Kyk ook:
- Nuwe ring wil ‘teenvoeter’ binne NG Kerk skep (26 Jul 2025, Kerkbode)
- Theo Danzfuss
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Brief: Nuwe teologies-kategoriale ring sê dan dieselfde as Standerton, Bethal en Koinonia Sinode? – Kerkbode
Kerkbode
30 Julie 2025
Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: Die berig oor drie gemeentes in die Vrystaat wat hulle eie teologies-kategoriale ring gestig het, verwys (Nuwe Ring wil ‘teenvoeter’ binne NG Kerk wees).
Hierdie ring word nou erken as ’n volwaardige kerkvergadering. Dit is amptelik bygewoon deur drie lede van Vrystaat se moderamen. Selfs ds Jan Lubbe, voorsitter van die ASM, het “elektronies ingeskakel en groete oorgedra namens die kerk”.
LEES OOK: Nuwe ring wil ‘teenvoeter’ binne NG Kerk skep
Eerstens moet ons hierdie drie gemeentes gelukwens met hulle dapper besluit om openlik te probeer loskom van ’n skisofreniese struktuur waar waarheid en dwaling onder een dak welkom is. Mag baie ander gemeentes hulle voorbeeld volg.
Maar nou bots ons weer teen die gebrek aan integriteit in ons sinodale strukture. Almal weet mos hierdie is nie die NG Kerk se eerste teologies-kategoriale ring nie. Die Ring van Standerton sowel as die Ring van Bethal het reeds meer as ’n jaar gelede ook as teologies-kategoriale ringe gekonstitueer. Op 3-4 Mei 2023 het Koinonia Sinode as kategoriale sinode vir behoudende NG kerke amptelik met 56 gemeentes gekonstitueer. Die nuwe ring in die Vrystaat huldig dieselfde teologiese oortuigings as Koinonia Sinode en die ander kategoriale ringe. Hulle protesteer teen presies dieselfde teologiese dwalinge en wil ook nie die kerk skeur nie. Hulle is ook almal nog uitgesproke NG Kerk.
LEES OOK: Koinonia Sinode: 62 gemeentes registreer vir eerste saamtrek
Ironies is egter dat die ASM onder leiding van dieselfde voorsitter, al meer as twee jaar lank alle versoeke tot mediasie met Koinonia en sy 56 gemeentes weier. Hulle verskoning is dat Koinonia nie locus standi het om met die ASM te mag praat nie omdat die Kerkorde nie kategoriale vergaderings ken nie. As hulle bereid was vir mediasie ten koste van sekere persone se eie ego, was die skade van kerkskeuring veel minder en kon hulle die kerk miljoene rande spaar aan hofsake en regskoste.
Ons verwelkom die ASM-voorsitter en Vrystaat moderamen se nuwe gesindheid teenoor hierdie drie gemeentes, maar hoe geloofwaardig is dit? Sal hy en sy ASM-span nou eerlik genoeg wees om dieselfde erkenning aan die teologies-kategeoriale Sinode van Koinonia en Ring van Standerton te gee? – Brief verkort. – Red.
Kommentaar
Daniel Louw
Theo Danzfuss verwys na die begrip locus standi. Kyk
- Koinonia Sinode het geen locus standi (Daniel Louw)
- AS kies skeuring bo mediasie (Theo Danzfuss, 23 Okt 2023)
- Koinonia Sinode: Tyd om aan te beweeg? (Daniel Louw, 24 Okt 2023)