Die grootste evangelis in Japan – Johann Sebastian Bach

Kyk ook:

Die grootste evangelis in Japan is…

deur Stephan Joubert

13 April 2020

Met toestemming van Lux Verbi, deel ek graag die volgende verhaal wat myself skoongeboul het. Ek het dit geskryf in “Kry Styl Jesus S’n” (2019):

Die vroeë kerk, en miljoene ander Christene deur die eeue, se helder geloof was magneties mooi. Hulle het inderdaad ’n gesonde infeksie veroorsaak, daardie soort waaroor C. S. Lewis skryf in sy klassieke werk ‘Mere Christianity:’ (1952) “He (Christ) came to this world and became a man in order to spread to other men the kind of life He has—by what I call ‘good infection.’” Die uitdaging voor ons is hoe ons almal ’n gesonde infeksie kan veroorsaak vir die Here. En hoe ons dit gaan regkry op stylvolle maniere, soos tans in Japan.

Van Japan gepraat, weet jy wie is op die oomblik die grootste evangelis daar? Niemand minder nie as die bekende komponis Johann Sebastian Bach (1685-1750). Bykans 250 jaar na sy dood oorspoel sy musiek Japan op ongekende maniere. Nog meer, dit stel baie Japanese bekend aan Jesus. Bach was sedert 1723 die kantor van die St Thomaskerk in Leipzig waar hy onder andere musiek gekomponeer het vir verskillende kerke. Dit is veral Bach se fugas wat sterk resoneer met die Japanese met hulle klem op orde en skoonheid. Daarom is hulle so nuuskierig oor die inhoud van sy musiek. Uwe Siemon–Netto gewese godsdiensredakteur van United Press International, het interessante ondersoeke hieroor gedoen. Hy haal onder andere vir Masashi Masuda, ’n dosent in teologie by die Sophia Universiteit in Tokio aan wat dit bevestig: “Listening to Bach’s Goldberg Variations first aroused my interest in Christianity.” Yuko Maruyama, ’n Japanese orrelis wat tans in Minneapolis woon, vertel dat sy ’n stoere Boeddhis was, maar sy het nou ’n Christen geword. Dit is alles te danke aan Bach: “Bach introduced me to God, Jesus and Christianity.” Dalk is dit hoekom die Sweedse aartsbiskop Nathan Söderblom (1866-1931), Bach se kantates lank gelede reeds die Vyfde Evangelie genoem het.

Simon-Netto vertel van ’n onderhoud wat hy 25 jaar tevore met die ‘Leipzig Thomanerchor,’ gehad het waarvan Bach eeue gelede die leier was, en waarvan die meeste huidige lede uit ateïstiese huise afkomstige was. “Is it possible to sing Bach without faith?” I asked them.

“Probably not,” they replied, “but we do have faith. Bach has worked as a missionary among all of us.”

Presies dit gebeur tans in Japan, alomweë bekend as een van die mees gesekulariseerde lande op aarde. Twee derdes van Japanese is nie godsdienstig nie. Boeddhisme en Sjintoïsme het geen bekoring meer vir moderne Japanese nie. Hulle tempels is slegs toeriste-attraksies. Tog stel jonger Japanese al hoe meer belang in Bach se musiek, asook in Jesus oor wie hierdie musikale genie onder andere ’n aangrypende Matteus-Passie en ’n Johannes-Passie geskryf het.

“I fit into this category,” sê Azusa, ’n 25 jarige Japanese regstudent. Simon-Netto vertel hoe hierdie dame dadelik vir hom gewys het sy luister op haar selfoon na Bach se kantate ‘Vergnügte Ruh’, beliebte Seelenlust’ waarvan die lirieke handel oor God se liefde en van die rus wat Hy gee. Dit spreek haar diep aan. Masaaki Suzuki, die dirigent van die ‘Bach Collegium Japan.’ is tans een van die groot kragte agter die Bach-renaissance in Japan. Hy vertel vir Siemon-Netto: “Our language does not even have an appropriate word for hope. We either use ibo, meaning desire, or nozomi, which describes something unattainable.” Suzuki sê dat hy na elke opvoering van Bach se musiek met massas mense moet gesels oor die inhoud hiervan. “And then they inevitably ask me to explain to them what ‘hope’ means to Christians.” Suzuki sien homself as ’n sendeling: “I am spreading Bach’s message, which is a biblical one.”

Met enigiets tot twee honderd Bach kore regoor Japan en jaarlikse uitvoerings van die Matteus Passie op Goeie Vrydag wat deur duisende mense bygewoon word, is die Here daar besig met ’n gesonde infeksie. Geen wonder nie dat Yoshikazu Tokuzen, die rektor van Japan se Lutherse Seminarium, vir Johann Sebastian Bach “a vehicle of the Holy Spirit” noem. Hy vertel dat die Bach konsert op Goeie Vrydag veral vir homself roerend is: “It is very moving to watch this enormous crowd follow the Japanese translation of the German lyrics word for word. Where else in the world do you find non–Christians so engrossed in biblical texts?”

Wat ’n getuienis. Dink bietjie na oor hoe die Here jou kan gebruik in hierdie dae!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui