Kyk ook:
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Nelus Niemandt: Dwars dominees werp donker skadu oor hul eie integriteit | Rapport
Nelus Niemandt
Sondag, 10 Augustus 2025
Drie NG gemeentes is in opstand teen die gesag van die algemene sinode. Nelus Niemandt vra hoe die Kerk dit moet hanteer.
Die gebeure in die NG Kerk het onlangs weer gewys hoe belangrik dit is om na te dink oor die hantering van verskille tussen gelowiges, kerkordelike gesag en die krag van liefdevolle eenheid.
Drie gemeentes – Bethulie, Vryburg-Wes en Karatara- Sedgefield – het besluit op optrede wat in stryd is met die kerkorde.
Daardeur daag hulle die gesag van verskeie kerkvergaderings uit – veral die algemene sinode, wat ’n vergestalting is van die breë verband en eenheid van die NG Kerk in Suid-Afrika.
Hierdie tendens laat ’n mens wonder oor kerklike eenheid en die hantering van meningsverskille. Predikante speel dikwels ’n sleutelrol in die besluite van gemeentes wat hulle van die sinodale gesag distansieer.
’n Paar predikante het in die proses selfs hul bevoegdheid (amptelike lisensie) verloor om predikante in die NG Kerk te wees.
Verskille in ’n kerk wat ernstig is oor liefdevolle eenheid
Die NG Kerk is nie vreemd aan verskille nie. Trouens, verskille is tipies van ’n dinamiese kerk wat erns maak met vraagstukke wat die lewe van mense raak.
Om te midde van hierdie verskille die eenheid van die Kerk te bewaar, is daar deur die jare pogings aangewend om binne die kerkverband ruimte te skep vir gemeentes met verskillende oortuigings, veral rondom sensitiewe etiese sake soos selfdegeslagverhoudings.
Die algemene sinode het in die laaste jare verskeie besluite geneem wat gemeentes die vryheid van gewete gun om self te besluit oor hoe hulle selfdegeslagverbintenisse hanteer.
Dié besluit was ’n poging om verskeidenheid in die NG Kerk te akkommodeer sonder om eenheid op te breek.
Vir die oorgrote aantal gemeentes werk dit. Hulle stem saam met die breë rigting van die Kerk, bly getrou aan die belydenis en rig hul gemeentelewe in volgens die kerklike tradisies.
In die normale gemeentelike lewe raak die woelinge binne ander gemeentes hulle waarskynlik nie veel nie.
Elke groepering in die NG Kerk sal daarop aanspraak maak dat hulle die Bybel ernstig opneem en ernstig is oor die kerk se geloofsoortuigings.
Dit verg onderlinge verdraagsaamheid en respek vir mekaar.
Hulle voel ook sterk oor eenheid en liefdevolle deernis.
Hoewel daar verskille is oor die interpretasie van teksgedeeltes, meestal oor enkele etiese sake, is daar besondere liefde vir die kerk se Gereformeerde tradisie en eeue oue belydenisse. Dit was veral vanjaar vir my ’n groot verrassing hoeveel aandag die Belydenis van Nicea geniet het met die viering van die 1 700 jaar wat dit reeds die Christelike geloof saamvat.
Maar daar is gemeentes wat verskille met die sinode se besluite so intens beleef dat hulle voel hul geloof is op die spel. Dis juis in sulke omstandighede dat kerklike gesprekke en die kerkorde – die gesamentlike ooreenkoms oor hoe die Kerk werk – belangrik is.
Drie paaie na hantering
Die NG Kerk hanteer sulke situasies op drie maniere:
Gesprek en begeleiding: Sinodes, ringsittings en moderature is al op verskeie plekke en maniere betrokke in gesprek met gemeentes wat worstel met sinodale besluite. Onthou ook dat sinodes niks anders is nie as gemeentes wat bymekaar is en saam besluite neem. Só is daar byvoorbeeld in heelwat van die streeksinodes spesiale sinodesittings gehou.
In ander dele van die land word begeleidingsprosesse gevolg, wat ruimte skep vir luister en onderskeiding. Na my mening het dit in baie gevalle gehelp, maar dit het ook ongelukkig, soos in die geval van die sinode van Namibië, daartoe gelei dat ’n sinode hulle afgeskei het van die algemene sinode van die NG Kerk.
Kategoriale ringe: In gevalle waar gemeentes dieselfde teologiese oortuigings deel, is die vorm van sogenaamde teologies-kategoriale ringe in party streke ’n opsie. Hierdie strukture laat gemeentes toe om saam te vergader en mekaar te versterk sonder om uit die verband te tree. So ’n ring is onlangs in die Vrystaat gestig. Nie almal is tevrede dat dit ’n goeie idee is nie, maar dit skep tog ’n veilige ruimte vir lidmate wat ’n sterk behoefte het om saam met eendersdenkendes te vergader.
Kerklike reg en tug: Wanneer gemeentes of predikante besluite neem wat lynreg teen die kerkorde indruis – byvoorbeeld wanneer ’n gemeente sy verbintenis met die sinode opskort of in stryd met die kerkorde handel, soos om ’n predikant, wat sy bevoegdheid verloor het, in diens te hou en voort te gaan om hom as predikant te gebruik – dan is kerklike dissiplinêre optrede soms onvermydelik. Die kerkorde bepaal duidelik wat die kerkregtelike prosesse is om die heil en regte van alle lidmate en gemeentes te beskerm.
Daar was die laaste tyd ongelukkig ’n paar sulke gevalle, en ’n paar leraars het hul bevoegdheid om ’n NG predikant te wees, verloor. Dit is soos ’n dokter of prokureur wat van die rol geskrap is – so ’n persoon mag eenvoudig nie meer praktiseer nie. Voormalige predikante wat aanhou om ampspligte in ’n gemeente te verrig, ondergrawe nie net hul eie geloofwaardigheid nie, maar werp ook ’n donker skadu oor hul integriteit. Hulle moet weet dat hulle nie meer “gelisensieer” is om enige ampspligte te verrig nie en dat dit dus ongeldig is – byvoorbeeld die doop van kinders.
Predikante bevestig byvoorbeeld huwelike op grond van ’n bevoegdheid wat die algemene sinode aan hulle verleen. Hier flikker gevaarligte – huwelike wat deur persone sonder bevoegdheid bevestig word, se geldigheid kan betwis word. Na my mening stel sulke mense hulself bloot aan dispute by ’n egskeiding of geskille oor gesamentlike bates wat in die toekoms kan opduik.
Die rol van die kerkorde
Die NG Kerk se kerkorde is nie net ’n stel reëls nie. Dit is ’n belydenis van hoe die Kerk saam glo en saam leef. Dit beskryf die roeping van die kerk, die rol van elke amp en hoe gesag verantwoordelik uitgeoefen word. Wanneer iemand gelegitimeer word as predikant, onderteken hy of sy ’n verklaring om onder meer die kerkorde en die besluite van die Kerk te eerbiedig en na te kom. Dié eed is nie ’n leë formaliteit nie. Dit is ’n verbintenis om verantwoordelik en in diens van Christus se liggaam op te tree.
Wanneer ’n predikant nie meer saamstem met die besluite van die Kerk nie, is daar kerkordelike maniere om dit te hanteer. Indien ’n predikant nie kans sien vir so ’n proses nie, behoort hy of sy te bedank. Dit het al baie gebeur oor ’n magdom teologiese kwessies, soos byvoorbeeld die doop. Wat nié kan gebeur nie, is dat ’n predikant sonder bevoegdheid voortgaan om ’n gemeente te bedien met die bates, naam en struktuur van die NG Kerk asof niks verander het nie.
Die burgerlike hof as laaste uitweg
Die NG Kerk probeer altyd eers om sake kerklik op te los. Tog was dit onlangs nodig om ’n dringende hofsaak teen te staan waarin ’n voormalige predikant, wat nie meer bevoegdheid het nie, die hof versoek het om hom toe te laat om in weerwil hiervan voort te gaan om die gemeente te bedien. Die hof het in die guns van die NG Kerk beslis en die aansoek van ds. Marius Coetzee en die kerkraad van Karatara-Sedgefield met koste van die hand gewys. Die uitspraak bevestig dat die kerkorde geldig is en dat selfs die burgerlike reg erken dat gemeentes nie net soos ’n gewone vereniging op eie houtjie kan afstig sonder om die gesamentlike reëls na te kom nie.
Pad vorentoe
Hoe verloor die Kerk nie sy gemeentes in sulke tye nie? Deur met deernis te luister, met wysheid op te tree en met liefde en waarheid te begelei. Dit is ook duidelik dat die kerk nie kan toelaat dat chaos en eiewilligheid die kerk se gemeenskaplike getuienis skaad nie. Daar is altyd plek vir verskille. Maar dit moet binne die raamwerk van liefdevolle eenheid, gereformeerde geloof en eerbied vir Christus se liggaam geskied.
Die NG Kerk was nog altyd ’n huis met baie vertrekke. Maar dit bly een huis. Wanneer ons verskil, is ons roeping nie om die huis af te breek nie, maar om een te bly en die gesprek te bly voer.
• Prof. Nelus Niemandt was voorheen aktuarius van die algemene sinode van die NG Kerk en ook moderator van die algemene sinode in 2011 en 2013. Hy was rektor van Hugenote Kollege.
Kommentaar
Daniel Louw
Volgens Nelus moet jy ‘n gelegitimeerde predikant van die NG Kerk wees om kinders te doop en paartjies te trou.
Waar staan dit in die Bybel?
Hy sê: “…huwelike wat deur persone sonder bevoegdheid bevestig word, se geldigheid kan betwis word. Na my mening stel sulke mense hulself bloot aan dispute by ’n egskeiding of geskille oor gesamentlike bates wat in die toekoms kan opduik.”
Dit is nonsens. Enigiemand kan ‘n paartjie “voor God” trou, maar om ‘n paartjie wetlik (volgens landswette) in die huwelik te bevestig moet hy by Binnelandse Sake registreer as ’n huweliksbevestiger. Dit is nie net NG predikante wat as huweliksbevestigers kan registreer nie.
Verder is daar reeds predikante wat nie meer as huweliksbevestigers geregistreer is nie weens al die administrasie daaraan verbonde. In so ‘n geval trou die predikant ‘n paartjie “in die kerk” en dan moet die paartjie ook by Binnelandse sake gaan trou om dit wetlik te maak.
Is Nelus onkundig of is hy besig met bangmaakstories?
Nelus moet liefs ook nie praat van legitimasie nie. Dit het ‘n grap in die NG Kerk geword. Gelegitimeerdes in die NG Kerk belowe ook om die Drie Formuliere van eenheid te onderskryf, tog is daar heelwat predikante in die NG Kerk wat daarvan afwyk, Nelus ingesluit, en steeds predikante is.
Nelus sê: “Wanneer ’n predikant nie meer saamstem met die besluite van die Kerk nie, is daar kerkordelike maniere om dit te hanteer.”
Ja, 100% reg. Al die kerkordelike maniere is egter reeds uitgeput. Kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap en Lys van leerdwaling aanklagtes. Die enigste ander roete vir predikante EN gemeentes is om roetes buite die kerkorde te neem. Dit sluit onder andere skeuring in.
Op 5 Augustus 2025 het Charl Stander in ‘n verklaring die indruk geskep dat die NG Kerk die hofsaak teen Marius Coetzee gewen het. Nelus borduur voor hierop. Die werklikheid is egter dat die hof besluit het om die saak eerder later te hanteer omdat dit nie dringend is nie. Volgens die prokureursbrief op 6 Augustus 2025:
Die aansoek is van die rol verwyder weens ‘n gebrek aan dringendheid, sonder enige bevinding oor die substantiewe meriete van die saak. Die hof het homself uitdruklik daarvan weerhou om enige uitspraak te lewer oor die geldigheid van die sanksie, die prosedurele billikheid van die tugproses, of die meriete van die hersieningsaansoek.
Jana Breytenbach van Netwerk24 het ook op 5 Augustus die korrekte feite berig. Nou wonder ‘n mens hoekom Jana Breytenbach die feite reggekry het, maar nie Charl Stander óf Nelus Niemandt nie?