Wat van liefdevolle, gay verhoudings?

Immanuel Van Tonder (NG predikant) gee sy opinie oor die tekste in die Bybel oor homoseksualiteit in die Youtube video, ʼn Perspektief op die tekste oor homoseksualiteit.

Inhoud

Immanuel se argument

Hier volg Immanuel se argument:

Mense gebruik graag die volgende vyf tekste om teen homoseksualiteit te argumenteer:

  1. Levitikus 18:22: (22)Jy mag nie ʼn homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ʼn afstootlike sonde.
  2. Levitikus 20:13: Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ʼn afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.
  3. Romeine 1:27: Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.
  4. 1 Korintiërs 6:9-10: (9)Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen (10)of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.
  5. 1 Timoteus 1:9-10: (9)’n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, (10)ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is.

Immanuel redeneer dat indien mense bogenoemde wil gebruik, wat dan van tatoeëermerke en ander dinge:

  • Levitikus 19:19: Julle moet my voorskrifte gehoorsaam. Moenie verskillende soorte diere kruis of verskillende soorte saad in een land saai of ʼn kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie.
  • Levitikus 19:27: Julle mag nie heidense rougebruike navolg deur die hare voor die ore en die wangbaard te knip of deur snye en tatoeëermerke op julle liggame te maak nie. Ek is die Here.
  • 1 Timoteus 2: (9)Van die vroue wil ek hê dat hulle ook in hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees. Hulle versiering moenie haarkapsels en goud of pêrels of duur klere wees nie, (10)maar goeie werke, soos dit vroue betaam wat openlik bely dat hulle God dien. (11)ʼn Vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer.
  • 1 Korintiërs 11: (5)Maar elke vrou wat bid of profeteer sonder iets op haar kop, doen haar hoof, haar man, oneer aan, want dan is sy net soos ʼn vrou wie se hare afgeskeer is. (6)As ʼn vrou nie iets op haar kop wil sit nie, kan sy ewe goed haar hare laat afsny. Maar aangesien dit ʼn skande is vir ʼn vrou om haar hare te laat afsny of afskeer, moet sy iets op haar kop sit.

Immanuel interpreteer die vyf tekste soos volg:

Levitikus 18 en 20 gaan oor ʼn okkultiese konteks. Dit gaan oor homoseksuele tempelprostitusie.

Romeine 1:27 is van toepassing op mense wat God radikaal verag. Toe Paulus daar geskryf het, het hy nie van ʼn liefdevolle homoseksuele verhouding gepraat nie.

1 Korintiërs 6 en 1 Timoteus 1 is van toepassing op pederastrie en pedofilie. Pederastrie is wanneer ʼn ouer man ʼn jonger seun aanneem en die seun in die wêreld van seksualiteit inlei. Dit word vergelyk met moordenaars, ontugtiges, ontvoerders, leuenaars. Dus, ernstige oortredings.

Immanuel beweer dat nie een van hierdie tekste verwys na ʼn vaste, waardegedrewe, liefdevolle verhouding nie.

Ons Godsbeeld speel ʼn groot rol. God is liefde, betrokke by Sy mense, wat broosheid omhels. Toe Hy op aarde was het Hy mense ingetrek wat uit die samelewing geskuif was.

Hy sê dat hy dalk mag verkeerd wees, maar dat hy verkies om eerder na die liefde se kant toe te fouteer.

Kommentaar

Oor tatoeëermerke en ander dinge

Daar is bitter min mense wat glo dat homoseksualiteit sonde is wat ook glo dat tatoeëermerke en die ander dinge wat Immanuel genoem het ook sonde is. Die rede is nie omdat hierdie mense lelik wil wees teenoor homoseksuele mense nie, maar omdat hulle besef dat die Bybel homoseksualiteit duidelik veroordeel en die ander voorbeelde nie.

Hoe moes die Bybel dit anders stel?

Dit is altyd goed om die vraag te vra: As homoseks wel sonde was, hoe moes dit anders in die Bybel beskryf word voor mense soos Immanuel sou glo dat dit sonde is? Ek dink ons moet saamstem dat die Bybel dit nie veel duideliker kon stel as nou nie: twee keer in die Ou Testament en ʼn volle drie keer in die Nuwe Testament. Dit is duidelik dat Paulus sou glo dat homoseks in enige vorm sonde is.

Levitikus 18

Soos reeds genoem veroordeel Levitikus 18 homoseks baie duidelik en is daar geen aanduiding dat dit slegs verwys na ʼn okkultiese konteks of homoseksuele tempelprostitusie nie.

As Immanuel egter reg is, is die vraag of die ander dinge in Levitikus 18 nog enigsins op ons van toepassing is:

  • Lev 18:6 Niemand van julle mag met ʼn naby bloedverwant geslagsgemeenskap hê nie. Ek is die Here.
  • Lev 18:7 Jy mag nie jou pa die skande aandoen dat jy met jou ma gemeenskap het nie. Sy is tog immers jou ma. Jy mag nie met haar gemeenskap hê nie.
  • Lev 18:9 Jy mag nie met jou suster gemeenskap hê nie, ook nie met ʼn halfsuster aan vaderskant of aan moederskant nie, of hulle nou deel is van die gesin of nie.
  • Lev 18:21 Jy mag nie een van jou kinders wy aan Molek en só die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here.
  • Lev 18:22 Jy mag nie ʼn homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ʼn afstootlike sonde.
  • Lev 18:23 Jy mag met geen dier geslagsgemeenskap hê en jouself so besoedel nie. ʼn Vrou mag dit ook nie doen nie. Dit is iets afskuweliks.
  • Lev 18:24 Julle moet julle op geen van hierdie maniere verontreinig nie, want dit is wat die heidene gedoen het wat Ek voor julle verdryf.
  • Lev 19:3 Elkeen van julle moet eerbied hê vir sy ma en sy pa. Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam. Ek is die Here julle God.
  • Lev 19:31 Moenie hulp soek by geeste of waarsêers nie. Dit sal julle onrein maak. Ek is die Here julle God.
  • Lev 19:32 Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here.
  • Lev 19:33 Wanneer daar ʼn vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie.

Mense is baie gou om die twee dele in Levitikus af te maak as ongeldig omdat daar baie van die ou wette verval het. Let egter daarop dat feitlik AL die voorskrifte in Levitikus 18 vandag nog net so op Christene van toepassing is.

Dus is dit nie ʼn geldige redenasie om te sê omdat ons sekere van hierdie wette nie meer hoef na te kom nie, hoef ons ook nie homoseksualiteit na te kom nie.

Die Ou Testamentiese wette wat wel verval het word redelik duidelik in die Nuwe Testament genoem. Dit is dinge soos:

Homoseksualiteit is egter baie duidelik nie een van hierdie Ou Testamentiese voorskrifte wat verval het nie.

Verse in die Nuwe Testament

Die sonde van homoseksualiteit word drie keer in die Nuwe Testament bevestig (Romeine 1:27, 1 Korintiërs 6:9-10 en 1 Timoteus 1:9-10).

Hiervan sê Immanuel dat dit duidelik is dat die homoseksualteit waarvan gepraat word in 1 Korintiërs 6:9-10 en 1 Timoteus 1:9-10 na onsedelike homoseksualiteit verwys, nie na homoseksualiteit in ʼn verhouding waar twee persone in ʼn liefdevolle verhouding staan nie.

Ek wil hom soos volg antwoord:

Jason Wallace van die Christ Presbyterian Church in Magna, Utah sê die volgende in sy debat met Curtis Price van First Baptist Church in Salt Lake City, Utah (Can Someone Be Gay and Christian? A Debate (21m18s)):

In 1 Korintiërs 5 word vertel van ʼn man en sy stiefma wat as man en vrou saamgeleef het. Paulus het dit ten sterkste veroordeel (na aanleiding van Levitikus 18:7-8) en gevra hoekom die gemeente nie hierdie twee persone uit hulle kring verwyder het nie. ʼn Mens kan jou indink dat hierdie man en vrou en selfs mense in die gemeente met argumente sou kom dat hulle dan lief is vir mekaar en dat hulle getrou is aan mekaar. Dieselfde tipe argumente wat progays vandag gebruik. Paulus sou nie dat hierdie tipe argumente sy standpunt verander het nie.

Verder is daar baie goeie aanduidings dat daar wel liefdevolle homoseksuele verhoudings bestaan het in Paulus se tyd. Kyk Was daar liefdevolle, homoseksuele verhoudings in Bybelse tye? Daarom kan ‘n mens aflei dat indien Paulus wel gedink het dat God liefdevolle homoseksuele verhoudings goedgekeur het, hy dit pertinent sou gesê het.

Ons Godsbeeld

Immanuel sê dat ons Godsbeeld ʼn rol speel. Hy is absoluut reg. As jy glo dat Jesus net liefde is en niemand vir niks oordeel nie, dan gaan jy verseker ook glo dat Jesus sal verstaan as mense in liefdevolle, gay verhoudings wil staan. My vraag aan so ʼn persoon is altyd of hy ook glo dat God mense hel toe stuur?

As jy egter glo dat Jesus ook baie ferm optree en ernstig is oor sonde en dwaallering, gaan jy versigtig wees om die Bybel te verdraai om te probeer om homoseksualiteit met die Bybel te versoen.

Wat van pedofilie?

Dit is baie ironies dat die Bybel hoegenaamd niks direk oor pedofilie sê nie. Daar is natuurlik baie beginsels wat in die Bybel gegee word waaruit ’n mens aflei dat pedofilie verkeerd is, maar dit sou baie makliker wees om ruimte vir pedofilie te maak as vir homoseksualiteit.

Dit is egter ironies dat mense soos Immanuel gou is om pedofilie te veroordeel, maar ruimte wil maak vir homoseksualiteit, wat baie duidelik en sterk veroordeel word in die Bybel. Dit wys dat hierdie mense hulleself nie deur die Bybel laat lei nie.

In die video Selfdegeslagverbintenisse. ’n Nuwe Godsdiens? (6m55s) lewer Ferdie Mulder kommentaar op Immanuel van Tonder se standpunt.

4 thoughts on “Wat van liefdevolle, gay verhoudings?”

  1. Wat is dit wat Immanuel nie van duidelike Afrikaans verstaan nie?

    Levitikus 19:27: Julle mag nie heidense rougebruike navolg deur die hare voor die ore en die wangbaard te knip of deur snye en tatoeëermerke op julle liggame te maak nie.
    Dit is tog so duidelik dat die heidense rougebruik afgewys word – nie hare knip of tatoeër per se nie.
    Net so is die meng van twee soorte stowwe en twee soorte saad ’n heidense gebruik wat vandag nog toegepas word en ook deel vorm van die Yin en Yang lering. Hindoes gebruik steeds gewyde doeke met twee kleure – wit en swart of rooi en swart met presies ewe veel van elke kleur in, gewoonlik blokkies. die kleure mag ook nie oorvleuel nie – net suiwer kleure word toegelaat. Dit is om die balans te handhaaf.
    Levitikus 19:19: Julle moet my voorskrifte gehoorsaam. Moenie verskillende soorte diere kruis of verskillende soorte saad in een land saai of ʼn kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie.

  2. Indien Immanuel van Tonder reg sou wees, beteken dit tog dat daar in die tyd van die skrywers reeds sulke “liefdevolle” selfdegeslagverhoudings bestaan het. Daarom sou ek dus kon verwag dat die Woord ook aanbevelings sou hê rondom hierdie verhoudings sodat dit eerbaar en heilig uitgeleef kon word, en nie slegs vir een man en een vrou nie. Die verhouding tussen ‘n man en vrou is geskoei op die gesin en simbolies tussen ons en Christus. Dieselfde eienskappe kan sekerlik nie van toepassing wees tussen mense van dieselfde geslag nie en daarom sou die Woord dit dus ook moes omskryf om in te pas by God se beeld.

  3. Wat die Here se afkeur van homoseksuele gedrag beklemtoon, is die feit dat Hy daarna verwys as ‘n “afstootlike sonde” (1983-vertaling) en in die 1953 Bybel as “Dit is ‘n gruwel”. Hierdie uitdrukkings getuig van God se absolute aversie aan hierdie sondige praktyk. Dit kom ook by die mens se seksuele omgang met diere voor. Getuig dit nie daarvan dat dit vir Hom absoluut onaanvaarbaar is nie?

    1. Die punt is dat dit sterk teen die skeppingsorde gaan. ‘Man en Vrou’ en nie iets soos “Man en Man” of “Vrou en Vrou”. Dit is so sterk teen die skeppingsorde gerig, dat meeste heidense volke ook ‘n afkeur teen homoseksualiteit gehad het. Dis net in die later stadiums van ‘n kultuur dat dit begin ‘verdra’ word deur die ander. Die valse afleiding word dan gemaak: “Daar is homoseksueles in hoogkulture”, dus moet dit mos ‘OK’ wees. Wat my net opgeval het, is dat homoseksualiteit dikwels met ‘n duidelike narsisisme gepaard gaan. Daar is ook ander negatiewe eienskappe wat verband met dit hou. So dis nie oor “Ag, hy hou maar net van ‘n ander Man” nie. Dis nog ‘n bietjie meer as dit.

      Indie ‘n christen met Bybelkennis dit goedkeur, dan moet hy heelwat van die pad af wees. Die ‘Heilige Gees’ is of nie daar nie, of stil gemaak. Dis natuurlik uiters merkwaardig indien predikante of mense met teologiese agtergrond dit doen… Maar dis dan ook nie so ver af die pad nie. Mens kan maar kyk wat bv. die Talmoed alles goedkeur en dis dan die verlede 2000 jaar deur mense wat bekend was met die Moses tekste was geskryf. Lyk vir my as jy nie Christus het nie, dan gaan dinge maar verkeerd in die Vlees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui