So gebore?. Daar is dosyne voorbeelde van homoseksuele mense wat genees is daarvan en wat vandag ’n normale heteroseksuele lewe lei.

5. Fisiologiese ontwerp nie vir homoseks nie

Die mens se liggaam is glad nie fisiologies ontwerp vir homoseks nie, maar wel vir seks tussen ’n man en vrou. Kyk Nie ontwerp vir homoseksualiteit vir meer inligting.

—–

Homoseksuele mense het hulp nodig, nie troos dat hulle hul situasie so moet aanvaar nie.

Dit is jammer dat Prof Adrio König, wat so sterk voel oor Jesus se letterlike opstanding, so ’n verdraaide opvatting aanhang. Dit is glad nie konsekwente skrifgebruik nie.

****************

‘Bybel sê niks oor gay wees’

Netwerk24

Deur Adrio König Donderdag 09 Julie 2015 05:29

Die Bybel spreek hom nie uit oor homoseksuele nie. ’n Mens kan maklik jou eie standpunt daarin lees sonder dat dit regtig daar bedoel word, skryf Adrio König.

Homoseksuele optrede word in die Bybel as sonde veroordeel. Maar watter vorm van homoseksuele optrede is dit wat veroordeel word?

Ons weet tog daar is twee vorme van homoseksuele optrede.

  • Iemand wat homoseksueel is, gaan om met iemand van dieselfde geslag.
  • Iemand wat heteroseksueel is, gaan om met iemand van dieselfde geslag.

Watter vorm word in die Bybel veroordeel? Oor watter mense gaan dit: Homoseksueles of heteroseksueles? Dink mooi na voordat jy besluit.

Die blote woorde “mense wat homoseksualiteit beoefen” (1 Kor. 6:9) sê nog nie wie die mense is nie. Is dit homo’s wat homoseksueel omgaan of hetero’s? En in die meeste gevalle waar van homoseksuele optrede sprake is, het ons net hierdie enkele woorde sonder ’n verduideliking van wat die oriëntering van die mense is.

Daar is eintlik net twee gevalle in die Bybel waar dit duidelik word wat die mense se oriëntering is: Genesis 19 en Romeine 1.

Genesis 19

Hier is duidelik sprake van mense wat homoseksueel wil optree. Dit is geweldenaars wat vreemdelinge gryp om met hulle geslagsgemeenskap te hê (19:5). Wat is die uitweg wat Lot aan hulle voorstel? “Vat my twee dogters.” Maar homoseksuele mans sal mos nie in dogters belangstel nie? Is Lot laf?

Nee, Lot weet presies wat aangaan. Dit was glad nie mans wat van nature homoseksueel was nie. Hoe kan daar ’n hele stad vol mans wees (19:4) wat homo’s is? Dis mans wat ander gewelddadig wil verneder, maar wat self heteroseksueel is. Lot weet dit. Daarom hoop hy sy dogters sal hul aandag van sy besoekers aftrek.

Maar ’n uiters belangrike punt is daarmee gemaak: Dit gaan in Genesis 19 om heteroseksuele mans, waarvan die meeste heelwaarskynlik getroud was, wat vreemdelinge gewelddadig wil verneder deur homoseks met hulle te bedryf. Dit is sonde.

Romeine 1:24-32

Hier is die enigste ander geval waaruit ’n mens kan probeer aflei wat die mense se seksuele oriëntasie is.

Wie is hierdie mense? Almal stem nie daaroor saam nie. Dit gaan om die interpretasie van die volgende frases: Dis mense wat “die natuurlike omgang” verander “in ’n teennatuurlike omgang.” En ons lees van “mans” en “hulle vroue” (1:26,27).

Die vraag is watter “natuur” hier ter sprake is. Is dit ’n algemeen menslike natuur wat eie is aan alle mense of gaan dit hier oor hierdie spesifieke mense se natuur? Die eerste standpunt is dat Paulus aanvaar dat alle mense dieselfde “menslike natuur” van heteroseksualiteit het. Alle mense is van nature heteroseksueel. Wie homoseksueel optree, tree teen die algemene natuur op (“teennatuurlik”).

Maar daar is ’n tweede verklaring vir “natuur”: die natuur van die mense onder bespreking. Hulle tree op teen die natuur wat eie aan hulle is. Hierdie betrokke mense is heteroseksueel en nou beoefen hulle homoseks. Dis teen hul natuur.

Hierdie verklaring veronderstel die volgende prentjie wat bekend is uit die ou tyd. Daar is getroude mans en vroue wat saans by die openbare baddens homoseks gaan beoefen. Hulle sou dan die jong mense in hierdie “kuns” inlei. Maar dis téén hul natuur, want hulle is heteroseksueel en dus ook teen “hulle vroue” se natuur.

Dit sou beteken dat dit hier, net soos in Genesis 19, gaan oor heteroseksuele mense wat homoseks beoefen.

’n Keuse tussen hierdie twee verklarings is moeilik. Maar ek meen die frase “hulle vroue” swaai die skaal in die guns van die tweede. “Hulle vroue” kan beswaarlik na alle vroue in die algemeen verwys (waarom dan die “hulle”?), maar baie sinvol na hierdie mans se vroue, wat ook saans by die vroue se baddens besoek aflê. In hierdie geval was dit dus getroudes wat homoseksuele praktyke gehad het.

En dit is presies wat ons in Genesis 19 gekry het.

Ek meen daar is nêrens in die Bybel sprake van mense wat homoseksueel is nie. Dit beteken dat ons nie in die Bybel uitsprake het oor hulle nie.

Wanneer ons dus ’n standpunt inneem oor die homoseksuele optrede van homoseksuele mense, het ons geen direkte uitsprake daaroor in die Bybel nie en sal ons ander gegewens moet gebruik.

Genesis 1 en 2

Mense kyk graag na Genesis 1 en 2. Daar lees ons dat God in die begin ’n man en ’n vrou gemaak het. Sommige meen dit beteken dat net ’n man en ’n vrou met mekaar mag omgaan. Dit word soms ’n “skeppingsordening” genoem: Twee mense van dieselfde geslag mag nie seks hê nie.

Maar so eenvoudig is dit nie regtig nie. In Genesis 1:27-28 lees ons dat God man en vrou geskep het om vrugbaar te wees en te vermeerder. Maar dan sou dit mos ook ’n “skeppingsordening” wees dat “man en vrou” vrugbaar moet wees en baie word. Dan mag twee mense mos nie trou en seks hê as hulle nie vrugbaar is en baie kan word nie.

’n Mens kan maklik jou eie standpunt in die Bybel inlees sonder dat dit regtig daar bedoel word.

Homoseks is net so ’n emosiebelaaide saak soos kerkhereniging. Baie mense luister nie eens regtig na mekaar nie, hulle wag net totdat hulle hul beurt kry om hul saak te stel. En die “ander” word dan maklik van die ergste beskuldig. Daar word sommer maklik gesê dat “dié wat van ‘ons’ verskil, nie die gesag van die Bybel aanvaar nie”.

My vraag is of ons seker gemaak het ons weet wie in die Bybel ter sprake is as daar gepraat word van “mense wat homoseksualiteit beoefen” (1 Kor. 6:9)?

En ek sien geen rede waarom twee mense met homoseksuele oriëntasie noodwendig in sonde leef as hulle getrou aan mekaar is nie. Sou hulle nie dalk “teennatuurlik” optree as hulle probeer heteroseksueel word nie?

  • Prof. König is afgetrede professor in sistematiese teologie aan Unisa.

1 thought on “‘Bybel sê niks oor gay wees’”

  1. Skokkend dat ’n man van König se statuur ook betower is deur die liberale teoloë se “ander evangelie”, veral as mens dink dat hy openlik en pertinent die hermeunetiek van suspisie as strategie noem, wat deur die liberale kamp gebruik word om die homo agenda te dryf.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui