Ring van Pretoria-Oos bevinding van ondersoekkommissie oor klag teen prof Julian Müller

*******

Bevinding van die gevolmagtigde kommissie van ondersoek van die Ring van Pretoria-Oos met betrekking tot die klag van leerdwaling teen  Professor JC (Julian) Müller.

Bevinding van die gevolmagtigde kommissie van ondersoek van die Ring van Pretoria-Oos met betrekking tot die klag van leerdwaling teen Professor JC (Julian) Müller.

(K.O. 2004: Artikel 63.8.9)

1 Inleiding:

Die Kuratorium het op grond van die Kerkorde (2004) Reglement 14, par 2.2.2.3.1, Artikel 62.3, 63.1.2-4, die klag van leerdwaling wat op 6 Augustus 2005 deur die N.G. Gemeente Middelburg-Wes en 10 Augustus 2005 deur ds Etienne Maritz ingedien is, asook gerugte van leerdwaling teen Prof Julian Müller, op 29 Augustus 2005 na die Ring van Pretoria-Oos vir ondersoek verwys.

Kragtens Artikel 63.1.1 en 63.1.4 is die volgende persone op 19 September 2005 aangestel om, as gevolmagtigde ondersoekkommissie (hierna die kommissie genoem) van die Ring van Pretoria, die saak teen prof Julian Müller te ondersoek: – dr AK le Roux (Pretoria) – voorsitter, dr NE Lamprecht (Pretoria-Oos) – skriba, dr DP Veldsman (Pretoria), ds DSR Du Toit (Waterkloof) en ds C Jansen van Vuuren (Sesmylspruit).

Die kommissie het op 14 Oktober 2005 die stukke ter tafel geneem, en nadat daar aan artikel 63.3.1.1 en 63.3.1.2 van die Kerkorde 2004 voldoen is, is voortgegaan om ook uitvoering te gee aan Artikel 63 van die Kerkorde.

Gedurende die ondersoekproses het die kommissie ook skriftelik op 26 Januarie 2006 opdrag van die Ringskommissie van Pretoria-Oos ontvang om klagtes van leerdwaling wat op 29 November 2005 deur mnr Ferdie Mulder en op 13 Februarie 2006 deur dr Jan Grey ingedien is, te ondersoek. Hierdie klagtes is as ontvanklik beskou omdat dit reeds as gerug deel van die stukke was wat deur die kuratorium aan die ring deurgestuur is en omdat dit in wese ooreengestem het met die klag soos ingedien deur N.G. Gemeente Middelburg-Wes en ds Maritz. Die gerugte van leerdwaling wat van die kuratorium ontvang is, het in wese ooreengekom met die klag wat teen Prof Müller ingebring is. Daar was geen wesenlike nuwe klagtes of getuienis wat aangebied is in hierdie stukke nie. Die kommissie het daarom volstaan om hierdie toegevoegde klagtes op grondslag van die klagtes wat reeds ontvang was, te hanteer.

2 Bevinding prof JC Müller:

Die klag

Professor Julian Müller is ontrou aan die PLEGTIGE LEGITIMASIE-VERKLARING VAN DIE NG KERK asook aan die Gereformeerde leer en belydenisskrifte van die NG Kerk, naamlik die Drie Formuliere van Eenheid.

Om meer spesifieke inhoud te gee aan die klag, soos hierbo geformuleer, het die klaers dit ingedeel in vier onderafdelings en ten opsigte van elk ‘n lys met bronverwysings ingedien wat hulle as toepaslike bewysstukke ag. Die vier onderafdelings lui soos volg:

2.1 Prof Müller se siening van Jesus Christus as enigste Middelaar is in stryd met een of meer van die Drie Formuliere van Eenheid. Die tersaaklike bronne wat as bewysstukke geag word behels: *

  • Muller J 2000. Godsdienste praat Unieke Jesus-storie van God. Godsdiens Aktueel. Beeld. http://152.111.1.251/argief/berigte/ beeld/2000/03/13/10/ 7.html;
  • Muller J. GOD SE UNIEKE JESUS-STORIE. www.julianmuller.co.za;
  • Muller J 2002. Die eklips en ‘n nuwe spiritualiteit. GODSDIENSAKTUEEL. BEELD. 09/12/2002. www.julianmuller.co.za;
  • Muller J 2003. DIE NUWE HERVORMING EN SPIRITUALITEIT (Referaat gelewer by Teologiese Dag, opening van Fakulteit, Pretoria. 3 Feb. 2003) www.julianmuller.co.za;
  • Muller J 2003. HERVORMING EN SPIRITUALITEIT. Gespreksgeleentheid: Skuilkrans, 20 Mei 2003. www.julianmuller.co.za;
  • Muller J. Ons en die ander godsdienste. Kerkbode. www.julianmuller.co.za;
  • Muller J. PREEK: JESUS, DIE WEG, DIE WAARHEID EN DIE LEWE JOH. 14:6. www.julianmuller.co.za:
  • Ferdie Mulder in gesprek met prof Muller: Oktober 2003, Universiteit van Pretoria, Teologie gebou, Tweede vloer, portaal, direk na die PTH 254 vraestel (p 23 in my “kommentaar kuratorium uitnodiging”);
  • Muller J 2004. “Spangenberg se bedanking lok wye reaksie”: Monday, June 14, 2004 http://www.christene.co.za/template.asp?content=news/newsinclude/detailsinc.asp&nid=2036;
  • Muller J 005. Noodsaaklike Uitgangspunte: Noodsaaklike vertrekpunte met die oog op die teologiese opleiding van die NG Kerk. Teologiese Dag, Universiteitsoord. Februarie 2005. www.julianmuller.co.za;
  • Muller J 2006. OPSTANDING. Lux Verbi.BM. Wellington. P 1-128

2.2 Prof Müller se siening oor die opstanding van Jesus Christus is in stryd met een of meer van die Drie Formuliere van Eenheid. Hiervoor is die volgende bronverwysings verskaf: *

2.3 Prof Müller se siening van die Satan en die Bose is in stryd met een of meer van die Drie Formuliere van Eenheid. Die bronverwysings ter ondersteuning van dié klag behels die volgende: *

2.4 Prof Müller se siening van Jesus se maagdelike geboorte is in stryd met een of meer van die Drie Formuliere van Eenheid. Bronverwysings wat deur die klaers verskaf is om dié klag te ondersteun, behels die volgende: *

Muller J 2000. PROTESTANTS IS OM IN JESUS TE GLO. http://www.pvr.co.za/preke/Julian29Okt.htm;
Muller J 2003. DIE NUWE HERVORMING EN SPIRITUALITEIT (Referaat gelewer by Teologiese Dag, opening van Fakulteit, Pretoria. 3 Feb. 2003) www.julianmuller.co.za;
Muller J 2003. ‘N SPIRITUALITEITSKONVENT? GODSDIENSAKTUEEL. Beeld 10 Februarie 2003. www.julianmuller.co.za;
Muller J 2003. HERVORMING EN SPIRITUALITEIT. 20/05/2003. Universiteit van Pretoria. www.julianmuller.co.za;
Muller J 2004. “Spangenberg se bedanking lok wye reaksie”: Monday, June 14, 2004 http://www.christene.co.za/template.asp?content=news/newsinclude/detailsinc.asp&nid=2036;
Muller J 2006. OPSTANDING. Lux Verbi.BM. Wellington. P 1-128

* [Bronverwysings is behou soos die klaers dit aangedui het. Al die bronne is nie as bewysstukke by die kommissie ingedien nie.]

3 Die ondersoekproses

Die ondersoek het plaasgevind in Pretoria op 10 Mei 2006 en 18 Mei 2006.

Die volgende persone was teenwoordig:

  • Die Kommisielede: dr AK le Roux (voorsitter), dr NE Lamprecht, dr DP Veldsman,ds DSR Du Toit en ds C Jansen van Vuuren.
  • Die aangeklaagde, prof JC Müller.
  • Die klaers, mnr F Mulder, ds E Maritz, dr J Grey, en die twee verteenwoordigers van die kerkraad van Middelbug-Wes, dr K Visser en mnr J Pretorius.
  • Prof Müller is bygestaan deur dr André Bartlett, en mnr Mulder is bygestaan deur dr Lourens Erasmus.
  • In die bevinding wat volg, sal ons na die aangeklaagde verwys as prof Müller en, waar nodig, die naam van ‘n bepaalde klaer gebruik.

Die klag is deur die klaers gestel
In die stel van die klag het die onderskeie klaers geleentheid ontvang om die klag ooreenkomstig die vier aangeduide onderafdelings te substansieer.Die enigste klaer wat omvattend na die bogenoemde bronne verwys (Sien 2.1 tot 2.4.) en daarop gesteun het, was mnr Mulder. Hy het ook na gesprekke wat tussen hom en prof Müller plaasgevind het, verwys.Die verteenwoordigers van die N.G. Gemeente Middelburg-Wes het geen poging aangewend om enige klag te substansieer nie. Hulle het bloot in die algemeen betoë gelewer oor die kerk, oor lidmate wat nie geloofsekerheid het nie, die suiwer verkondiging van die Evangelie en probleme rondom Skrifgesag.Die klaers, ds Maritz en dr Grey, het in hoofsaak by mnr Mulder se betoog aangesluit. Hulle het slegs na enkele van prof Müller se beweerde uitlatings verwys en ook eerder in die algemeen betoog as om die klag te substansieer.Op die klag en onderafdelings 2.1 en 2.2 het prof Müller breedvoerig skriftelik en mondelings geantwoord en die bronverwysings wat as bewyse teen hom gehou word, bespreek.

Op onderafdelings 2.3 en 2.4 het prof Müller nie geantwoord nie, en het versoek dat dit nie ter tafel kom nie. Hy het aangetoon dat hy in geen een van die dokumente wat ter stawing aangebied is, hom oor die bose of oor die maagdelike geboorte uitgespreek het nie. Hy het aangevoer dat die terloopse noem van die sake nie beteken dat hy daaroor ‘n standpunt uitgespreek het nie. Wat dié sake betref, bevestig hy egter dat hy die Legitimasieverklaring en daarom ook die Formuliere van Eenheid onderskryf.

Daar is deur die kommissie besluit dat onderafdelings 2.3 en 2.4 wel deur die klaers gestel mag word.

4 Bevinding van die kommissie

Dit was vir die kommissie van meet af aan duidelik dat die aanklag en prof Müller se verweer in ‘n bepaalde spanningsveld staan, naamlik dié tussen “tradisie” – wat een klaer (ds Maritz) “ou, vaste waarhede” noem – en krities-teologiese (geloofs)verantwoording.

Daarmee word bedoel dat die klaers die “tradisie” verteenwoordig, terwyl prof Müller se verweer in die teken van “krities-teologiese verantwoording” staan. Dit spreek dan ook vanself dat die genoemde spanningsveld ‘n breedlopende werklikheid is in die lewe van die kerk en in die harte van gelowiges en dat die kommissie daarop ag moet slaan.

Die kommissie het in die aanhoor en bestudering van die klagte en die verweer, deurlopend rekening gehou met die besluite van die Algemene Sinodes (1998, 2000,2002) rakende Die gesag van die Skrif en die Belydenisskrifte as historiese dokumente.

Die kommissie het van die standpunt uitgegaan dat die Algemene Sinode se formulering van besluite oor bogenoemde twee sake die gepaste toetssteen is om die meriete van die klag teen die aangeklaagde te ontleed en tot ‘n besluit te kom.

Selfs ‘n oorsigtelike “lesing” van die Algemene Sinode se besluite, waarna hierbo verwys is, toon dat die Sinode hom geroepe gevoel het om in die tyd waarin ons leef die weg van openhartige kritiese debat oor geloofsake te volg (Sien byvoorbeeld besluite 4 en 8 in Sinodale besluiteregister (www.nedgerefkerk.org) en ook besluite 3 en 4 van die Algemene Sinode van 1998, Handelinge, p. 517).

Bloot hieraan geoordeel het die kommissie eenparig geoordeel dat prof Müller – in dit wat die klaers hom ten laste lê – binne die gees en letter van die tersaaklike Sinodale besluite opgetree het.

Die kommissie is van oordeel dat prof Müller in sy taak as teoloog hom kan beroep op die uitsprake van die Algemene Sinode. Dit is duidelik dat die Sinode in sy uitsprake oor skrifgesag en belydenisskrifte ‘n brug bou tussen “die tradisie” en “kritiese geloofsverantwoording.” Die kommissie is van oordeel dat dit presies is wat prof Müller probeer doen. Prof Müller sien sy eie teologiese posisie, wat hy as “post-fundamenteel” beskryf, as een waarin sowel fundamentalistiese teologie as relativistiese teologie vermy word.

Wat die oorhoofse klag betref, het prof Müller ter inleiding van sy verweer soos volg verklaar:
“Ek verklaar dat ek nog steeds die Legitimasieverklaring soos deur my afgelê en onderteken (November 1970), onderskryf. Daarin verklaar ek dat die leer soos vervat in die Drie Formuliere van Eenheid ooreenkom net die Woord van God. Ek staan steeds by die verklaring.”

In die lig van die getuienis en die argument in dié verband het die kommissie eenparig tot die volgende besluit gekom:

“Die kommissie bevind Professor Müller onskuldig op die klag dat hy ontrou is aan die plegtige legitimasie-verklaring van die NG kerk en aan die Gereformeerde leer en belydenisskrifte van die NG Kerk nl. die Drie Formuliere van Eenheid.”

In die hieropvolgende gedeelte substansieer die kommissie sy bevinding deur meer inhoudelik op die klag (en die onderafdelings) en die verweer in te gaan, en spesifiek te let op die wyse waarop die spanning tussen tradisie en krities-teologiese geloofsverantwoording aan die bod kom.

4.1 Substansiëring van besluit

4.1.1 Insake onderafdeling 2.1

Prof Müller se siening van Jesus Christus as enigste Middelaar is in stryd met een of meer van die Drie Formuliere van Eenheid.

Die substansiëring van die klag vind die klaers in ‘n aantal artikels waaruit, volgens hul interpretasie, die uniekheid van Christus onderspeel word, onder andere deurdat daar te veel ruimte geskep word vir “andersdenkendes” (buite die tradisie) se sieninge. Dit hou volgens die klaers in dat prof Müller te akkommoderend is en daardeur (gespreks)ruimte laat vir diegene wat Christus nie as enigste Verlosser van alle mense sien nie.

Prof Müller se verweer was dat die klagtes nie rekening hou met die konteks waarbinne die stellings gemaak is nie. In sommige gevalle het dit gegaan oor die dialoog tussen Christene en ander gelowe; in ander oor verskillende vorme van Christelike spiritualiteit.

Wat betref die dialoog tussen Christene en ander gelowe, oordeel die kommissie dat die klaers nie genoegsaam rekening gehou het met die konteks waarbinne prof Müller bepaalde uitsprake gemaak het nie. Wanneer hy byvoorbeeld ‘n pleidooi lewer vir meer respekvolle dialoog met ander godsdienste, en aandui dat die vertel van die verhaal van Christus ‘n beter weg is as om mense van ander gelowe op argumentatiewe wyse met leerstukke te konfronteer, interpreteer die klaers dit as ‘n prysgawe van die uniekheid van Christus, of ten minste ‘n onderspeling van sy middelaarskap.

Prof Müller het by herhaling getoon dat dié soort uitsprake gemaak is binne die konteks van interreligieuse gesprek, en dat dit sy opvatting is dat die gesprek- en getuienispad ‘n beter opsie is as konfronterende debat.

Wat betref die gesprek met Christene wat ander standpunte huldig (soos verteenwoordigers van die “Nuwe Hervorming”), kan volstaan word met een voorbeeld uit die aantal bronne wat aangebied word: Die klaers is van oortuiging dat prof Müller in sy toespraak by die Opening van die Fakulteit 2003 die middelaarskap van Christus in gedrang bring. Die kommissie oordeel egter dat sy pleidooi dat die kerk in gesprek moet bly met die verteenwoordigers van die Nuwe Hervorming, op geen wyse gekonstrueer kan word as ‘n aantasting van die uniekheid van Christus en sy middelaarskap nie.

Dit is ook vir die kommissie duidelik dat die klag teen prof. Müller in ruim mate berus op ‘n gebrek aan begrip van die konvensies waarvolgens teologiese debat gevoer word en erkende beginsels van die retoriek.

Wanneer hy byvoorbeeld teoloë (wat volgens die klaers onregsinnig is/dwaalleer verkondig) in sy artikels aanhaal om ‘n bepaalde punt in sy argument te ondersteun, toe te lig of uit te brei, word sonder meer afgelei dat hy dit ook eens is met ander standpunte van sulke aangehaalde teoloë.

Vir een van die klaers (mnr Mulder) impliseer sodanige aanhalings instemming van ‘n akkommoderende aard wat ten minste inhou dat die aangehaalde (onregsinnige) skrywer se teologie nie verwerp word nie.

Hierteenoor het prof Müller by herhaling aangetoon dat sy instemming met bepaalde uitsprake van teoloë, op geen wyse geïnterpreteer kan word dat hy met die res van hulle sienings saamstem en al hul standpunte deel nie, en dat in talle gevalle juis die teendeel waar is.

Wat dié aspek betref, is die kommissie van oordeel dat die gebruikmaking van sulke aanhalings om ‘n bepaalde punt in ‘n skrywer (in dié geval prof Müller) se artikel te maak, op geen manier die verpligting op die skrywer plaas om by te voeg met watter van die aangehaalde outeur se uitsprake hy nie saamstem nie – des te meer so wanneer dit nie die doel van die artikel is om ‘n kritiese ontleding van die aangehaalde outeur se “teologie” aan te bied nie.

‘n Verdere voorbeeld is dat die aangeklaagde se eie geloofservaring (soos wat hy dit aan die hand van Walter Brueggemann se konsepte oriëntasie, disoriëntasie, heroriëntasie verduidelik het) deur die klaers vertolk is asof die aangeklaagde se geloofservaringspad hom losgemaak het van kerklike dogma. Die kommissie is van oordeel dat dié vertolking nie geldig is nie (sien bespreking hieronder by (iii).

4.1.2 Insake onderafdeling 2.2
Prof Müller se siening oor die opstanding van Jesus Christus is in stryd met een of meer van die Drie Formuliere van Eenheid.
Hier is daar vier aspekte wat prominent figureer:

(i) Prof Müller se gebruik van die begrippe histories en metafories

Die klaers lê prof Müller ten laste dat hy die historisiteit van die opstanding betwyfel deurdat hy – na hulle mening – te veel klem lê op die metaforiese verstaansmoontlikhede.

Prof Müller het egter aangetoon dat hy in sy nadenke oor die opstanding nie ‘n keuse wil maak ten gunste van ‘n metaforiese verstaan ten koste van ‘n historiese verstaan nie. Hy sê in sy betoog dat sy uitgangspunt oor die opstanding saamgevat word in die woorde: “Die opstanding van Christus het nie óf metaforiese óf historiese betekenis nie. Dit is én én.” (Opstanding, p10). Op ‘n vraag antwoord hy ook:” “Daar was nooit ‘n tyd wat ek dit nie geglo het nie…”

Die kommissie is van oordeel dat dié benadering – gelyktydige of naasmekaarbestaande metaforiese/historiese verstaan van die “opstanding” – ‘n uitdrukking is van die misterie van die “opstanding” en die eerbiedvolle versigtigheid waarmee daar oor die Goddelike misterie gepraat moet word.

In dié verband moet daarop gewys word dat van die klaers van mening is dat prof Müller juis nie ‘n én-én-benadering volg nie, maar ‘n óf-óf-benadering voorstaan. Dit word gegrond op ‘n stelling in die aangeklaagde se boek “Opstanding” en die volgende aanhaling word gebruik as stawing daarvan: “Of jy nou ‘metafories glo” en of jy ‘letterlik glo’, uiteindelik is die vraag of jy saam met Petrus bely dat Jesus die Christus is, die Een wat God se hart vir ons oopmaak en waardeur ons gered kan word.”

Die kommissie is van oordeel dat die aanhaling nie op teologiese beredenering en begronding dui nie, maar bloot ‘n manier van segging is om dit wat voorafgaan in die betrokke gedeelte van die boek (“om van geloof ‘n dwingende sisteem te probeer maak waarin almal ewe netjies moet inpas”) in verband te bring met die diepste betekenis van Jesus die Christus. Anders gestel: dit was nie bedoeling van die betrokke gedeelte, of die boek “Opstanding” in sy geheel, om die kwessie van ‘n én-én-benadering teenoor ‘n óf-óf-benadering te stel en te beredeneer nie. Dit gaan in die tersaaklike gedeelte veel eerder oor ‘n houding van verdraagsaamheid oor mense se geloofsvariasies.

(ii) Prof Müller se onwilligheid om ‘n presies-voorgeskrewe formulering oor Jesus se opstanding / opwekking uit die dood te gebruik

‘n Kenmerkende aspek van die klaers se klagtestyl is die aandrang op “presiese formulering”, byvoorbeeld oor die opstanding/opwekking van Jesus uit die dood.

Die klaers se interpretasie is dat prof Müller se onwilligheid om dié saak te verwoord volgens die klaers se gekose presiese formulering daarop neerkom dat hy nie werklik in die liggaamlike opstanding van Christus glo nie. Die klaers dring daarop aan dat sy belydenis bepaalde woorde móét insluit; soos by voorbeeld liggaamlik, fisies en histories.

Een klaer (mnr Mulder) se siening is dat die aangeklaagde fouteer as hy die belydenisskrifte se uitsprake oor die opstanding as “ekonomies” beskryf. Volgens mnr Mulder is die Belydenisskrifte baie duidelik en kan dit nie as “ekonomies” beskryf word nie. Sy beswaar kom daarop neer dat die vertolking van die belydenisskrifte – as sou dit “ekonomiese (beknopte) beskrywings” bied – beweegruimte skep en dus té akkomoderend sou wees teenoor diegene wat nie in ‘n letterlike liggaamlike opstanding glo nie. Daaruit maak die klaers dan die afleiding dat prof Müller self die (liggaamlike) opstanding ontken weens sy akkommoderende houding.

In sy respons het prof Müller aangetoon dat hy in die liggaamlike opstanding van Jesus glo en dit bely, maar dat hy dit nie in die klaers se presiese woorde wil weergee nie, omdat die misterie van die opstanding nie in ons taalkategorieë só presies vasgevang kan word nie.

Die kommissie is van mening dat die aandrang op ‘n presies-voorgeskrewe formulering waarin bepaalde woorde in samehang gebruik móét word om geloofsuitdrukkend te wees:
a) nie rekening hou met die feit dat teoloë deur die eeue heen juis oor die misterie van die opstanding met terughoudendheid praat, en dat die vaste formulering wat die klaers verlang, die indruk skep dat so ‘n presiese beskrywing haalbaar is, en dat dit self as toetssteen aangewend behoort te word vir regsinnigheid.
b) nie in ooreenstemming is met die gees van die uitsprake van die Algemene Sinode in verband met belydenisskrifte nie
c) vir ‘n formulering vra sonder om die huidige en kontekstuele betekenisse van woorde soos “histories” of “fisies” te verreken.

(iii) Prof Müller se stellings rondom sy eie geloofbelewing

Die klaers vind dit onaanvaarbaar dat ‘n professor in teologie te kenne kan gee dat hy met sy eie geloof worstel. Dat hy byvoorbeeld in sy boek “Opstanding” aandui dat hy glo, maar dit soms ook moeilik vind om te glo, is vir die klaers onaanvaarbaar.

In samehang met dié beswaar word prof Müller se gebruik van die begrippe oriëntasie-disoriëntasie-heroriëntasie (wat volgens Walter Brueggemann patroonmatig by talle Psalms voorkom) bevraagteken. Die kommissie is onder die indruk dat die klaers dié skema vertolk as iets wat tot ‘n bepaalde eindpunt moet lei waarmee ‘n bestemming bereik is. Prof Müller het aangetoon dat hy dié konsepte gebruik as “plekke” (mens kan dit ook verstaan as rekursiewe punktuasies) wat by herhaling in die spirituele reis voorkom. Hierdie fasette werk interaktief en is nie finale, diskrete “bestemmings” nie.

Vir die kommissie is dit duidelik dat prof Müller se gebruik van die Brueggemann-konsepte nie te make het met dogmatiese standpuntinname nie, maar met deurlopende geloofservarings van gelowiges soos wat dit onder andere (volgens Brueggemann) in talle Psalms weerspieël word. Een van die “oomblikke” van oriëntasie / disoriëntasie / heroriëntasie kan nie vertolk word as ‘n weergawe van sy teologies standpunt nie, maar eerder as ‘n moment in die reis. In sy boek toon prof Müller aan dat dié ervaringe afwisselend is en op mekaar inspeel. Opmerklik dat hy dikwels twee van die drie saam gebruik en dikwels nog ‘n vraagteken ook byvoeg. (byvoorbeeld: “Disoriëntasie/ heroriëntasie?”)

Verder bevraagteken van die klaers (veral ds Maritz en dr Grey) prof Müller se stellings dat hy nie net glo nie, maar ook “probeer glo.” Volgens ds Maritz is daar by die wedergeboorte soveel sekerheid dat dit dié soort onsekerhede uitsluit. Dit impliseer dat die klaers geloof oënskynlik beskou as iets waarbinne daar geen ruimte is vir “probeer glo”, soos dit kan manifesteer in geloofsworsteling, twyfel of bevraagtekening nie.

Die kommissie is van oordeel dat die klaers se eise rondom geloof nie genoegsaam rekening hou met die feit dat die geloofspad nie daagliks dieselfde is nie, en dat die menslike geloofsdagboek – soos ‘n reis – verskillende en uiteenlopende inskrywings kan bevat.

(iv) Prof Müller se siening dat teologiese uitsprake voorlopig van aard is

Prof Müller se uitgangspunt dat teologiese uitsprake as “voorlopig” beskou behoort te word,en dus nie as absoluut en finaal nie, word deur een klaer (mnr. Mulder) verstaan as dat prof Müller die uniekheid /opstanding van Jesus ook as iets “voorlopig” beskou.

Prof Müller het egter aangetoon dat daar onderskei moet word tussen ‘n saak (soos die uniekheid van Christus) en ons teologiese uitsprake oor die saak, en dat hy nie die uniekheid van Christus as iets voorlopig sien nie, maar dat ons teologiese uitsprake daaroor voorlopig is.

Die kommissie is van oordeel dat dit onlogies en onhoudbaar is om prof Müller se stellings rondom die voorlopigheid van teologiese uitsprake in die algemeen terug te voer na die saak van die opstanding spesifiek – asof die voorlopigheid van ons uitsprake die werklikheid van die opstanding bevraagteken.

Die kommissie is van oordeel dat die aangeklaagde se standpunt in ooreenstemming is met die uitspraak die Algemene Sinode (1998) dat “die beoefening van teologie altyd tydgebonde, feilbare mensewerk is.”
In dié verband wys die Algemene Sinode (2002) verder daarop dat “terwyl ons vrymoedig in ons getuienis oor ons geloof kan wees, ons maar net ten dele oor God en Sy Woord kan praat. Ons het God nie in ons greep nie en ons het ook nie klaar gedink oor die Skrif en ons ge¬loofs¬inhoud nie. Ons worstel saam om te probeer om die wonder van sy bemoeienis met ons te verwoord en te verkondig.”

4.1.3 Insake onderafdeling 3 van die klag
Prof Müller se siening van die satan en die bose is in stryd met een of meer van die Drie Formuliere van Eenheid.
&
4.1.4 Insake onderafdeling 4 van die klag
Prof Müller se siening van Jesus se maagdelike geboorte is in stryd met een of meer van die Drie Formuliere van Eenheid.

Oor hierdie twee klagtes het die klaers kortliks betoog.

Wat onderafdelings 3 en 4 betref, het prof Müller nie geantwoord nie en volstaan daarmee, soos gemeld by punt 3, dat hy hom nie daaroor uitgespreek het nie, en dat die verwysings in die bronne nie standpuntinname verteenwoordig nie.

Ná aanhoor en bestudering van die betoë rondom genoemde twee onderafdelings, het die kommissie die aangeklaagde gelyk gegee dat daar geen getuienis is dat hy uitsprake oor die twee aangeleenthede gemaak het nie.

As die klaers byvoorbeeld met betrekking tot die maagdelike geboorte verwys na die boek “Opstanding” (p. 68), waar na die maagdelike geboorte verwys word, is dit duidelik dat prof Müller daar geen standpunt stel oor die maagdelike geboorte nie. Dit word bloot as voorbeeld gebruik om aan te toon dat die Jesus Seminaar-verteenwoordigers se bevindings nie die toets van wetenskaplikheid deurstaan nie.

Die klaers het ná prof Müller se betoog ook geen verdere vrae oor dié twee aspekte gestel nie (met die uitsondering van een vraag oor ‘n teoloog wat die maagdelike geboorte sou ontken) en ook in hul repliek (met uitsondering van een terloopse verwysing) nie daarop teruggekom nie.

Ná aanhoor van die getuienis van die klaers en hul verwysings na bronne ter stawing van hul klagtes, en ná aanhoor van prof Müller se verduidelikings, en ook sy belydenis waarin hy hom onomwonde vereenselwig met die legitimasie-eed, het die kommissie eenparig bevind dat
– die klagte wat aanhangig gemaak is teen prof Müller, nie gehandhaaf kan word nie, en
– dat daar geen basis is vir die klag dat hy ontrou aan sy ampseed was nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui