Kyk ook:
- Om kerk en staat te skei
- Geloof en politiek: Vermenging is onvermydelik (24 Sep 2025, Julian Olivier)
Kyk Geloof en politiek: Vermenging is onvermydelik (24 Sep 2025, Julian Olivier) wat op hierdie artikel reageer.
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
DINKSTOF: Godsdiens en politiek: ’n Dodelike mengsel – Kerkbode
Kerkbode, Johan Van der Merwe
12 September 2025
Wanneer godsdiens en politiek vermeng word is die eindresultaat dikwels ’n dodelike mengsel. Dit het niks met kant kies te doen, maar wel met die wyse waarop godsdiens misbruik word om bepaalde politike doelwitte na te jaag of te keer, skryf Johan van der Merwe.
Hierdie stelling word opnuut bevestig deur die sluipmoord op Charlie Kirk in Utah in die VSA op 10 September 2025. Die wyse waarop godsdiens in politieke retoriek gebruik is en christelike nasionalisme aangemoedig is, is egter niks nuuts nie. Die geskiedenis is deurspek van soortgelyke gebeure wat dikwels tragies geëindig het.
’n Sprekende voorbeeld uit die geskiedenis van die Reformasie het 500 jaar gelede in 1525 in Duitsland afgespeel. Dit was die bekende boere – opstand onder leiding van onder andere Thomas Müntzer. Müntzer het sy optrede op die voorbeeld van Gideon in die Ou Testament geskoei en het homself as ’n vegter-priester beskou. Hy het onder meer sy briewe onderteken met die woorde: “Thomas Müntzer met die swaard van Gideon”. Die uiteinde van die misbruik van godsdiens om politieke ideale te bereik het die dood van bykans 100 000 boere beteken. Müntzer self is op 27 Julie 1525 buite Mühlhausen onthoof.
In Suid-Afrika hoef ’n mens nie te ver in die geskiedenis terug te blaai om te onthou hoe die NGK se teologiese ondersteuning van die Nasionale Party se politieke beleid van apartheid afgeloop het nie. Die wyse waarop godsdiens en politiek vermeng is, word duidelik uit die toespraak van Dr DF Malan, eertydse predikant van die NGK wat in 1948 Eerste Minister geword het. Sy toespraak tydens die inwyding van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949 het die tafel gedek vir wat sou volg. Hy het onder meer gesê: “As daardie sielsdeursoekende vraag hom dan aan u opdring: Afrikaner, quo vadis, waar gaan jy heen? … staan dan stil, en draai terug! Terug na u volk, terug na u volk se hoogste ideale; terug na die pand wat ook aan u toevertrou is om te bewaar; terug na die volksaltaar, waarop u offers moet lê, en as dit geëis word ook uself as offerhande; terug na die heiligheid en die onskendbaarheid van die gesinslewe; terug na u Christelike wandel; terug na U Christelike geloof; terug na u kerk; terug na U God.” Op 5 November 1994 het daar ook ’n skoot geklap as nadraai van die ondersteunining van en die weerstand teen die vermenging van godsdiens en politiek toe prof Johan Heyns, die moderator van die 1986 Algemene Sinode, in sy huis deur ’n sluipskutter vermoor is.
Miskien is die dood van Kirk ’n nodige wekroep ook aan almal in Suid-Afrika om opnuut te besef hoe dodelik die mengsel van godsdiens en politiek kan wees.
Kommentaar
Daniel Louw
Volgens Johan van der Merwe het Charlie Kirk godsdiens misbruik om bepaalde politike doelwitte na te jaag. Enigiemand wat Charlie Kirk geken het, het geweet dat hy in die eerste plek ‘n Christen was en dan ‘n politikus. Dit was daarom onvermydelik dat Kirk se geloofsoortuigings sy politieke standpunt sou beïnvloed.
Tog het ek die idee gekry dat Kirk nie alles oor ‘n godsdienstige kam wou skeer nie. Wanneer hy byvoorbeeld teen aborsie gedebateer het, het hy dit nie uit ‘n Christelike oogpunt gedoen nie, maar uit ‘n sekulêre oogpunt. Sy argument was dat dit moord was, punt.
As ek moet raai, kom Johan van der Merwe se siening hoofsaaklik uit die feit dat hy in wese verskil met Charlie Kirk se behoudende standpunte. Kyk ook: