Kyk ook:
- Die Rivier Staan: ’n Profetiese Ondersoek na die Teologies-Kategoriale Ring (2 Aug 2025, Johannes de Villiers)
- Teologies-kategoriale ring in die Vrystaat bied ruimte vir behoudendes (31 Jul 2025, Netwerk24)
- Nuwe ring wil ‘teenvoeter’ binne NG Kerk skep (26 Jul 2025, Kerkbode)
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
BRIEF | Behoudende ring wil krake in NG Kerk se damwal herstel | Rapport
Sondag, 3 Augustus 2025
Fanie le Roux, NG gemeente Parys-Suid, skryf:
As die oudste leraar op die eerste sitting van die nuut gestigte Vrystaatse Teologies-kategoriale ring het ek die voorreg gehad om die openingsboodskap te lewer.
Ek neem die vrymoedigheid om ’n verwerkte weergawe van my rede op hierdie forum met Rapport se lesers te deel.
Spreuke 17:14 lui: “Om rusie te begin, is om ’n damwal te breek; staak liewer die getwis voordat die vloed jou tref.”
Hierdie vers laat my dink aan TV-programme van rampe waar damwalle breek. Eers begin dit baie klein en dan word dit geleidelik en later eksponensieel groter totdat die wal skielik heeltemal meegee.
En dan gaan alles verlore.
Groot verwoesting volg.
Is hierdie vers ’n waarskuwing?
Ja, vir seker. ’n Getwis eskaleer gewoonlik. Dit word ’n afwaartse spiraal wat skielik kan vererger. Net soos ’n damwal wat breek.
Jesus sê ons moet ons vyand liefhê en vergewe, want die wraak kom Hom toe. Wraak roep weerwraak op wat gou kan vererger. Net soos ’n damwal wat breek.
En hoe stop jy dit? Dis bykans onmoontlik.
Wat van die skade wat aangerig word?
Ons bevind ons vandag in ’n unieke situasie. Eintlik maak ons geskiedenis. Dis die eerste ring in die NG Kerk se geskiedenis van meer as 350 jaar wat as Teologies-kategoriale ring op teologiese gronde saamgestel word en nie geografies nie.
Ons drie gemeentes het dit só versoek en die versoek is deur die Vrystaatse sinode toegestaan. Vandag is ’n spesiale geleentheid, want ons konstitueer as ’n nuwe ring van die sinode van die Vrystaat.
Dit het gebeur omdat daar sterk verskille van mening in ons kerk ontstaan het weens besluite veral rondom selfdegeslagverhoudings en ook ander omstrede sake.
Ons besef die groot verantwoordelikheid wat op ons rus. Hierdie vers is uiters aktueel vir die pad wat hierdie ring vorentoe sal moet loop. Vir ons is die woorde soos ’n lamp vir ons voet en ’n lig op ons pad.
“Moenie rusie maak nie,” sê die Bybel vir ons: Dit kan skade maak. Rusie het die potensiaal om te eskaleer en mense net verder uitmekaar te dryf met onberekenbare skade aan verhoudings, gemeentes en die Koninkryk.
Hier aan die begin op ons nuwe pad neem ons die waarskuwing ter harte en onderwerp ons ons aan die wysheid daarvan.
Maar ons wil nie net keer dat die damwal breek nie, ons wil ook verhoed dat, waar daar reeds breuke voorkom, dit verder sal wegkalwe. Ons wil heelmaak en regmaak. Ons wil gate wat ontstaan het of mag ontstaan, herstel. Ons wil dus keerwalle bou.
Ons wil keer dat die kosbare inhoud van die dam, die lewegewende water, tot niet gaan.
Die kosbare inhoud wat verlore kan gaan is die heilige en onfeilbare Woord van God, wat die grondslag van alle bestaan is. Hierdie Woord kom in sy totaliteit van God en daarom as moet dit ten volle gesagvol eerbiedig en aanvaar word. Dit beteken dat die Bybel foutloos en waar en dus ook genoegsaam is.
Voeg daarby die Belydenisskrifte wat van die Bybel afgelei is en wat die suiwer leer van die Skrif weergee; wat ons nie net help om koers te hou nie, maar ook om dwaling te onderskei en te beveg. Ons beskou dus art. 1 van die Kerkorde, die drie formuliere van Eenheid, asook die lidmaat- en ampsbeloftes wat ons plegtig afgelê het, as binded vir ons gewete. Verder het ons ons daartoe verbind om enige leer wat hiervan afwyk, te af te wys, te weerstaan en te beveg.
So erken ons dan byvoorbeeld die Bybelse Ortodokse Christelike Tradisie van die afgelope meer as 2 000 jaar wat bepaal dat ’n huwelik slegs uit een man en een vrou in ’n permanente verbintenis toelaatbaar is. Ons is beslis nie fundamentaliste of Biblisiste nie, maar ons onderskryf van harte art. 1 van ons kerkorde en daarmee saam dan ook die ryk erfenis van die Gereformeerde leer.
Rusie wil ons nie maak nie. Ons wil die waarskuwing van Spreuke 17:14 ernstig opneem. Ons doel is slegs maar om die wil van God te soek en Hom te verheerlik.
Tot die taak van die ring behoort die toesien dat die lidmate en gemeentes na behore deur die Woord bedien word en dat na hulle geestelik omgesien moet word. Dit wil ons as ring dan ook graag doen.
Ons wil rusie maak ten alle koste vermy. Dit bring skade en verlies mee. Ons wil eerder keerwalle bou en damwalle behou. Ons wil bewaar wat kosbaar is.
Kommentaar
Daniel Louw
Die volgende gemeentes is in hierdie ring:
- NG kerk Harrismith
- NG kerk Kroonstad
- NG kerk Parys-Suid
Watter gemeentes behoort aan die behoudende ring? Is daar ook gemeentes van ander provinsies?
NG kerk Harrismith
NG kerk Kroonstad
NG kerk Parys-Suid