Wie is Charles Templeton?

Kyk ook:

Charles Templeton (1915-2001) was ’n baie prominente Amerikaanse evangelis in die 1940’s. Hy was ’n tydgenoot van die bekende Billy Graham en het selfs meer “sukses” behaal as Graham. In 1946 het die Nasionale Assosiasie van Evangeliese Christene (National Association of Evangelicals) hom gelys as een van die mense wat die beste deur God gebruik. Volgens koerante en tydskrifte het Templeton 150 bekeerlinge per byeenkoms gehad. In Evansville, Indiana, was die totale bywoning gedurende die veldtog van twee weke 91000 uit ’n bevolking van 128000. Kerkbywoning het met 17% gestyg.

In daardie dae het al hoe meer wetenskaplikes evolusie begin aanvaar en dit het ’n twyfel by hom begin. Hy het egter geen formele opleiding gehad nie en in 1948 besluit hy om teologie te studeer by Princeton Teologiese Seminarium. In ’n gesprek met Billy Graham het hy gesê:

Maar Billy, dit is eenvoudig nie meer moontlik om byvoorbeeld die Bybelse verhaal van die skepping te glo nie. Die wêreld is nie ’n paar duisend jaar gelede oor ’n periode van dae geskep nie; dit het oor miljoene jare ontwikkel. Dit is nie ’n kwessie van spekulasie nie; dit is bewysbare feit.

Princeton het egter evolusie met die Bybel probeer versoen en dit het daartoe gelei dat Templeton finaal sy geloof verloor het. Hy het onder andere gesê:

“Waarom vereis God se groot ontwerp wesens met tande wat ontwerp is om rugwerwels pap te druk of vlees te skeur, kloue gevorm om te gryp en te skeur, gif om te verlam, bekke om bloed te suig, kronkels om te wurg en versmoor – selfs kake wat kan uithaak om prooi heel en lewendig in te sluk?”
“Die natuur is, in Tennyson se aanskoulike frase, ‘rooi in tand en klou’, en die lewe is ’n karnaval van bloed.”
“Hoe kan ’n liefdevolle en almagtige God sulke gruwels skep?”

In 1996 publiseer hy sy boek Farewell to God waarin hy onder andere skryf:

Ek is teen die Christelike Kerk gekant, want ten spyte vir al die goeie wat dit soms doen, gee dit voor om in die Naam van God te praat en verkondig dit oortuigings wat verouderd, aantoonbaar onwaar, en dikwels skadelik is vir individue en die samelewing.

In 2001 sterf hy as ’n ongelowige.

Bron

1 thought on “Wie is Charles Templeton?”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui