Koinonia Sinode het geen locus standi

Deur Daniel Louw

31 Julie 2025

Definisie

Locus standi is ‘n Latynse term wat “plek van stand” beteken. Dit verwys na die wettige reg van ‘n party om ‘n regsgeding aanhangig te maak of voor ‘n hof te verskyn. Dit beteken in wese om voldoende belang in ‘n saak te hê om in ‘n regsgeding aangehoor te word. Sonder behoorlike locus standi sal ‘n hof nie die meriete van ‘n saak oorweeg nie. Locus standi verseker dat slegs diegene met ‘n wettige belang in ‘n geskil dit voor ‘n hof kan bring.

Agtergrond

Tydens ‘n gesprek tussen Kairos Netwerk en die ASM dagbestuur op 28 Junie 2022 het die ASM dagbestuur gesê dat Kairos Netwerk kerkordelik geen locus standi het om met die Algemene Sinode of haar kommissies in gesprek te tree nie. Dit mag volgens hulle net geskied via die bestaande kerklike kanale: Kerkraad → Streeksinode → Algemene Sinode.

Let wel, hierdie gesprek het plaasgevind na twee vorige gesprekke met die ASM dagbestuur/afgevaardigdes.

Ook in ‘n Koinonia Sinode Nuusbrief 1 Jan 2025 word die volgende geskryf:

As lojale lidmate het KN probeer om gesprek met die ASM te voer oor die krisis in die kerk. Op advies van die ATR het die ASM hierdie gesprekke gestaak. Die rede wat gegee was, is dat KN (volgens die ATR) geen locus standi het om met die ASM te praat nie.

Nog verwysings na “locus standi”:

Het Koinonia Sinode locus standi?

As leek kan ek nie fout vind met die feit dat Koinonia Sinode (voorheen Kairos Netwerk) geen locus standi het nie. Die Koinonia Sinode is nie ‘n amptelike of kerkordelike struktuur in die NG Kerk nie.

Indien Koinonia Sinode ‘n invloed wil uitoefen op besluite by die Algemene Sinode, is daar ‘n amptelike proses wat gevolg moet word: Lede van Koinonia Sinode moet die streeksinodes bywoon en hoop dat hulle gekies word as afgevaardigdes na die Algemene Sinode.

Indien dit sou gebeur dat slegs ‘n klein hoeveelheid van Koinonia Sinode se lede gekies word as afgevaardigdes na die Algemene Sinode, dan is daar niks wat daaraan gedoen kan word nie. Dan moet Koinonia Sinode aanvaar dat hulle te min is om ‘n invloed uit te oefen op die Algemene Sinode.

Vergelyking

‘n Mens sou dit kon vergelyk die volgende scenario:

10000 Suid-Afrikaners besluit om ‘n groep te vorm wat in opstand kom teen die korrupsie van die Suid-Afrikaanse regering. Hierdie groep dring nou daarop aan dat hulle verteenwoordigers die Suid-Afrikaanse parlement gaan toespreek om hulle opinie te stel.

Die parlement sou kon besluit om hierdie groep se verteenwoordigers aan te hoor, maar hulle sou in elk geval nie kon stem nie. Of die parlement sou kon besluit om nie die verteenwoordigers aan te hoor nie, selfs al is al 10000 lede van hierdie groep Suid-Afrikaanse burgers.

Indien hierdie groep van 10000 hulle standpunt by die parlement wou stel, moet hulle ‘n politieke party stig en groot genoeg wees sodat hulle leiers sitting op die parlement verkry. Eers dan het hierdie groep locus standi.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui