‘Geen dringendheid’ aan saak oor dominee se lewensbestaan – hof

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

‘Geen dringendheid’ aan saak oor dominee se lewensbestaan – hof | Netwerk24

Jana Breytenbach

05 Augustus 2025

Die dringende aansoek van ’n dominee van die Suid-Kaap oor sy lewensbestaan is Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad van die hand gewys.

Regter Lister Nuku het ds. Marius Coetzee se aansoek van die rol verwyder nadat hy bevind het daar bestaan geen dringendheid aan die saak nie.

Coetzee het die NG Kerk voor die hof gedaag omdat hy gemeen het hy geen ander keuse of alternatiewe oplossing gehad het om sy werk te probeer behou nie.

Hy het, voordat hy die dringende aansoek op 10 Julie by die hof ingedien het, ’n aansoek om die NG Kerk se bevinding oor sy bevoegdheid te hersien, ingedien.

Die NG Kerk het hom reeds in Maart 2024 van sy bevoegdheid gestroop, met die gevolg dat die gemeente verdeeld geraak het.

Die NG gemeente Karatara-Sedgefield het onder leiding van Coetzee van die algemene sinode probeer wegbreek. Hoewel die Karatara-kerkraad Coetzee ondersteun, was daar ’n groep wat klagte teen hom ingedien het – kwessies wat glo sedert 2020 gebroei het.

Netwerk24 het vroeër berig hy is vervolgens in Mei verlede jaar aan ’n tugverhoor onderwerp. Coetzee, wat besluit het om nie aan die verhoor deel te neem nie, is in sy afwesigheid skuldig bevind aan skeurmakery, misleiding en prosedurele oortredings. Die ring se tugliggaam het bevind hy het sy gemeente doelbewus mislei in die proses om sinodale bande te verbreek.

Coetzee, wat die Karatara-Sedgefield-gemeente al bykans twee dekades lank bedien, is in Junie vanjaar amptelik gestroop van sy legitimasie as predikant, of so voer hy en sy regspan aan.

Adv. Hanri Loots SC het dié punt voor Nuku probeer maak en verduidelik wat die tydlyn van die saak is en wanneer die besluit amptelik gemaak is.

Die kerk het in Desember 2024 in skrewe aan hom gesê die appèlproses is uitgeput, maar daarna was daar steeds gesprekke tussen die regspanne van die partye. Dit bewys dat die besluit nog nie finaal was nie, sê Loots. Versoeke is aan verskeie eenhede binne die kerk gestuur om toestemming te bekom dat hy, hangende die hersieningsproses, steeds kan werk.

Die kerk se besluit is eers einde Junie in die NG Kerk se koerant, Die Kerkbode , gepubliseer en hierna het Coetzee se regspan besluit om die hersieningsaansoek in te dien en gevolglik die dringende aansoek.

Die gronde vir dringendheid, het Loots aangevoer, gaan grootliks oor Coetzee se lewensbestaan, want hoewel die Sedgefield-gemeente hom nog in diens wil hê, is hulle deur die kerk gewaarsku dat hy nie as dominee kan optree nie.

Die Sedgefield-kerk is die eenheid wat Coetzee betaal en nie die algehele NG Kerk nie, en volgens hulle is en was daar nie genoeg geld om ’n nuwe dominee aan te stel nie.

Met die begin van die aanhoor van die saak het Loots die toegewing gemaak dat indien die hof in hul guns bevind, Coetzee sy reg om enige sakramente uit te voer, laat vaar.

Coetzee voer in die hersieningsaansoeke aan dat die prosedures wat gevolg is om tot die dissiplinêre uitkoms te kom, wesenlik gebrekkig was.

“Ek is nie ’n prosedureel billike verhoor gegun nie en die bevindinge was uiteindelik irrasioneel en onwettig gebaseer op die verskeie gronde . . . Onder meer is ek die geleentheid ontsê om nadelige bewerings behoorlik te beantwoord, bewyse aan te bied of bevooroordeelde of samespannende gedrag te betwis,” lui die hofstukke.

Volgens Coetzee is sy grondwetlike regte geskend en die skade “wat ek aan my waardigheid en lewensonderhoud gely het en gaan ly, het vererger”.

In repliek op Loots se betoog het Willem Jacobs, vir die NG Kerk, aangevoer die Desember-beslissing was die finale een en daarom, gegewe dat minstens ses maande verby gegaan het voordat die dringende aansoek ingedien is, kan dit uiteraard nie as dringend beskou word nie.

“Ongelukkig duur die verdeeldheid binne die gemeente steeds voort en dit het in werklikheid verdiep. Coetzee se teenwoordigheid en voortgesette werk in weerwil van sy delegitimering, het nie die beste belange van die gemeente gedien nie, en het in werklikheid die ongewenste verdeeldheid binne die kerk vererger,” lui die hofstukke.

Loots het hierna vir Nuku gesê die kerk word geensins bevooroordeel as Coetzee toegelaat word om aan te hou werk nie, maar dat hy “nooddruftig” (hulpbehoewend) sal wees indien die dringende aansoek misluk.

Nuku, wat ten tyde van Loots se betoog hom verskeie kere onderbreek het en verhoed het om sy argument behoorlik te stel, het ten slotte die aansoek van die rol verwyder “omdat daar ’n gebrek aan dringendheid is”.

Die saak sal na verwagting nou op die gewone bestrede hofrol geplaas word.

Daar word ook nog gewag op ’n datum vir die aanhoor van die hersieningsaansoek.

jana.breytenbach@24.com

 

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui