Dominee vat NG Kerk hof toe ná hulle hom uitskop

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Dominee vat NG Kerk hof toe ná hulle hom uitskop | Rapport

Johan Eybers

Sondag, 3 Augustus 2025

’n Dominee van die Suid-Kaap sleep die NG Kerk hof toe nadat hy van sy bevoegdheid as predikant gestroop is.

Die saak het sy oorsprong in die besluit van die NG gemeente Karatara-Sedgefield om sy bande met die algemene sinode te verbreek – onder aanvoering van ds. Marius Coetzee.

Dié besluit, wat in Maart 2024 geneem is, het die gemeente verdeel. Hoewel die kerkraad Coetzee steun, het ’n groep gegriefde lidmate ’n klag teen hom aanhangig gemaak.

Hy is vervolgens in Mei verlede jaar aan ’n tugverhoor onderwerp. Coetzee, wat besluit het om nie aan die verhoor deel te neem nie, is in sy afwesigheid skuldig bevind aan skeurmakery, misleiding en prosedurele oortredings. Die ringtugliggaam het bevind hy het sy gemeente doelbewus mislei in die proses om sinodale bande te verbreek.

Coetzee, wat al 17 jaar lank die Karatara-Sedgefield-gemeente bedien, is in Junie vanjaar amptelik gestroop van sy legitimasie as predikant.

In stukke voor die hooggeregshof in Kaapstad voer hy aan dat die aanklagte teen hom vergesog is.

“Die skeuring is nie my maaksel nie; dis institusioneel, leerstellig en histories ingebed, en is sodanig deur die algemene sinode self erken.”

Coetzee verwys in sy hofaansoek na minstens 94 ander gemeentes wat soos Karatara-Sedgefield hul kommer uitgespreek het oor die NG Kerk se hantering van leerstellige kwessies, soos selfdegeslag-verhoudings.

Hy beweer die tugproses teen hom is deurtrek met onreëlmatighede en die ringtugliggaam het gelyktydig as ondersoeker, aanklaer en regter opgetree – “in stryd met die beginsel van natuurlike geregtigheid”.

Daarom eis hy dat sy bedieningstatus permanent herstel word. Die gemeente en die kerkraad van Karatara-Sedgefield word as mede-applikante in die hofaansoek gelys.

Die NG Kerk sê in ’n beantwoordende verklaring Coetzee se weiering om aan die tugverhoor deel te neem, weerhou hom daarvan om later prosedurele besware te opper.

Charl Stander, aktuarius van die sinode van Wes-Kaapland en voorsitter van die Sinodale Kommissie vir Kerkreg, sê die NG Kerk het die reg om standaarde te stel waaraan predikante moet voldoen.

“Wanneer ’n predikant gelegitimeer word, neem hy ’n eed om by die kerkorde te hou en alle besluite van die Kerk na te kom. In die geval waar ’n predikant nie meer saamstem met die leringe of ’n besluit van die Kerk nie, kan hy die toepaslike liggaam nader om die kwessie aan te pak of hy kan die Kerk verlaat.

“Hy mag nie in sy eie belang optree deur ’n gemeente te verdeel en by een van die verdeelde groepe aan te sluit nie.”

Die NG Kerk beweer Coetzee het “onbeheerste en harde openbare opposisie” teen aanvaarde kerkbeleid getoon en lede van die gemeente aangemoedig om daarteen in opstand te kom.

Die Kerk wys daarop dat die gemeente onder Coetzee se leiding besluit het om alle bande met sinodale strukture te verbreek, sinodale bydraes te weerhou en aktief lede uit ander NG gemeentes te werf.

Die NG Kerk sê Coetzee het voortgegaan om as predikant op te tree ten spyte daarvan dat hy nie gemagtig is om dit te doen nie. Die gemeente het ook voortgegaan om sy salaris te betaal.

Omdat Coetzee nie gemagtig is om as predikant op te tree nie, is enige doop of huwelik wat in dié tydperk deur hom gehanteer is, “nietig en van nul en gener waarde”, sê Stander.

Hoewel die kerkraad Coetzee steun, het 32 lidmate van Karatara-Sedgefield verlede jaar klagte teen hom aanhangig gemaak – nog voordat die formele besluit om weg te breek van die algemene sinode bekragtig is.

Die klaers sê hulle was “diep besorg oor die kerkraad se besluit om in 2020 te doleer (treur)”.

“Dié besluit is geneem sonder om met die gemeentelede te konsulteer en sonder om die gemeente uit te nooi tot ’n openlike gesprek met die kerkraad. Nou wil dit voorkom of die kerkraad die gemeente se band met die sinode van Wes-Kaapland gaan verbreek om deel te wees van die ‘Koinonia-sinode’.”

Hulle is verder ontevrede dat Koinonia se bewerings op die gemeente se amptelike webwerf geplaas is. Dit sluit in dat die NG Kerk ’n vals Kerk is wat die Woord van God nie meer suiwer verkondig nie.

Karatara-Sedgefield is een van verskeie NG gemeentes landwyd wat tans in ’n geskil met die algemene sinode gewikkel is.

Rapport het onlangs berig oor die geval van ds. Nico Sennett van die NG gemeente Vryburg-Wes wat in sy amp gestuit is hangende ’n tugondersoek.

Die kerkraad van Vryburg-Wes het Woensdag ’n amptelike geskil met die ring van Reivilo verklaar oor die tugproses wat hy as “onregmatig” beskou.

In ’n verklaring beweer die kerkraad dat die klagte van skeurmakery en leuenagtige gedrag teen Sennett op “bespiegeling en waninligting” berus.

Vryburg-Wes het soos Karatara-Sedgefield “akte van opskorting” ingedien om hul bande met die algemene sinode te verbreek.

• In nog ’n soortgelyke geval is ds. Rhenier Nel van die NG gemeente Bethulie ook van sy legitimasie as predikant gestroop. Hy preek egter steeds op Sondae en gaan voort om lidmate te doop en te trou.

Nel het gister aan Rapport gesê die gemeente het ’n ultimatum aan die ringkommissie van Smithfield gestel om die dispuut teen 31 Julie op te los, waarna die gemeente dit sal oorweeg om alle bande met kerklike strukture te verbreek. Noudat die spertyd verstryk het, word ’n gemeente-stemming vir 31 Augustus beplan.

Kommentaar

Daniel Louw

Ek weet nie wat so ‘n hofsaak sou bereik nie.

Veronderstel hy wen die saak, wat dan? Dan behou hy sy bevoegdheid as predikant in ‘n denominasie waarmee hy glad nie saamstem nie en net konflik sal hê in die toekoms.

Ja, daar is 32 lidmate wat ongelukkig is, maar die kerkraad ondersteun hom steeds en betaal steeds sy salaris. ‘n Mens neem ook aan dat die ander lidmate hom steeds ondersteun.

Laat die 32 lidmate dan maar ‘n ander gemeente soek. Kan daar werklik eenheid wees in ‘n gemeente as daar sterk verskillende standpunte is oor wesenlike teologiese kwessies?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui