Nuwe ring wil ‘teenvoeter’ binne NG Kerk skep

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Nuwe ring wil ‘teenvoeter’ binne NG Kerk skep – Kerkbode

Le Roux Schoeman

26 Julie 2025

In ’n eerste vir die NG Kerk het drie gemeentes die opsie uitgeoefen om ’n liggaam te stig waar lidmate teologies eerder as geografies verenig binne ’n kerkverband wat dié Vrystaatse gemeentes glo te liberaal is.

“Die aard en karakter (van die nuwe groepering) is ’n behoudende teologie,” luidens ’n skrywe deur leiers in die betrokke gemeentes. “Dit moet ’n teenvoeter wees vir die liberale verstaan van die Skrif, waar waarheid subjektief verstaan word eerder as objektief.”

Die gemeentes staan bekend as die “Teologies-Kategoriale Ring van die Vrystaat”, ’n eerste van sy soort, volgens ds Joe Müller, wat as skriba optree. Ds Ulrich Ohlhoff is die voorsitter. Sewe ander mans was betrokke by die stigting op 13 Junie 2025 by NG Kerk Harrismith, volgens Müller. Die drie gemeentes wat die nuwe ring gevorm het, is NG Harrismith, NG Kroonstad en NG Parys-Suid.

Ohlhoff het per e-pos aan Kerkbode gesê: “Ek dink dit is belangrik om te let dat ons as gemeentes die stigterslede is, maar dat die Vrystaat Sinode die kategoriale ring geskep het … Ons gemeentes het gekies om die opsie uit te oefen en dan die eerste stigters van die ring te word.”

Ds Jan Lubbe, die moderator van die Algemene Sinode het dit by navraag beaam: “Die konstituering van die teologies-kategoriale ring in die NG Kerk Vrystaat, is die uitvloeisel van ’n voorstel van die moderamen aan die buitengewone sinode van die Vrystaat op 3 Oktober 2024. Ons het dit gesien as ’n moontlikheid waarop gemeentes wat dieselfde teologiese oortuiging deel oor byvoorbeeld selfdegeslagverbintenisse, binne ons amptelike kerkordelike bestel, by mekaar ’n tuiste kan vind al deel hulle nie dieselfde geografiese streek nie.”

Steeds deel van die NG Kerk

Die buitengewone sinodesitting in die Vrystaat was een van twee sulke sittings wat in dié streek gehou is om kerkskeuring af te weer. Verskille in die NG Kerk spruit veral uit die 2019 en 2023 Algemene Sinode-besluite oor selfdegeslagverbintenisse. By beide geleenthede het afgevaardigdes besluit dat daar ruimte moet wees “vir kerkrade en predikante wat hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig, asook vir hulle wat nie hulle weg daartoe oopsien nie.”

Die ring is steeds deel van die NG Kerk, maar noem ’n uiteenlopende reeks sake waaroor hulle verskil met beide die Vrystaatse en die Algemene Sinode van die NG Kerk.

Die nuwe ring se leiers nooi ander uit om by hulle aan te sluit. Hulle voeg by: “Omdat die kategoriale ring op teologiese gronde berus, is dit belangrik dat die gemeentes wat so ’n skuif oorweeg op dieselfde bladsy is met die teologiese inhoud van ons gespreksraamwerk. Dit is ’n gespreksdokument en is nog nie afgehandel nie. Bykomende gemeentes sal deel vorm van die inhoud van die dokument.”

LEES OOK: Vrystaat Sinode: Nabetragting van ’n afgevaardigde: ‘Kompromie skep ruimte terwyl ons verder leer,’ sê leraar oor Vrystaat se versoek rondom verbintenisse by afgelope sinodesitting

Dié voorlopige dokument van 14 bladsye gee wel aanduiding oor dié ring se standpunt oor sake soos onder meer selfdegeslagverbintenisse en die duiwel, twee onderwerpe wat die afgelope dekades dikwels as funksie van Skrifgebruik in die NG Kerk debatteer word.

“In soverre as wat daar erkenning gegee wil word vir (selfdegeslagverbintenisse), buite die huwelik om, is dit die ring se beleid dat geen erkentenis, buite die tradisionele huwelik tussen ’n man en ’n vrou, uit die Skrif geregverdig kan word nie. Dus is sulke verbintenisse on-Skriftuurlik en ’n gruwel in God se oë aangesien dit alles vernietig soos God dit geskape het.” Die dokument voeg by oor “Geestelike oorlogvoering”: “Ons glo in die fisiese bestaan van die duiwel en dat sy strategie is om die kerk van Christus te mislei en te vernietig”.

‘Nie noodwendig ideaal of permanent’

Op die vraag hoe lidmate in die breër NG Kerk die presedent wat nou geskep is, moet verstaan, het Lubbe gesê die “vestiging van ’n teologies-kategoriale ring is nie noodwendig die ideaal òf ’n permanente reëling nie; ons het dit in die afgelope maande ook ervaar toe hierdie betrokke gemeentes in gesprekke met hulle vorige ringe en buurgemeentes was en hulle besluit om na só ’n ring te verskuif, moes verduidelik. Daar ís vrae, en daar ís persepsies van mekaar en pyne oor sulke verskuiwings, maar vir nóú is dit nodig dat lidmate die vryheid van hulle gewete en assosiasie met mekaar kan deel en dit in vrede ook aan ander kan gun, binne die NG Kerk Vrystaat. Ons sal dit volgende jaar by ons volgende sinode weer evalueer.”

LEES OOK: Buitengewone sinode: Vrystaters stem vir eenheid ten koste van bevestiging van verbintenisse

Oor die vraag of hy saam stem met die nuwe ring se verwysing na twee strome binne die NG Kerk, het Lubbe gesê: “Daar is sekerlik ’n sterk groepering van lidmate en leraars in die Vrystaat wat hulleself ‘behoudend’ sal noem, maar of daar ’n noemenswaardige ‘vrydenkende’ of ‘vrysinnige stroom’ in die NG Kerk Vrystaat is, betwyfel ek sterk. Die oorgrote getal gemeentes, leraars en lidmate in die Vrystaat sal hulleself eerder in ’n gematigde middelgrond tuisvind, soos verlede jaar ook in die besluite van die buitengewone sinode duidelik geword het – besluite waarin ons ons uitdruklik verbind het aan die Skrif, as Woord van God; aan ons gereformeerde belydenis oor Christus en sy kerk, en aan ’n bepaalde siening van die huwelik en seksuele etiek. In plaas van om mekaar te bly veroordeel en in allerlei strydpunte te verval, het ons gekies om met wedersydse respek vir mekaar ruimte te bied en ook in die wyse waarop ons ons verskille hanteer, ’n Christelike getuienis te probeer lewer. Ons is regtig nie só ’n groot kerkverband in die Vrystaat (149 gemeentes, 147 leraars, ± 65 000 lidmate) dat ons verdelings wat net nóg seer bring, kan bekostig nie. Ons roeping – ‘om lig in die donkerte te wees; vir God, mekaar en die wêreld’ – verg ’n sterker eenheid en elke gemeente met húlle bediening in húlle konteks, is daarin van belang. Laat ons mekaar daarin ondersteun,” het Lubbe gesê.

Lees ’n dokument verskaf deur die skriba van die Teologies-Kategoriale Ring van die Vrystaat hieronder. – Red.


Ring stigting artikel

Kommentaar

Jean Oosthuizen op Facebook

Die valse eenheid in die NG Kerk het ‘n nuwe laagtepunt bereik.

Sogenaamde eenheid in die NG Kerk is besig om ‘n al hoe groter klug te word. Mens kan slegs bymekaar hou wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort. Die verskillende teologiese strome in die NG Kerk is lankal so groot dat dit nie meer saam in een kerk hoort nie.

Die jongste sage in die NG Kerk van die Vrystaat is nie net ’n klug nie. Dit is ook skynheilig. Wat dit vererger, is dat die kerk se leiers baie goed weet dis geen eenheid nie. Hulle probeer dit as diversiteit aan die lidmate verkoop maar weet alte goed hulle jok vir die lidmate. Net soos wat die NG Kerk al dikwels in die verlede gelieg het sonder om te blik of bloos, wil hulle nou hierdie klug met allerhande woordgimnastiek as kerkeenheid voorhou. Dit is om die minste te sê skynheilig.

Die berig in Kerkbode van 26 Julie 2025 oor die stigting van die Teologies-Kategoriale Ring (wat ‘n rare benaming is dit nie) van die Vrystaat deur NG gemeentes Harrismith, Kroonstad en Parys-Suid dui op ‘n poging om ‘n “teenvoeter” teen “liberale teologie” in die NG Kerk te skep.

Hierdie Ring van die Vrystaat is nie ‘n teken van eenheid nie. Dit is ‘n bewys dat die NG Kerk se eenheid ‘n klug geword het. Die onoorbrugbare verskille tussen behoudende en progressiewe teologieë, soos uitgedruk in die ring se gespreksdokument en die Algemene Sinode se besluite, toon dat die kerk nie meer ‘n gedeelde teologiese grondslag het nie.

Die ring se vorming is ‘n desperate poging om sogenaamde behoudende gemeentes binne die NG Kerk te hou, maar dit onderstreep eerder die kerk se onvermoë om werklike eenheid te handhaaf.

Soos die NG Kerk voortstrompel met kompromieë en parallelle strukture, word dit duidelik dat die ideaal van ‘n verenigde kerkverband slegs in naam bestaan. Die werklikheid is een van verdeeldheid en vervreemding.

Die nuwe ring onder leiding van ds. Ulrich Ohlhoff (voorsitter) en ds. Joe Muller (skriba), verteenwoordig ‘n eng behoudende reaksie teen ‘n sogenaamde “liberale verstaan van die Skrif” veral met betrekking tot die 2019- en 2023-besluite oor selfdegeslagverbintenisse.

Die ring se voorlopige gespreksdokument verklaar dat sulke verbintenisse “on-Skriftuurlik” en “’n gruwel in God se oë” is, en beklemtoon ‘n geloof in die “fisiese bestaan van die duiwel” en “geestelike oorlogvoering”. Hierdie standpunte staan in skrille kontras met die Algemene Sinode se besluite, wat ruimte maak vir diverse interpretasies oor selfdegeslagverbintenisse. Dit is so ver verwyder van die wêreld waarin ons staan dit kon net sowel uit die Middeleeue kom.

So raak die NG Kerk al hoe meer ‘n kerk sonder enige beginsels wat rigtingloos ronddobber en valse eenheid wil hê ter wille van die geld, die geboue en die skyn.

Hierdie ontwikkeling weerspieël ‘n fundamentele breuk in die NG Kerk se teologiese identiteit. Die ring se eksplisiete doel om ‘n “teenvoeter” te wees teen “liberale teologie” impliseer dat die kerk se amptelike beleid, wat diversiteit toelaat, vir sommige gemeentes onaanvaarbaar is.

Jan Lubbe, moderator van die Algemene Sinode, erken die ring se vorming as ‘n tydelike oplossing om kerkskeuring te voorkom, maar sy kommentaar dat dit “nie noodwendig ideaal of permanent” is nie, verraai die klug van die NG Kerk se sogenaamde eenheid. Ons weet mos goed daar is geen omdraaikans nie Jan! Soos ‘n Cyril Ramaphosa die kiesers probeer bluf oor die eenheid in die ANC probeer Lubbe en sy span NG-lidmate bluf oor eenheid in die NG Kerk.

Lubbe se poging om die ring uit te beeld as ‘n manier om “vryheid van gewete” te respekteer, is ‘n futiele diplomatiese systappie om spanning te verminder, maar dit ontmasker die realiteit: die kerk is so verdeeld dat gemeentes nuwe strukture skep om hul teologie uit te leef.

Lubbe se beklemtoning van ‘n “gematigde middelgrond” ignoreer die polarisasie wat die ring se stigting self bewys. Die ring se leiers nooi ander gemeentes om aan te sluit, wat die potensiaal vir verdere verdeeldheid vergroot.

Die berig verwys na twee buitengewone sinodesittings in die Vrystaat om skeuring af te weer, maar die skepping van die ring is ironies ‘n stap in die rigting van skeuring onder die dekmantel van eenheid.

Die ring se teologiese gespreksdokument dui verder op ‘n rigiede standpunt wat weinig ruimte laat vir dialoog met gemeentes wat meer inklusiewe sienings ondersteun. Dit staan in kontras met die Algemene Sinode se 2019- en 2023-besluite, wat probeer het om ‘n kompromie te bereik deur beide behoudende en progressiewe standpunte te akkommodeer.

Die ring se weiering om hierdie kompromie te aanvaar, toon dat die NG Kerk se eenheid bloot ‘n administratiewe fasade is, met min gedeelde waardes om gemeentes saam te bind.

Die NG Kerk se historiese klem op eenheid, soos uitgedruk in Lubbe se verwysing na ‘n “Christelike getuienis” deur wedersydse respek, word ondermyn deur die realiteit van onversoenbare teologiese standpunte. Die ring se taal, wat selfdegeslagverbintenisse as ‘n “gruwel” bestempel en die duiwel se bestaan beklemtoon, is nie bloot ’n verskil in interpretasie nie, maar ‘n verwerping van die kerk se breër beleid.

Hierdie standpunte is so uiteenlopend dat dit onmoontlik is om van “eenheid” in enige betekenisvolle sin te praat.

Die ring se uitnodiging aan ander gemeentes om aan te sluit, kan lei tot ‘n domino-effek, waar meer gemeentes hul eie teologiese ringe vorm, wat die kerk verder fragmenteer. Lubbe se hoop dat die ring tydelik is en volgende jaar geëvalueer sal word, ignoreer die dieper vertrouensbreuk tussen behoudende en progressiewe strome.

Die ring se standpunte, veral oor selfdegeslagverbintenisse, is so absoluut dat dit weinig ruimte laat vir versoening met die breër NG Kerk, wat ’n formele skeuring in die toekoms onafwendbaar maak.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui